Vrydag 30 Oktober 2015

Kombuis - Stel jou Kenwood in

Diep winter van 2015 gaan kuier ek by Annelien Pienaar aan die hange van die Magaliesberge. Kuier is miskien nie die regte woord nie ... sy het ingestem om my op 'n "crash course" te vat in haar kombuis.

Aangesien dit 4 dae van bak en brou sou wees het ek besluit om my Kenwood Chef saam te vat want ek was nie seker of ek vir vier dae aanmekaar sou kon knie en klits nie. Dit was 'n wyse besluit, ons het elke dag vier goed gemaak en so 6 kg meel weggebak in die vier dae.

Kenwood Chef
Ek gebruik my Kenwood nou al so 18 maande en is nogal vertroud met die masjien. Die eerste oggend toe ons wegspring staan Annelien die masjien so en bekyk terwyl hy werk en ek sien sy frons ... ek is egter te besig om regtig aandag daaraan te gee en gaan aan. Na middagete kom sy daar aan met 'n paar "spanners" in haar hand.

"Ek hoop nie jy gee om nie maar die masjien van jou moet so bietjie "getune" word."

Die meeste van julle wat met Kenwoods werk het seker opgelet dat aan die punt van die verskillende spane wat jy kan gebruik is daar 'n as wat in die masjien in druk en so metaal skerm wat die kop van die masjien beskerm teen spattery van mengsels. Wel bokant die metaal deksel sit daar 'n moer. Ek het altyd gedink dat dit maar net eenvoudig 'n sluitmoer is vir die dekseltjie. Jy benodig a 19mm ring spanner.

Sluitmoer
In a japtrap het sy die moer los van die deeghaak en toe sien ek hoe sy die assie draai.

"Die haak van jou is te hoog bokant die bodem van die mengbak ... ek gaan hom nou bietjie laat afsak sodat die haak die deeg beter van die bak se bodem af optel."

Gebruik so moersleutel
Kyk, ek is 'n handige man en ook 'n groot chauvinis maar Annelien se hande vat raak en vat vas en ek kon dadelik sien die vrou weet wat sy doen.

So twee of drie toetsies en toe maak sy die moer vas.

Die res van die middag het daai Kenwood brood geknie dat dit bars en ek kon duidelik sien dat die masjien somer spanne beter vaar met die deeg.

Later die aand toe dit stil word daar op die plaas toe staan ek in die kombuis en verstel die ander drie spane ook.

En so leer hierdie ou ballie toe wraggies meer as net koek en brood bak by Annelien.

Ek stel voor jy kyk mooi na jou masjien en maak seker die spane is op die optimale hoogte. Ek het 'n vadoek in die mengbak gesit en die verstelling gemaak totdat die vadoek net net uit kan trek.

Miskien moes ek die ding se boek beter gelees het.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.