Maandag 07 April 2014

Karringmelk Beskuit - Hier gaan ek alweer

So tydjie terug het ek die loflied van hierdie heerlikheid besing en vertel hoe ek myne gebak het. Hier is die skakel na die storie ... Karringmelk Beskuit ... Ek stel voor jy gaan lees dit ook as jy die resep soek en ek vertel daar hoe ek die ding gedoen het.

Karringmelk beskuit
Wel Vrydag het ek die laaste een geëet en dus moes ek Saterdag weer bak. DIt is my tweede rondte met hierdie resep en dit gaan vinniger as die eerste keer. So 45 minute na ek die beskuit in die oond gesit het staan ek en kyk na die baksel op die koelrak.

Klaar gedroog en reg vir die koffie
Hulle lyk goed en ek breek die blok op in beskuite en pak in die oond vir die droog proses. Weer dieselfde as laas en so 6 ure latere is dit alles oor en die beskuit is in die houer.

Dis mooi beskuite en hulle proe lekker. Ek soek die wat die donkerste uitgekom het en pak hulle in a sakkie vir my broer. Hy hou van brood en beskuit wat so bietjie "over done" is.

Later die aand sit ek voor my rekenaar met a beker koffie en 'n beskuit en my kop begin werk. Die wat my ken sal weet dat ek hierdie lelike streep in my het om 'n ding te doen tot ek dit reg kry en dan in plaas van om dit daar te laat, raak ek waaghalsig.

Vir my was daar twee dinge wat ek verseker wou aanspreek. Noudat ek die basiese resep regtig onder beheer het was dit tyd om te kom met so paar kinkels. Hierdie kinkel ding het in die verlede al lelik skeef geloop maar dit het ook aanleiding gegee tot baie lekker dinge.

Eerste ding wat ek wou verbeter was die intensiteit van die smaak van die beskuit. Tweede ding was om te kyk of ek nie so bietjie meer "gemoedsrus" in kon sit nie. Dis darem suiwer wit meel die en dit is nie so goed vir my nie.

So is dan ook dat ek vroeg Sondagoggend in die kombuis is. Poppie loer my so skeef aan ...

"Wat nou ... jy het mos gister beskuit gebak ?"

"Ja ek het maar ek wil iets anders probeer."

"Aggenee man ... die goed is mos lekker soos dit is ... wat wil jy nou weer aanvang ?"

Die hoof bestandele
Sy is baie skepties en ek neem haar nie eintlik kwalik nie want sy het al eerstehands ondervind hoe ek 'n goeie ding kan opvoeter met my kinkel stories. Aan die ander kant het sy ook al baie gesien en geproe hoe ek met 'n kinkel 'n ding kan laat spring. Maar nouja, my Poppie sien maar altyd die glas as halfleeg en ek is al gewoond daaraan.

Semels en Cranberries is sigbaar
Eerste vervang ek die karringmelk met "Amazi" ... dis mos dikmelk. Dit het baie meer intense geur en behoort die beskuit se smaak lekker te verhoog.

Volgende gooi ek 'n koppie en 'n half semels in die meel in. Ek gooi een teelepel bakpoeier by.

Dan vir die gesondheid verkrummel ek twee koppies Kellogs Special "K". Ek kap ook 'n half koppie gedroogde Cranberries fyn ... ek soek daai suur smaak.



Mooi baksel karringmelk beskuit
Dit verhoog die droë bestandele heelwat en ek gooi 100gr meer Amazi in en nog 'n eier.


Weereens verfrummel ek die botter in die meel in met my handmenger en toe gaan alles in die mengbak van my Kenwood Chef in met die deeg haak.

Semels is duidelik sigbaar
Nou moet jy maar geduldig wees want dis nie a vinnige proses nie en die menger doen sy ding op lae spoed. Op 'n stadium begin dit vir my lyke of die mengsel te droog gaan wees maak ek los die menger maar uit dat hy aangaan met sy werk.

En dan skielik begin die deeg teen die haak opklim en ek kan sien dis gladnie te droog nie. Nou moet hy maar aangaan want jy wil 'n goeie gladde deeg kry. Na sowat 8 minute klou omtrent die hele klomp deeg aan die haak vas en ek toets dit. Die gluten het mooi ontwikkel en die deeg kan redelik rek. Nou is dit reg vir die volgende stap.

In die vorige baksels het ek die deeg in die pan ingedruk en dan gesny, hierdie een gaan ek maar my luiheid los en die bolletjies maak soos die resep sê.

Nou vir die droogmaak
Op 25 minute draai ek die oond af van 180 na 160. Die beskuit is mooi ligbruin en ek is bang dat dit gaan te kwaai verdonker as ek die temperatuur nie afdraai nie.

Pragtig goudbruin en heerlik
45 Minute later en die beskuit is uit die oond uit. So met die oopbreek slag kan ek sommer sien die tekstuur is mooi en toets a stukkie. Di korsdeel is lekker en die sagte deel het baie meer smaak as die vorige baksel.

Nou weer oond toe vir die droogmaak deel ... 45 minute teen 120 C en die beskuite het a mooi ligte kleurtjie en ek draai die oond af na 60 C toe.

Na sowat 5 ure breek ek eenbeskuit middeldeur en voel dat daar reg in die middel nog so kolletjie is wat nognie heeltemal droog is nie.

Karringmelk Beskuit
Op 6 ure is ek tevrede en sit die oond af. Ek los die beskuit vir nog a uur in die oond om af te koel en toe haal ek die panne uit om heeltemal af te koel.

Soos gewoonlik is daar mos maar so paar stukke wat sleg gereek het tydens die uitmekaar maak proses en die goed trek my soos heuning 'n by trek.

Jis die beskuit is lekker. Die dikmelk werk verseker beter as karringmelk en die semels en Bran gee dit 'n lekker tekstuur.

Nouja ek het die beskuit goed getoets en ek moet sê ek is baie tevrede. Dit slurp die koffie netjies op en daar is duidelike geure en tekstuur.

Ek is tevrede en beskou my missie met karringmelk beskuit nou as afgehandel.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.