Sondag 26 Julie 2015

Snaxie - Man Kos Muffins

Die debat oor skons en muffins sal seker nooit eindig nie maar dis ook nie belangrik nie ... wat belangrik is, is hoe smaak dit en hoe maklik is dit om te maak.

By Man Kos is dit my missie om goed te maak waarvan mans hou en wat mans self kan maak. Nou elke man hou daarvan om so ou peuseldingetjie op te tel en dan rustig te staan en eet terwyl sy gedagtes op vêr paaie gaan.

Vir my is daar min dinge so lekker soos 'n souterige muffin en ek het al baie resepte gemaak om die een te kry wat vir my die NOMMER EEN is. Na baie eksperimente dink ek dat ek nou die regte een het ... dis een wat maklik is en omtrent altyd reg uitkom. Meer belangrik is die feit dat mans die goedjies self kan bak.

Ek gaan nou eers oor die vulsel praat en dit is belangrik dat jy die met 'n oop kop lees want die moontlikhede is onbeperk.

Almal van ons beleef die realiteit van oorskiet vleis na 'n braai of groot aansit ete. Elke stukkie vleis wat oorbly kan werk vir hierdie Man Kos Muffin.

Begin deur die vleis in klein blokkies op te sny. Jy soek stukkies omtrent so groot soos 'n ertjie pit. Jy het omtrent 'n poedingbakkie vol nodig. Ek kerf ook suur uitjies in. Ek sit hierby nou so blêrtsie blatjan en een baie fyn gekapte rooi rissie. Die vulseltjie moet krag hê. Toets hom maar mooi voor jy ontspan, hy moet amper te sterk wees.

Nou rasper ek ook so handvol lekker sterk cheddar kaas.

Die grootste fout wat jy kan maak is om oordadig te raak met die vulsel per muffin. Volg my aanwysings en kyk na die fotos.

Kry jou oond nou warm ... 230C

Nou vir die deeg ... en die is baie eenvoudig.

Bestandele
BESTANDELE:

1 x Koppie melk
2 x Groot eiers
1/2 x koppie olie ... Jy kan enige olie gebruik en kies maar na smaak.

Klits nou die mengsel baie goed.

Voeg nou by ...
Eerste lagie deeg

1 x Koppie koekmeel
2x Teelepels Bakpoeier
1/4 x Teelepel sout.

Jy kan nou speserye na smaak byvoeg soos growwe swartpeper, cumin, coriander, ginger, mixed herbs ensovoorts ... enigeiets wat vir jou lekker smaak.
Kaas

Meng die nou by jou melkmengsel en klits goed met 'n whisk sodat jy 'n mooi gladde deeg kry. As die deeg nie lekker loperig is nie kan jy so bietjie melk byvoeg.

Vat nou 'n 12x holte muffin pan en spuit met koekie sproei.

Vulsel
Nou is dit belangrik dat jy nie kop verloor en sommer deeg in die pannetjies begin gooi nie. Sit nou een eetlepel deeg in elke pannetjie in.
Dan so klein bietjie kaas in elkeen.
Nou so eetlepel van jou vleismengsel.
Weer so paar stringetjies kaas.

Nou gooi jy een eetlepel deeg bo-oor alles. Versprei dit mooi en werk maar saggies met die lepel om die deeg mooi in te kry. Hierdie volume is net genoeg vir 12 muffins.
Nog kaas

Probeer vinnig werk want onthou, sodra die bakpoeier vog kry begin dit aktiveer en jy wil darem soveel as moontlik rys uit die muffins kry.

Laaste sprinkel ek nog so paar stringetjies kaas en so bietjie braai sout.

Oondrak in die middel en die pan is in.

Laaste deeg lagie
Onthou, die oond is baie warm en die mengsel het baie olie in. Daardie warm oond is baie belangrik om die muffin 'n lekker bros korsie te gee.

Hou maar dop ... jy soek die muffins so goudbruin kleur. Dit vat so tussen 10 tot 15 minute.

Klaar gebak
Hierdie is baie lekker en is so aanpasbaar dat jy nooit weer oorskiet vleis sommer net verlore laat gaan nie. Ek het al braaivleis, hoender, lewer, niertjies en wors gebruik om die muffins te maak.

En dit is my Man Kos Muffins wat mans maklik kan maak.

Hierdie muffins hou goed in die yskas en dit is baie lekker om in 'n kosblik te pak.

Die olie maak seker dat dit nooit droog en soos wurgkoek proe nie.

Jy kan die resep maklik aanpas om ook soet muffins te maak. Gooi net so twee eetlepels suiker in die deegmengsel en dan gebruik jy glansvrugte of droë vrugte vir die vulsel.
Heerlik

Ek sit soms gemengde groente net so uit die gevriesde pakkie in en dan gebruik ek die muffins by etes in plaas van rys of aartappels.

Dis veral lekker saam met kerrie en 'n lekker sous. As jy dit by kerrie gebruik dan verkies ek om die soet variasie te maak.

Nooit droog nie
Gebruik jou verbeelding en dink so bietjie buitekant die boksie ... hierdie is 'n baie aanpasbare resep en kan sommer maklik nuwe vonk in 'n gewone maaltyd sit.

Jy kan die vulsel met ingemaakte vrugte maak en saam met 'n slim spesery mengsel en 'n lekker vla is dit sommer 'n slim nagereg.



Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.