Dinsdag 22 April 2014

Hoender - 'n nuwe wenner in my kombuis

Kyk, daar is mos 'n ou gesegde wat lui ... "Mens is nooit te oud om te leer nie."

Die storie is so bietjie lank maar ek dink dis 'n mooi storie.

Vandag het ek dit weereens belewe. Die wat my ken sal ook weet dat ek nogal 'n ywerige ondersteuner is van Kokkedoor op Kyknet. Met die eerste reeks is daar so klein saadjie in my geplant en soos die reeks ontwikkel het, het die saadjie gegroei. Teen die einde van die reeks het die jong plantjie mooi stewig gestaan maar nognie mooi geweet wat hy gaan wees nie ... 'n boom of 'n bossie.

Die reeks is toe verby en my lewe gaan aan ... ek kook steeds met entoesiasme maar diep in my begin die plantjie plek plek die nerwe afskaaf. Ek het geweet ek wil beter wees maar nie regtig hoe nie.

Nou die internet is mos 'n vreemde ding by tye en baie maal dink ek die ding connect met ons innerlike gees sonder dat ons dit weet. So kom dit dan dat ek een oggend op 'n Taal Blad 'n gesprek raakloop wat heeltemal teen die normale beteulde goed gaan. En daar is 'n vrou wat gladnie op haar bek geval het nie. Sy vat daai manne aan met kwinkslae wat my laat ril van die lekkerte. Ek kon dit nie laat verbygaan nie en "Friend" haar toe.

Nou ek gaan nie die hele geskiedenis ophaal nie maar hier is so kort uittreksel ... dis alles op 19 Julie 2013.

Ons doen maar die gewone "introductions" en vra bietjie uit en sy maak die stelling ...

"ek sien jy is lief vir kook!"

Ek antwoord ...
"Jip ek love kook
En ek love bikes
En ek love fotografie."

Sy antwoord ...
"hahaha  nee ek love nie bikes nie hulle raas
ek neem fotos met my Nokia oor ek iets wil share so dit tel seker nie as fotografie nie!
maar ek kook m**r goed!"

Ek antwoord ...
"Aha ... maar dan kan ons mos lekker gesels oor dit.
Ek wil ook m**r goed kook ... ek leer nog."

Ons het nog so bietjie gechirp oor die kos en bikes en toe is dit klaar.

Nou soos dit maar op Facebook gaan hoor en sien ons niks weer van mekaar nie en toe byna op die dag na, twee maande later 18 September 2013 to pop my chat window oop ...

"Het jy ingeskryf vir Kokkedoor ?"

Ek antwoord ...
"Nee jong ... ek is maar net a huiskoker wat like om dinge te probeer"

Sy ...
"ek probeer maar weer."

Ek ...
"Sterkte vir jou ... ek is nou op a mission om my basic skills agtermekaar te kry."

Ons tjirp toe nog so bietjie en toe is dit klaar ... dis mos maar hoe chats op Facebook gaan.

So paar dae later toe roep sy my weer en ons gesels oor wat sy beplan vir die oudisie. Ek kan sommer sien sy is opgewonde en dit laat my lekker voel. Ek is mal oor mense met passie.

En toe op die 22 September 2013 gee sy my 'n kompliment wat my sommer emosioneel wou laat raak. Net 'n kort boodskappie wat ek eers laataand sien.

"Na ek met jou getjirp het, het ek n paar crucial adjustmens,gemaak. Dankie vir dit. Lekker om iemand te ken, wat deel sonder agenda."

Nouja die res is geskiedenis en sy het dit toe gemaak. Renette Vosloo - Kokkedoor 2014

Nou hoekom die stukkie geskiedenis ... wel dis omdat Renette my passie vir die kokery sonder baie inspanning erg gefokus het en my laat besef het dat daar is waarheid in die slagspreuk ...

"You can stay as you are or you can change ..."

Hierdie hele blog is basies geskoei op die inspirasie wat sy my gegee het en dit was vir my lekker om haar eerste resep op die Kokkedoor Bladsy te kry. Natuurlik kon ek dit nie vermy nie ... ek moes dit eenvoudig probeer.

So kom dit dan dat ek vannaand in my kombuis staan met haar resep op my Galaxy Note 3 en begin om die gemmersous te maak. Ja ek het met dit begin want die hoender is nou nie juis 'n uitdaging vir my nie ... ek kan die voëltjies op bykans enige manier gaarmaak.

