Maandag 27 Januarie 2014

Kom ons maak Vetkoek ...



As daar nou een ding is sekerlik menige boerseun of dogter se mond kan laat water, dan moet dit vetkoek wees.

Op enige stadium kan jy maar toets en net die woord VETKOEK noem in gesleskap en dadelik gaan daar 'n paar wees wat begin vertel van hulle kinderdae en hulle ouma of hulle ma se vetkoek.


Vir my sal dit altyd my ouma se vetkoek wees wat my laat glimlag ... so lekker gelerige deeg korsie wat so taai en krakerig was met sulke groot rysgate in die middel in die sagte deel. Nouja ek is seker dit was gekoppel aan die suurdeeg wat sy gebruik het en die hele knie proses want sy het vetkoek gemaak van die brood deeg wat sy geknie het.




Ek het nou al 'n paar keer gesien mense vra op FB oor hoe kry mens die hol vetkoeke wat so lekker vulsels kan insluk.

Vir my is vetkoek en mince iets wat ek kan eet sonder ophou. Maar ek hou niks van die brood in die vetkoek nie. So ek het dit my mission gemaak om die meeste kors vir die minste deeg te kry ... dit is mos maar daai kors wat vetkoek so lekker laat maak.

Die fotos wat ek hier gebruik is almal van vetkoek wat met bruinbrood deeg gemaak is. Dit werk dieselfde vir witbrood behalwe dat die witbrood gouer bruin bak.

Om lekker hol vetkoeke te kry gaan jy benodig ...
1. SPAR brood deeg ... wit of bruin. Wat veral lekker werk is as jy die deeg koop en so twee dae in jou yskas los voor jy dit gebruik.
2. Diep olie vir die braai ... ek gebruik 'n deep fryer en die temperatuur is op 170 C ... as jy dit te warm maak dan word die vetkoeke donker voor dit lekker crispy is.

So maak mens ...
Gooi meel op 'n groot sny plank en dop die deeg op die plank uit ... jy kan dit natuurlik ook op jou werk oppervlak doen.
Druk nou die bal deeg so plat as wat jy kan met jou hande. Strooi die bokant goed met meel en begin rol met a koekroller.
Nou moet jy nie bang wees nie, jy soek daai deeg so plat as wat jy dit kan kry. As jou deeg baie vars is sal jy nogal sukkel en gereeld meel moet strooi.

My plank is lekker groot en ek probeer hom volmaak met die deeg.
As klaar is met die rol werk dan strooi ek gewoonlik nog so bietjie meel sodat ek my hand maklik oor die deeg kan vryf sonder dat hy vassit.

Nou kan jy maak soos jy smaak ... jy kan rondes maak met koppie of a piering of a glas .... ek maak nie rondes nie want dit veroorsaak teveel deeg afval. Ek begin deur die rant te sny sodat ek min of meer a goeie reghoek kry.

Die dun repies wat ek afsny op die rante snipper ek in stukkies en gooi hulle eerste in die olie ... jy moet hulle bly roer en onder dompel, jy kry dan sulke lekker nuggets wat ek sommer in a diepbord uitkeer en vol suiker gooi ... lekker peusel happie terwyl ons kos maak.

Sit nou jou stukke in die olie ... dis belangrik dat jy nie die pan overcrowd nie ... sodra jy die "vel" in die olie gooi sink hy bodem toe en kom dadelik op ... nou moet jy jy hom so paar keer onderdompel ... ek gebruik sommer my braai tang ... wees net versigtig dat jy die ding nie stukkend steek nie want hy gaan opblaas soos ballon en met elke dompeling pof hy net meer totdat die kors verhard het.

As jy hom stukkend steek staan jy 'n kans dat die vetkoek baie olierig gaan raak.

Laat hom verbruin aan die eenkant en dop hom om. As jy jou repe te dun sny gaan jy sukkel om hom om te dop want van die uitpof raak hy omper rond soos a pyp en die bokant gaan baie lig wees en wil bly om dop.

Wat lekker is van die manier is dat jy regtig jou porsies mooi kan bepaal ... groot vir die manne en kleiner vir die dames.

As hulle lekker bruin is, haal uit en gooi die volgende klompie in ... moenie jou pan te vol pak nie want dan gaan jy sukkel.

Hierdie is 'n flatervrye manier om elke keer lekker hol vetkoeke te kry en jy eindig op met die heerlikste "korspakkies" vir al die lekker vulsels wat jy wil ingooi. 

As ek mince insit dan sny ek net so slootjie in die eenkant en skep die vulsel in ... as ek worsbroodjies maak dan sny ek oop en pak die wors en goeters in.
Heerlike porsie lekker vetkoek ... vinnig en maklik.

Kyk mooi op die foto ... feitlik geen brood deeg binne nie ... net 'n kors.

Geniet dit.

Totdat die mense die vrae hier vra sal ek maar die goed invoeg:
Sharon: "Colyn, nou sien ek kans om vetkoek te bak en nie flops me maak nie. Dankie gaan die 2 dae in die yskas prober. Wil net seker maak oor hoe dik omtrent die deeg moet wees."
Suzy: "as jy hom plat uitgerol het moet hy nie dan weer rys nie, of bak jy hom dadelik."

Antwoord:
Jy rol dit so plat as wat jy kan ... hulle gaan natuurlik wil opstaan en wat jy wil verhoed is dat dit dikker word as omtrent so sigaret dikte ... sorry vir die vergelyking maar dis al wat nou vinnig aan kon dink. 

Die rede vir die veroudering is dan is die kanse skraler dat dit te kwaai probeer rys na die uitrol.

As jy daardie dun vlenters in die olie gooi is dit belangrik dat jy net wag tot hy bo dryf en dan dip jy hom so onder die olie in ... met die dip slag sal jy dadelik sien hoe begin hy op pof.

1 opmerking:

  1. Na hierdie wonderlike verduideliking kan niemand meer 'flops' maak nie! Dankie Colyn dis puik!

    AntwoordVee uit

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.