Dinsdag 28 Januarie 2014

Eier rolletjie ... lig en verfrissend

Vannaand was ek nie regtig lus vir baie kos maak nie maar ek wou nogtans iets lekker eet. Ek het 'n lekker varkpens (pork belly) in die oond gehad vir so paar ure en hy lyk lekker. Ryk en krakerig is meer gepas. Terwyl ek so na die vark staar besef ek net dat nou moet 'n man ligloop want hier kom 'n groot etery.

Terwyl ek so na die varkie kyk, draai my kop soos 'n top en ek besef dat dis so mooi varkie dat ek gerus maar ook so bietjie kan uithang met die bykossie. Al wat ek geweet het was dat ek verseker nie stysel gaan maak nie. Krakerige goudbruin aartappels sou mos nou die tradisionele keuse gewees het maar o wee ... dis nie goed vir die gewig nie.

So besluit ek toe mos maar om te eksperimenteer. Poppie (Ek noem my vroutjie Poppie ... ag man ek noem sommer enige meisiemens Poppie) loer my so skuins aan toe ek die pak gemengde blare uit die yskas haal. Sy wil vra maar ek sien sy sien ek is diep ingedagte en het 'n wille mes in my hande, so sy bly maar stil.

Hierdie gaan man kos wees wat vrouens ook like.

Ek vat so handvol blare en bondel dit op en kerf dit fyn. Volgende strooi ek gemengde kruie oor, so blertsie soet mosterd, die wat jy met kondensmelk maak, swartpeper en bietjie sout. Meng die spulletjie mooi en plaas die bakkie in die yskas. Nou is Poppie eers verwonderd want dit lyk vir haar duidelik dis darem bietjie skraps vir slaai vir 2 mense.



Volgende 4 eiers, klits dit met so blerts room en bietjie melk ... ek soek die beslag redelik dun. Bietjie speserye en ek laat staan hom so 10 minute. Ek sit my pannekoek pan op medium hitte met so blertsie olie en 'n stukkie botter. Toe die botter lekker begin borrel toe skep ek die beslag in met a soplepel en bedek die bodem van die pan net mooi. Jy wil die ommelet regtig so dun as moontlik hĂȘ.





Hou hom nou mooi dop ... sodra die bokant droog lyk dan gly jy dit uit op 'n bord.



Laat hom nou maar goed koud word. Kamertemperatuur is wat jy soek want anders gaan die eier se hitte jou slaai lelik laat verlep en dis nie mooi om na te kyk nie.




Volgende smeer ek so vier teelepels vol van die slaai oor die helfte van die ommelet, sprinkel so bietjie gerasperde kaas oor en rol hom versigtig maar lekker styf op van die gevulde kant. Soos a swiss roll.









Jy kan regtig enigeiets in die rolletjie sit, fyn biltong, ham, salm, roomkaas, vissmeer, marmite en roomkaas, peppadew en roomkaas ... net wat jou hart begeer.







Dis lekker smaaklik en vullend maar nie swaar nie.

Geniet dit.

PS ... As jy van my stories hou, wees so gaaf om dit te deel en my te "Follow" op Google + ... die knoppies is hier langs jou.

Tot ek weer honger is ... onthou, die lewe is te kort om smaaklose kos te eet.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.