Rou Gemmer
Eerste kom ek by die vars gemmer uit ... kyk die knollerige ding is mos 'n terduiwel om af te skil en die minder geduldige kokke rand die ding lelik aan. Soos met alles in my lewe is ek altyd opsoek na die beter manier om dinge te doen. Ek het eendag op 'n video gesien hoe 'n slim kok die gemmer in 'n japtrap met a lepel afskil. So ek sny die verlangde duim stuk af, skil dit en toe kerf ek dit op.

Skil met lepel
Ek eindig met die stokkies so bietjie dunner as vuurhoutjies en ek wonder ... my Poppie is nou nie eintlik een vir vreemde smake nie en ek kan al sien hoe sy die stokkies uit die sous gaan uitkrap.

Hier gaan ek nou 'n stokkie steek voor daai uitkrappery en die lang mes flits in die kombuislig. En daar lê nou 'n hopie klein blokkies ... Poppie gaan besig wees as sy dit probeer uitkrap ...

Kap in blokkies
Ek het die gemmer doelbewus eerste gedoen want die resep sê jy moet die suiker smelt en dan al die ander goed behalwe die botter bygooi. En soos die kok waarsku ... moenie jou oog van daai suiker af vat nie want dit gaan brand in 'n oogwink.

So ek het my gemmer reg en al die speserye en pynappel sap.

Ek besluit om liewer 'n pot te gebruik as 'n pan vir die storie want my instinkte het my vertel dat daai gesmelte suiker erg obsternaat gaan raak as ek die pynappel sap bygooi. En dit was ook so. Die karamel het net mooi niks daarvan gehou om skielik vol koue sap gegooi te word nie en het wild protesteer. So wees gewaarsku, die ding raak agressief.

Na Pynappelsap in die stroop in is
Wat my die meeste laat frons het was die feit dat die karamel sulke dik taai klonte in die sap gevorm het en terwyl ek dit so stadig bly roer met die houtlepel het ek net besef ... resepte behoort mens mos te vertel van die soort ding. Die plaat was nou op sy laagste soos die kok ook aanbeveel en kalmte keer terug in die pot. Skynbaar het die suiker maar oorgegee en behalwe dat hy homself in 'n krul getrek het is hulle nou kalm.

Die resep sê jy moet braai speserye ingooi maar ek het besluit ek gaan my gunsteling Portugese Hoender Rub gebruik. Die Rub het soos verwag van Portugese Hoender Speserye, heelwat chili in. Nou nie so dat dit jou mond verbrand nie maar net genoeg om so elke kort kort te sê "Hoezit !"

Heerlike Gemmer Karamel Sous
Na so paar minute se geduld en liefkosing met die houtlepel begin die klonte verdwyn en spoedig is daar 'n lekker dik stroperige sous in die pan. Ek sit die pan af en die deksel op die pot. Nou is dit ek en die hoender.

Nou is dit so dat ons almal al baie goed verstaan dat daar nie so ding is soos "underdone" hoender nie ... nee hoender is gaar of rou maar kan te gaar wees en dan is dit droog. Dis nou hierdie vrees vir rou wat gewoonlik daartoe lei dat ons die hoender oordoen. Ek gaan nou met julle deel hoe ek met hoender stukke werk as ek dit vir ete voorberei.

Nou daar is natuurlik puriste wat gaan frons maar dis hulle probleem. Ek gooi droë speserye op my hoenderstukke en dan gaan dit in 'n stomer in en in die mikrogolf oond. 12 minute. As dit daar uitkom dan is dit goed gaar maar baie sappig.

Uit die stomer uit en in die pan in
Nou gee ek dit weer so lekker opknapping met die speserye en dan pan toe. Ek gebruik my ou staatmaker, Ou Albert, en eers laat ek die pan mooi egalig opwarm. Dan gooi ek so bietjie olie in, so twee eetlepels en ek temper die olie met die gekose braai speserye.

Vir die hoender wil ek die pan darem nie te warm hê nie want ek soek so lekker korsie aan die stukkies. Ek het boudjies en dye gebruik.
Byna klaar. Net eenkeer omgedraai

So 5 minute en dan draai ek die hoender om ... en so 5 minute later is dit gaar. So jy het heerlike hoender in 20 minute ... ek hou van dit en die puriste moet maar eers kom proe voor hulle begin frons.

