Donderdag 29 Oktober 2015

Beskuit - Man Kos Krakers

Beskuit, dis iets wat na aan omtrent elke Afrikaner se hart lê. Karringmelk beskuit in besonder is iets waaroor daar baie gepraat word en baie resepte voor bestaan. Maar karringmelk beskuit is ook baie verwarrend, veral die woord karringmelk.

Gewone beskuit en Krakers
NB ... As jy van plan is om die beskuit te maak dan sal ek jou sterk aanraai om die hele storie mooi deur te lees voor jy begin.

Regte karringmelk kry mens as jy botter maak. Dis gewoonlik nogal aan die soetsuur kant. Dit wat ons in die winkels koop is maar 'n vaal verskoning vir karringmelk. O ja en daar is ook die mense wat reken as jy suurlemoen by gewone melk gooi, dan maak jy sommer jou eie karringmelk. Niks is verder van die waarheid af as dit nie. Wat jy daar maak is suurmelk of dikmelk. Karringmelk is baie laag in bottervet want jy haal die meeste van dit uit in die bottermaak proses.

Maar dit nou daar gelaat ... ons ken beskuit hoofsaaklik in drie formate.

1. Boerbeskuit met al sy variante soos mosbolletjies, anysbeskuit en krakelinge. Al die beskuit het een ding in gemeen ... dit word met suurdeeg in een of ander vorm gemaak en dit word baie goed geknie. Dit gaan deur twee rys fases en die beskuit se tekstuur is draderig ... dis van die rys en die gluten stringe. Die hoof bestandele is meel, water, sout en suurdeeg. Druiwemos en anys is gewilde byvoegings. Die beskuite self word styf in panne gepak en dis diep panne wat die beskuit forseer om na bo uit te rys.

2. Karringmelkbeskuit en sy variasies. Hier word nie gis gebruik nie en die meel word met botter ingevryf soos waneer jy skons maak. Dis bakpoeier wat die rys agent is. Die nat element is gewoonlik karringmelk, dikmelk of yoghurt. Die beskuit word baie min geknie, inteendeel jy moenie dit baie knie nie want dan kan dit klinkers word. Jy moet ook baie seker maak jy gebruik goeie botter of bak margerien ... as jy smeer margerien gebruik gaan jou beskuit hard wees en nie bros nie. Hierdie les het ek op die harde manier geleer.

3. Gesondheidsbeskuit in sy duisende variasies. Die basis van die beskuit is normaalweg maar karringmelkbeskuit basis maar daar word allerhande sade, bessies en koring of hawermout elemente ingevoeg. Muesli mengsels is ook gewild. Heuning, stroop, bruinsuiker, molasses en dies meer vir soetigheid. Die nat element kan enigeiets wees soos yoghurt, dikmelk, karringmelk, room, kondensmelk of vrugte stroop.

Nou gaan ek bietjie vertel van my beskuit proses en ek gaan vertel hoe ek dinge doen. Dis verseker nie die "Holy grail" van beskuit maak nie maar dit werk vir my en ek het my ondervinding opgedoen deur dosyne baksels. My resep wat ek vandag hier gaan gee is spesifiek ontwikkel vir die Man Kos Krakers maar kan vir groter beskuit ook gebruik word, jy kan bolletjies maak of jy kan dit in blokkies sny.

Dit is wat gaan benodig: (Ek gaan nou nie taalsuiwer probeer wees nie.)

1kg Selfraising Flour
200ml suiker ... wit of bruin, jou keuse.
250gr Botter of bak margerien. Botter kan galsterig raak as jy die beskuit lank wil bêre.
3 koppies hawermout
2 eiers
5ml sout
10ml bakpoeier
1 koppie Safari Dried Fruit Cake Mix
2 eetlepels olie ... jy kan olyfolie gebruik.
1 blikkie kondensmelk ... dis so 380gr maar wissel van maak tot maak.
1kg Appelkoos gegeurde yoghurt. Jy kan enige geur gebruik.
4 eetlepels fyn appelkoos konfyt. Weereens, enige fyn konfyt, jou keuse. Jy kan selfs heuning of stroop gebruik.

