Saterdag 23 Augustus 2014

Wild - Bielie van 'n wilde Frikkadel

Vandag se storie gaan oor iets wat ny na aan die hart lê ... wildsvleis. Maar vandag gaan ek spesifiek oor maalvleis praat. Ons is gelukkig in die land om so baie wild te kan hê maar dis vir my so verstommend oor hoe min mense regtig wildsvleis eet. Sommiges is sommer neusoptrekkerig as dit by wildsvleis kom.

Danksy al die kookprogramme op televisie en op die radio is daar 'n groot oplewing in die belangstelling van kos voorberei.

Dit is vir my fantasties want mense soos Dine van Zyl, Hetta van Deventer Terblanche, Errieda du Toit en Anel Potgieter grou die ou hartskos resepte uit en sit dit voor ons neer. Wat my meer opgewonde maak is die feit dat dit in Afrikaans gedoen word. In Dine se jongste nuusbrief sê sy ...

"Ek weet jy praat Afrikaans. Ek weet jy praat dit dat die spoeg so spat. Dis reg so, ons taal het ʼn kwylbek klank."

Heerlike Man Kos
Wildsvleis is nie volksvreemd vir ons nie maar baie mense het 'n heeltemal verkeerde idee van hoe dit regtig proe. Iets wat my sommer rooi laat sien is as iemand vra ... "Hoe kry ek die wille smaak uit die vleis uit."

Goeiste mens, dis dan wild, hoe dink jy nou moet die smaak wees ... wil jy dit soos hoender of skaap laat proe ... dan is dit beter gaan koop hoender of skaap en gee die wildsvleis vir my.

Deesdae sien ek by baie winkels dat daar wildsvleis is. Party winkels het baie snitte, snitte wat ons ken uit die bees en skaap etery uit. Dis goed so want dit gee jou dadelik 'n aanduiding van watter rigting om in te slaan met die kokery.

Meeste plekke het maalvleis en die pryse is baie goed in vergelyking met skaap of bees. Iets wat jy moet onthou is dat wildsvleis as 'n reël nogal droog kan wees want daar is nie eintlik vet aan die bokke nie.

So koop ek toe 500 gram wilds maalvleis. Poppie loer my so onderlangs aan en ek kan sien sy is lus om te vra wat my plan met dit is maar sy bly liewer stil. Ok maar goed so want my Poppie is erg agterdogtig as dit by vreemde vleis kom. Sy kan egter maar ontspan, ek het 'n duidelike plan met die maalvleis.

By die huis gekom is dit reguit yskas toe met die bakkie vleis. Dis vroeg en ek wil die dis vir aandete maak.

Vanaand gaan ek 'n vleisbrood maak ... dis maar dieselfde ding soos 'n frikkadel maar die is net een helse groot frikkadel.

Nou die wat my ken weet dat ek nie baie spesifiek oor resepte skryf nie maar eerder oor hoe ek die ding gemaak het. Hierdie is maar weer dieselfde. Jy gaan die vleis geur met speserye waarvan jy hou en wat jy ken.

Man Kos Bielie van 'n wilde Frikkadel:

500 gr Wilds maalvleis
250 gr Hoender Hartjies
250 gr Repies Spek - Streaky Bacon
1 Ui in blokkies gekap.
1 Koppie Gedroogde Cranberries. (Sultanas werk ook)

Basiese Geurmiddels ...

1 Teelepel Gemaalde swartpeper
1 Teelepel Koemein
1 Teelepel Rissie vlokkies
1 Teelepel Robertsons Pimento Allspice
1 Teelepel Robertson Chicken Spice
1 Eetlepel Bruinsuiker
1 Eetlepel Worcestershire Sous

Eerstens moet jy die hartjies deurkyk en as jy van hulle sien wat nog so klossie aartjies aan het, sny dit af en gee vir die hond. Moenie die vet afsny nie want jy het dit nodig, die wildsvleis is baie maer.

Volgende pols die harte so twee of drie keer in jou voedselverwerker. Anders kan jy dit fyn kap met 'n skerp mes. Jy wil dit nie pap maak nie, net fyngekap.

Maalvleis mengsel
Hou jou spek eenkant en gooi al die ander goed saam in 'n mengbak. Nou is nie die tyd om vol fiemies te wees nie. Klim in met jou hande en meng die spulletjie baie goed. Werk dit met jou hande tot jy voel die die mengsel raak taai. Soos jy seker opgemerk het, ek gooi geen brood of eiers in nie, sommige mense noem dit bindmengsel maar ek dink dit is net goed wat jou van geur gaan beroof. As jy die vleis goed gemeng het sal dit mooi bind as jy die frikkadel begin maak.

Jy het ook seker opgelet dat ek geen melding van sout gemaak het nie. Dis doelbewus want baie van die goed wat ingegooi is het sout in.

Doen die toetsie
Nou vir 'n baie belangrike stap ... sit vir jou a klein pannetjie op die stoof en maak hom baie warm. Vat so opgehoopte teelepel vleismengsel en maak 'n balletjie. Druk die balletjie plat en sit in die warm pan. Braai die toetsie nou gaar ... laat bietjie afkoel en proe ... jy moet nou besluit of jy sout wil bysit en of jy van die ander geure moet versterk. Vir die sout gooi ek sout op die toets stukkie en proe of dit beter smaak.

Soms maak ek tot 3 sulke toetsies voor ek die Bielie Frikkadel bou. Dit klink dalk bietjie langdradig maar glo my ... jy wil seker wees die basiese mengsel is reg voor jy voortgaan. Hier is 'n wenk. Sny 'n appel in blokkies en voor jy proe, eet 'n stukkie appel ... maak so elke keer as jy 'n verstelling gedoen het en weer wil proe. Die appel vervars jou mond en laat jou beter proe.

Moenie tamatiesous of chutney in jou mengsel gooi nie want dan gaan jy die mengsel te nat maak.

Bou die Bielie
Vat nou 'n bakplaat en bou jou Bielie Frikkadel op die bakplaat. Druk hom mooi styf en vleg hom toe met die bacon. Ek sit nie die bacon onder die frikkadel in nie.

Nou in die oond ... 180C vir 20 minute en dan af na 160C toe vir nog 20 minute.

Toegevleg in Bacon
Terwyl hy bak maak jy vir jou 'n lekker smeersous ... tamatiesous, Worcestershire sous, bruinsuiker, braai speserye. Meng dit goed en piets hom in die mikrogolf vir so 2 minute.

Haal die Bielie Frikkadel uit die oond en laat rus vir tenminste 15 minute voor jy hom sny.

Nou met 'n lekker skerp getande mes, sny skywe van so 15mm dik ... en siedaar ... Man Kos ... 'n Bielie van 'n Frikkadel wat vrouens ook van hou.

Heerlik en vars
Jy gaan verstom wees oor die tekstuur en daai hartjies se vet maak die vleis lekker sappig. En die beste is, jy kan nog proe dis wildsvleis.

Ek maak net een lekker vars koolslaai saam met die gereg maar jy kan kapokaartappels of rys maak.

Die smeer is lekker oor die vleis. Die volgende dag sny jy dunner skywe en sit dit op toebroodjies.
Kyk die mooi tekstuur

Nouja ... lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.