Maandag 27 Januarie 2014

Skaapnek - Colyn maak Man Kos gaar



Skaapnek ... Man kos ... iets wat die meeste van ons ken en baie van hou.

Heerlike skaapnek
Die mees algemene manier is om die nek in skywe te sny (chops) en dan 'n kookpot/bredie van dit te maak wat wissel van kerrie tot geurige Noord Afrika spesery profielle.

Maar as jy nou in die Karoo kom dan sien jy dit bietjie anders op jou bord. Die hele nek, bruin gebak in die oond, sag en sappig.




Vir my is dit 'n MOET STOP as ek deur Victoria Wes gaan ... die Veld Merino Klub se Skaapnek. Maar nouja, Vic Wes is vêr en 'n man kan darem nie net eenmaal elke wan en dan skaapnek eet nie.

So kom dit dan dat ek die saak staan en besin terwyl ek deur die glas loer na die bak met skaapnekke by my slagter. Ek wik en weeg en besluit op een ... ek soek nie een wat omring is deur daai dik vetlaag nie want dis hopeloos te geil vir wat ek wil doen. Met sorg kies ek enetjie, hy is so net onder 1 kg. Die slagter haal hom van die skaal af en kies sommer dadelik koers na die saag toe.

"Hokaai ... ek soek hom net so heel !"

Die man loer my aan met so windskeef keep op sy voorkop en wyk van die saag pad af na die verpakking stasie toe.

Nouja ... en so beland ek in my kombuis met hierdie pragstuk skaapnek. Vir 'n rukkie staan ek en wonder, stoompot of nie .... neewat dis nog vroeg en ek dink hoeka die stoompot gaan my beroof van ietsie.

Doodgewone pot ... half vol water en met bietjie wortel, uie, aartappel en spesery in dit. Ek gooi ook so 2 groot teelepels van Ina Paarman se Chicken Stock poeier in die water.

Kook hom eers mooi sag
Maak seker die stuk wat bokant die water uitsteek is goed getooi in die speserye en toe gooi ek die skil van een lemoen ook in die pot. Laaste strooi ek so teelepel suiker oor die nekkie se vetkant en a knypie growwe sout ... alles net om die vetjie voor te berei vir wat kom ...

Sit die vuur op sy laagste en maak die deksel toe ... nou moet daai skaap en al die ander goedjies maar saam simmereer tot hulle mekaar baie goed verstaan.




Twee en a half uur later ... en daar lê die nekkie nou met so bree glimlag op sy bek ... sag en sappig.
Nou plaas ek die nekkie op a rakkie in 'n oondbakkie ... lawe hom so bietjie met suurlemoen, knertsie heuning en gooi my geliefde "dry rub" mildelik oor.


Bruin gebak en lekker
Ek gooi water in die bak en sit sommer die gebruikte suurlemoen in die water. 

Die water is hoofsaaklik daar om te keer dat ek nie swets en skel om die pan skoon te kry later vannaand nie maar dit help verseker om die nekkie vogtig te hou terwyl die oond die vereiste korsie op die skapie sit.

1 uur by 170 C in my oond en siedaar ... gebakte skaapnek soos die Karoo mense hom maak.






Moenie karring terwyl die nekkie kook nie ... elke keer as jy die pot se deksel optel dan verdamp daar so knertsie lekkerte.

Vir porsies kan jy werk op so 3 persone vir 2 nekke maar as die manne honger is sal een nek genoeg wees vir een man.


PS ... Die volgende dag, so by middel oggend, dan vat jy nou jou knipmes, 'n lekker beker koffie en dan gaan sit jy êrens op 'n plekkie waar jou siel tot rus kan kom en jy kerf die oorblywende vleisies van daai string bene af ... 

Stukkie vir stukkie totdat hy bleekwit vir jou staar ... dis nou die hond wat bleekwit word.

Geniet dit.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.