Nou vir die metode.

Moenie te styf pak nie
Sit jou oond op 200C en laat hom warm word terwyl jy die goed gaan meng.

Die belangrikste is om al die benodighede uit te pak op jou tafel. Maak seker alles is daar en bymekaar voor jy begin om enigeiets te doen of te meng. Jy het hoofsaaklik drie houers nodig.

Kry 'n lekker groot bak waarin jy die meel gooi. Skep nou die sout en bakpoeier in die meel in en whisk dit.
Mooi baksel
Volgende rasper jy jou botter in die meel in. Jy kan dit ook in blokkies sny en ingooi.
Gebruik nou jou vingers en vryf die botter en meel inmekaar in totdat dit goed opgebreek en versprei is. Die slimmes reken dit moet soos krummels lyk ... wel ek kyk maar so met die oog en as dit lekker geel is sonder groot klonte, dan is ek tevrede.

Nou vir die droog
Gooi nou die vrugte en hawermout in die meel in en meng deur met jou vingers. Wees kalm en mediteer terwyl jy so met die meel werk. Dis nogal opvallend hoe jou siel tot rus kom as jy so met die meel vroetel.

Net reg vir die kies
Sit nou a mengbak, medium grote op jou skaal en ZERO die ding. Gooi die blikkie kondensmelk uit in die houer in. Die skaal sal nou vertel hoeveel dit is. Volgende skep jy die fyn appelkoos konfyt in. Nou vir die yoghurt ... jy soek die totale massa in die mengbak moet 600gr wees. Skep yoghurt in tot by 600 gram.

Breek nou die eiers in die mengsel en gooi die olie en suiker ook hier in. Nou moet jy die mengsel ordentlik meng. ek gebruik 'n whisk maar jy kan 'n handmenger ook gebruik.

Lekker Krakers
Gooi nou die natmengsel by jou meel en meng rustig en kalm. Moenie rof of haastig raak nie. Jy wil al die meel mooi klam kry sonder om die gluten angstig te maak in die proses. Spoedig sal jy 'n lekker hanteerbare mengel in die bak hê wat nie aan jou hande vasklou nie. Ek werk net met een hand in hierdie fase.

Kry nou jou panne reg ... ek het een groot plat pan van so 260x380mm en een van 200x200mm gebruik.

Spuit die panne mooi met koekie sproei en nou is jy reg vir die tandetrek deel van die proses. Ek weeg die deeg af in brokkies van so tussen 22 en 25gr, rol ligies in balletjie en pak in die pan. Jy wil nie die goed te styf pak nie. As ek gewone beskuit bak dan maak ek die balletjies 45gr.

 Nou oond toe ... draai die oond op 190C en laat die beskuit bak vir 15 tot 20 minute, ek kyk waneer daar 'n mooi ligbruin korsie begin vorm.

Draai nou die oond af na 170C en laat bak vir nog 20 minute. Die is beskuit en nie koek nie, so dis beter as dit so bietjie "overbake".

Haal uit die oond en laat koel af vir so 5 minute. Dop die beskuit uit op 'n vadoek en breek vesigtig uitmekaar.

Nou moet jy dit laat uitdroog. Ek pak myne in plat oondpanne maar baie mense pak dit op draadrakkies. Maak soos dit jou pas. My beskuit doog teen 70C vir so om en by 5 ure.

Die doel van hierdie Krakertjies is om 'n lekker snaxie te maak. Ek is moeg daarvoor dat my huismense die beskuit se koppe afbreek en verslind ... die krakers is my antwoord vir die soort wangedrag. Die manier waarop ek bak verseker lekker korsies. Die aanvanklike hoë hitte laat die botter vinnig smelt en bak die korsies mooi bruin.

Ek meng bruinsuker met kaneel soos vir pannekoek en strooi dit oor die balletjies voor ek begin bak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.