Sondag 16 Maart 2014

Karringmelk Beskuit - beskuit wat my hart laat sing ...

Seker elke volbloed Afrikaner ken beskuit en het dit al geëet ... die wat nog nie het nie beter 'n plan maak want hierdie is volkskos sonder weerga ... wel, miskien 2de want biltong is mos eintlik die een sonder weerga.

Beskuit besig om te droog.
Soos julle almal seker teen die tyd weet, het ek maar eers so 18 maande terug ernstig begin bak, voor daardie tyd het ek die oond net vir pasteie en brood gebruik. Ek het geglo dat bak iets is wat ek nie sal regkry nie.

Maar soos met omtrent alles in my lewe het ek die ding mooi bedink, gaan oplees oor oonde en hulle dinge en toe maar begin.

Na so paar koeke en terte het ek besluit dat beskuit is die volgende op my lys.

Poppie kom hier aan met 'n vriendin se ekstra spesiale geheime resep vir gesondheids beskuit en ek staar na die lys ... hel, dis 'n elle lange lys en ek loer weer na die Woolworths pakkie Muesli beskuit toe en dink dat dit baie makliker is om te koop.

Maar nouja, Poppie gee my so skewe kyk en in haar houding en oë kan ek sien sy is lus om die woord "Chicken" te gebruik. Wel geen rooibloed man hou van daai woord nie, veral nie as dit na hom verwys nie.

So pak ek toe die resep en al wat ek kan sê is dat na 'n paar ure, baie swets en gebare taal is die beskuit gedoen. Sederdien het ek dit elke maand gebak want die hoeveelheid is net mooi genoeg om 'n maand te hou. Ek begin elke dag met 'n koppie koffie en beskuit en daarna 'n sigaret. Dan is ek reg vir die dag.

Al die tyd spook Karringmelk beskuit egter by my, dis een van die heerlikhede wat met wit meel gemaak word wat my nie sooibrand gee nie. Ek hou ook daarvan om dit droog te eet en in my dae toe ek nog diepsee hengel gedoen het, was dit die beskuit wat my derms bymekaar en op hulle plek gehou het.

Na drie pogings en drie resepte om karringmelk beskuit te bak wat gewissel het van totale klinkers tot redelike smaaklose klonte is ek toe op 'n plek waar ek wil handdoek ingooi. Ek lees elke artikel wat ek in die hande kan kry oor karringmelk beskuit en my kop spin soos 'n top om die een.

Hoe is dit moontlik dat iets wat vir ander so maklik is, my elke skoot onder die tafel in skop ?

So kom dit dan dat ek in die winkel staan en na die Karringmelk boksie staar. Ek sien daar is 'n resep op en dit lyk baie maklik. Ok, ek gaan dit probeer en as dit nie werk nie kan ek mos op hulle gaan braak op Facebook.

Karringmelk Beskuit - Danone Boksie

1 kg Bruismeel
5 ml Sout
200 ml Suiker
250 gr Botter
500 gr Karringmlk - 1 Boksie
1 Eier
25 ml Olie

180 Grade oond
Meng droë bestandele saam.
Vryf Botter in
Meng Eier, olie en karringmelk.
Meng nou die deeg goed.
Maak in balletjies en pak in oondpan.
Bak vir 45 minute.
Breek nou beskuite los en pak op oondplate om te droog.
Droog in koel oond vir sowat 5 ure.

TIP: Ek droog myne so vir 45 minute teen 120 C ... dit gee a lekker ligte rooster kleur aan die beskuit.
Dan draai ek die oond af na 70 C toe vir so 4 ure.
As jy nie wil balletjies maak nie, gooi so 1/2 koppie melk by om die deeg slapper te kry en druk dan in oondpan plat.

Die feit dat ek nou iemand het wat ek kan gaan uitskel as sake verkeerd loop gee my nuwe ywer en ek skraap die benodighede in my mandjie in.

By die huis staan ek voor die werksblad met al die bestandele mooi uitgepak en ek lees die resep mooi deur. Net daar toe klap realiteit my teen die kop. Die botter moet in die meel ingevryf word. Ek versuur sommer dadelik. Baie ondervinding het my geleer dat ek heeltemal te warmbloedig is vir die storie. My hande maak die meel en botter sommer in a japtrap een olirige gemors wat net eenvoudig nooit uitkom soos die bakkers vertel nie ... sanderig in tekstuur ... neewat, myne is modderig.

Terwyl ek so na die resep staar onthou ek 'n video wat ek eendag toevallig raakgesien het. Die vrou het vertel van haar stryd met warm hande en die deeg makery en toe gee sy raad ... raad wat ek vandag gaan volg. Sy het gewys hoe sy haar handmenger met die gewone klitser lemme aan gebruik om die botter en meel ding te doen.

Nouja ek gaan julle nie verder verveel met die storie nie maar al wat ek kan sê is dat dit werk. Vat so rukkie, 5 minute of so maar ek het 'n lieflike sanderige mengsel gekry. Ek gooi 'n teelepel ekstra bakpoeier by want ek vertrou die pakkies bruismeel nie heeltemal nie.

Volgende gaan die hele spul bymekaar en ek eindig met 'n lekker deeg ... nou vertel die resep ek moet balletjies maak en ek skud my kop, dis laat middag en ek het nie tyd vir dit nie. Ek gooi so half koppie melk by en kry die deeg so bietjie papper. Sit dit in 'n oondpan en sny die porsies met 'n mes.

45 Minute later is die beskuit uit die oond.

Ruik heerlik en ek breek die stukke op. Die snymerke in die begin het gehelp en so op 30 minute het ek dit weer uitgehaal en die merke net bevestig met 'n messie. My beskuit het ook baie mooi gerys ... omtrent verdubbel in hoogte.

Klaar gedroog en dit lyk mooi
Ek sit draad rakkies in 'n paar bakpanne en pak die beskuite uit om te droog. Die mengsel is nogal klam en vir 'n paar oomblikke wonder ek daaroor. Toe skop my broodbakker kop in en ek draai die oond op na 130 C toe.

Poppie frons ... "Wat maak jy nou ?"

Pragtige Karringmelk beskuit.
"Ek dink dit gaan lekker wees om die beskuit so klein bietjie te rooster aan die buitekante, behoort mooi te lyk en net so klein bietjie ekstra smaak te hê."

"Ja jong ... daar gaan jy alweer ... hou by die resep man !"

In die kassie
Ek glimlag maar net en sit die beskuit in die oond. Stel die wekker vir 45 minute en maak die deur toe. Toe die alarm afgaan maak ek die deur oop en die geur is wonderlik. Ek sien die ligte kleurtjie met die donker puntjies en my hart sing. Ek draai die oond af na 70 C toe en los die deur op 'n skrefie oop.

Ondervinding het my geleer dat ek nou maar kan ontspan en gaan werk. So kort na middernag behoort die beskuit reg te wees.

Wel dit was ook so ... kort na middernag, terwyl ek wag dat my stelsels die dag se rekonsiliasies afhandel, sit ek met 'n beker lekker koffie en 'n warm beskuit in my hand.

Hierdie beskuit het pragtig uitgekom vir my en ek is met 'n lied in my hart bed toe.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.



Lees ook gerus my Briekmerke Blog.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.