Ek het gekies om heel aartappel in die skil voor te sit ... dit het ek ook 'n plan mee ... 12 minute in die stomer en mikrogolf en dan verf ek die hele aartappel met olyfolie en sit dit in 'n oondpannetjie in die oond. Oond is op 210 C gestel en die rak is in die middel. 45 Minute en jy het die heerlikste aartappel met so lekker gebakte skil ... niks foelie of gaatjies in gestekery nie ... net stoom, olie en oond.

Ok nou is alles reg ... maar kom ek gee die program en tydlyn net terwille van duidelikheid.

1. Kerf die gemmer en meet al die ander bestandele uit en sit dit reg vir gebruik.
2. Sit die oond op 210 C
3. Sit die swaar pan reg op die stoof.
4. Sit die souspot op die stoof ... geen hitte.
5. Sit die hoenderstukke en die aartapples in die stomer. Mikrogolf vir 12 minute.
6. Gooi die suiker in die sous pot.
7. Sit die vuur aan onder die suiker en staan reg om die pot so dan en wan te kantel sodat die gesmelte karamel orals inkom. Moenie roer met a lepel of ding nie, self nie eers jou vinger nie.
8. Karamel is reg ... gooi pynappelsap, gemmer en speserye in die stroop in.
9. Sit stroop nou op baie lae hitte terwyl die karamel weer oplos. Nou moet jy die sousie liefkoos met 'n houtlepel.
10. Stomer is nou reg.
11. Olie die aartappels en sit dit in die oond.
12. Hou 'n ogie op die stroop. Sodra alles mooi opgelos is en die stroop lekker dik is, sit die plaat af ... die stroop kan nou niks oor kom nie en jy kan relax. Die aartappels het 45 minute nodig.
13. Nou het jy tyd om jou tafel te dek en jou lipstiek op te vars, ek gebruik nie lipstiek nie so ek vat maar a vinnige Camel.
14. 15 minute na die aartappels in die oond is, sit die plaat op lae hitte onder jou swaar pan.
15. Gooi olie en speserye in die pan en hou 'n ogie.
16. 15 minute voor die aartappels reg is ... sit die stroop op lae hitte.
17. Draai swaarpan se hitte op na medium
18. Pak jou hoenderstukke in die swaar pan ... ek sit ook 'n spatsel sif oor die pan.
19. 5 minute ... draai die hoender stukke om.
20. Roer die botter in die stroop in en sit die plaat af.
21. Sit jou hoederstukke op a bord om te rus.
22. Haal die aartappels uit die oond en sit op die bord.
23. Sit hoender op die bord.
24. Kloof die asrtappels en sit botter of suurroom in.
25. Gooi sous oor jou hoender.
26. Sprinkel gemaalde swartpeper op aartappel en garneer met pietersielie.

Hoender en Karamel Gemmer sous op die bord
En daar is dit ... heerlik. Smaakvol en ook meer stylvol as net sommer 'n stuk hoender.

As jy mooi beplan doen jy dit in so om en by 60 minute. Verseker nie kitskos nie maar dis die moeite werd.

Ek is baie in my skik met hierdie hoendertjie ... die Gemmersous is uit die boonste rakke en met so bietjie verbeelding kan jy deur die speserye wat jy insit, die laat werk met 'n groot verskeidenheid van vleis en wildsvleis.

Wat belangrik is, is dat jy die komponente een op sy eie goed proe en ervaar en dan sit jy alles bymekaar op een happie. Nou is waar jy die werkliheid van geur en smaak balansering gaan ervaar.

Hier is iets wat ek by 'n wynkenner geleer het ... as jy regtig al die smake en geure wil ervaar ... kou jou kos en dan maak jy jou mond net so effens oop en haal asem deur jou mond ... jy gaan aangenaam verras word.

In my geval het die beetslaai so lekker andersheid ingebring en die sous en speserye so bietjie afgekoel na die aanvanklke "Hoezit" ... die aartappel bring 'n aardsheid en as jy sluk dan luier daar so volronde smaak roompie op jou tong ... reg vir die volgende happie.

Hierdie ervaring was verseker 'n hoogtepunt in my kook lewe en ek voel vol moed vir wat ek nog wil doen in die kombuis.

Dit sal selfs lekker afgaan op 'n Boerie.

Kook lekker to ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy.

Hier is my Briekmerke Blog vir die wat van my stories hou.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.