Sondag 13 April 2014

Varktjops - ek braai dit weer

Soos ek al voorheen gesê het ... ek hou baie van varktjops. Dis vir my 'n groot lekkerte en dit gee my oop die geleentheid om al my lekker konfyte wat ek maak, te gebruik want vir my werk mooi saam met so soetigheidjie.

So rukkie terug het ek 'n lang beskrywing gegee van hoe ek Varktjops gaar maak ... hier is die artikel.

Vannaand gaan ek nie die lang storie skryf nie want alles is reeds gesê in "Varktjops ... groot lekkerte."

Sny die vel mooi af.
Vir my begin die ding al daar in die vleiswinkel. Ek soek my chops mooi uit. Ek soek a mooi vetlagie maar nie te oordadig nie want dan betaal ek teveel vir vet.

Nou by die huis. Kry 'n lekker skerp mes en sny die speklaag en vel af van jou tjop af.

Soos jy kan sien op die foto, ek los darem so bietjie vet oor aan die tjop ... jis mens moet darem dit bykry as jy eet want wat is 'n vark tjoppie nou sonder die ou vetjie.


Vel gesny
Volgende sny ek die vel deur sodat dit blokkies vorm ... kyk na die foto. As jy nie 'n vlymskerp mes het nie kan jy dit knip met 'n kombuisskêr.









Speserye op
Nou gooi ek speserye op die vet repe. Hier kan jy gooi waarvan jy hou maar onthou, die pan gaan baie warm word en jy wil nie goed opgooi wat bitter kan raak as dit bietjie te warm kry nie.









Dan sit ek die spekrepe in my ysterpan ... die pan is koud. Sit die repe neer met die velkant op die pan bodem. Jy wil die vel eerste begin braai want hy gaan opkrul as hy warm raak en jy wil hom eerste so bietjie laat warm kry.

Ek gooi so twee eetlepels water in die pan en sit die vlam aan. Nou is nie 'n goeie tyd om rond te gaan loop in die tuin nie want jy moet jou oog op die vel en vet hou anders gaan dinge verkeerd loop.


Spek is in die koue pan

Die vel het nou begin braai

Klaar gebraai

Jy moenie toelaat dat die pan erg oorverhit en jou vet en speserye brand nie want nadat jy die vel repe uit die pan uitgehaal het gaan jy die tjops in dieselfde pan braai. Geur jou tjops soos jy daarvan hou en sit dit in die pan. Moenie die pan oorlaai nie want dan kook die tjops voordat hulle begin braai.

Vir my pan en stoof braai ek die tjops so 5 minute aan 'n kant.

Tjops is in die vet op die vuur

Lekker gebraai na 5 minute op die kant

En hier is die eindresultaat ... heerlike sappige varktjops met bros en krakerige velstroke. Nou kan jy gerus probeer om ietsie soets saam met die tjops te bedien.

Skep so twee etlepels appelkoos konfyt in a bakkie, gooi so bietjie gemaalde swartpeper, rissie poeier, blertsie balsamiese asyn en 'n halwe teelepel mosterd poeier by. Roer goed en mikrogolf so vir 2 minute. Heerlike soet/suur lekkerte saam met jou tjoppie.

Min dinge wat vir my so lekker is. Jy kan aartappels in enige vorm hier by bedien en ek het klein pampoentjies gemaak met kaneel en marshmallows.

Iets wat ek myself mee forseer deesdae is om nie sommer meer as drie soorte kos op die bord te sit nie. Dit verbloem te maklik die smake.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is die skakel na my ... FACEBOOK BLADSY

Hier is die skakel na my ... MAN KOS BLOG




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.