Saterdag 21 Maart 2015

Brood - Koekedoor se Brioche

Dit was vir my lekker om weer te kan sit en kyk hoe die deelnemers spook met die stowe, panne en bestandele. Koekedoor het aangebreek en die meelstof hang in die lug. Tien befaamde bakkers is reg om te pronk maar die drie beoordeelaars het planne ... groot planne.

Koekedoor Brioche
Sommer met die eerste rondte kom Tiaan en druk 'n stok in die speke. Hy gooi die bakkers met 'n ou gunsteling onder brood bakkers ... Brioche ... maar hy is nie van plan om hulle met 'n lepel te voer nie ... nee jong ... hulle is mos pronk bakkers en hy vang hulle met so paar klein kinkeltjies uit.

Bestandele
Eerstens wys hy hulle nie hoe die broodjie moet lyk nie ... nee hy gee hulle daai vreemde pannetjie en sê ... hier moet jou degies in.

Nog 'n skelmskoot ... hy vertel hulle hoeveel anys hulle moet afmeet en dan verduidelik hy gladnie hoe en wanneer om dit te gebruik nie ... sê net, strooi die orige anys bo-oor jou broodjie. Eenkant fluister hy saggies aan die ander beoordeelaars oor die ekepades wat hulle gadeslaan ...
 "Vertrou jou instinkte."

Deeg is reg en moet nou rys
Hy is ook nie baie omskrywend as dit by die rys prosesse kom nie en hy is ook maar vaag oor die suiker klontjies.

Hy sê wel dat die klontjies moet grof gestamp word ... duidelik het so paar van die bakkers dit nie so gelees nie en verpoeier die klontjies summier.

Dit het ook die beoordeelaars se oë laat rek ... die vraag kom onwillekeurig op ... Hoekom suikerklontjies voorskryf en dan verwag jy moet dit verpoeier ... so paar het skynbaar gladnie die vraag aan hulleself gevra nie.




Klaar gerys
Maar nouja ... genoeg oor Koekedoor ... ek is 'n man wat glo jy moenie kommentaar lewer as jy nie self daai paar skoene al aangehad het nie.

Suiker krummels ingevoeg en nou rus die deeg
So breek Vrydag middag aan en ek besluit dat ek die ding gaan aanpak. Natuurlik het ek twee voordele wat die Koekedore nie gehad het nie ... ek is nie gebonde aan tyd nie en ek het darem gesien hoe die broodjie eintlik moet ly. O ja en ek het darem Tiaan se kommentaar en opmerkings gehoor ... so dis duidelik dat ek 'n voordeel het. Nie te min ... ek het dit nog nooit gemaak nie en ek het net die resep soos Errieda dit vir my uitgewys het.

Tiaan se Brioche ... dis waar die resep is ... kliek op sy naam.

Ek het die volgende veranderings gemaak ... ek het die versuikerde nartjieskil met versuikerde gemmer vervang. Ek het my deeg met my Kenwood geknie. Uit baie videos wat ek al gekyk het oor Brioche het ek geweet dat jy die deeg ordentlik moet knie.

Balletjies in die pan
Ek kon ook nêrens in Nelspruit so pannetjie opspoor nie en het toe maar 'n klein diep koekpan gebruik.


Nouja duur ondervinding het my al geleer dat mens die resep so paar keer moet deurlees voor jy begin en tweedens is dit baie belangrik dat jy al jou bestandele klaar afweeg en afmeet VOOR jy begin.

Net vir die rekord ... dis 32C hier in die Laeveld en sekerlik baie min of meer dieselfde as in daardie Koekedoor stoor. Ek gaan nie die lugversorging aansit nie want die deeg moet goed rys.

Klaar gerys en met eier gesmeer
Ek het die resep mooi gevolg en alles gedoen soos beskryf. My instink en natuurlik die insae op die televisie program het my oortuig dat die resep goed is ... jis ek kan moerig raak as resepte nie reg is nie.

Ek het my eerste mengsel aanmekaar geslaan en vir ongeveer 12 minute in totaal geknie met die deeghaak in my Kenwood.

Die deeg het 40 minute gerys om te verdubbel.

Toe het ek dit platgemaak en die suiker krummels oorgestrooi. Ek het die suiker ingerol en toe die deeg hanteer soos blaardeeg en 4x gevou en gerol.

Nou het ek die deeg weer so 15 minute laat rus.

Klaar gebak
Hierna het ek die bal deeg geweeg en verdeel in 8 porsies soos die resep aandui. Elke balletjie was ongeveer 130gram. Ek meet dit op 'n skaal af.

Ek het die balletjies gemaak en in my pan gepak soos aangedui.

Weereens het ek dit laat rys ... dit was nou koeler in die kombuis en dit het 40 minute geneem om min of meer te verdubbel in die pan. Dis baie belangrik om te onthou dat die deeg verder gaan rys in die oond ... so moenie die balletjies te hoog laat rys in die pan nie. Dis 'n fout wat van die Koekedore gemaak het. As jy die balletjies gaan toelaat om oor die pan se rand te rys gaan dit oor die rand kruip in die oond want dit het nie genoeg struktuur om hulleself te ondersteun nie.

Ek het die brood gebak vir 15 minute en toe het ek foelie oor die brood gesit omdat die kop teveel sal verbruin as gevolg van die suiker en eier. Ek het die oond afgedraai na 170C en nog 25 minute laat bak.

Mooi tekstuur en baie lekker
Nadat ek die brood uit die oond gehaal het het ek dit so 10 minute laat afkoel voordat ek hom uit die pan uitgedop het. Onthou, dis 'n ryk deeg en jy moet jou pan baie goed smeer anders kan hy vas brand.

Nou was die tyd vir die oomblik van waarheid. Ek breek die brood oop en wat ek sien laat my glimlag ... gladnie sleg vir 'n eerste poging nie. As ek dit weer doen sal ek die tweede bakfase opskuif na 40 minute toe. Dit behoort die tekstuur nog ligter te maak.

Dis 'n baie lekker broodjie die. Nou nie 100% brioche nie maar nogtans baie lekker. Ek dink die versuikerde gemmer het baie goed gewerk saam met die anys.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.