Maandag 07 Desember 2015

Mieliepap - Rof en Grof met Semels

Na my storie oor die stories rondom mieliepap het ek vele navrae gekry vir meer besonderhede. As jy regtig wil lekker mieliepap maak dan stel ek voor dat jy die Mieliepap - Iets wat ons almal ken ... storie ook mooi aandagtig deurlees.

Die begin van Putu
Soos met menige disse regoor die wêreld sal die sukses bepaal word deur die bestandele wat gebruik word. Vandag gaan ek die storie vertel van GWK se 100% Braaipap - Rof en Grof met semels.

Hierdie meel is vir my alles wat ek van mieliemeel vra teneinde lekker pap te maak. Ek het die 5lb sakkie, ja jy lees reg, 5lb ... eerste oopgemaak en begin eksperimenteer. Ek beskou myself nogal as 'n goeie papmaker en ek is puntenerig oor die mates en volumes wat gebruik word. Ek maak pap met maatbekers.

Kom on begin met die mees populêre gebruik van pap ... mieliepap vir 'n braai. My storie mag langdradig wees vir die ou hande maar daar is hele geslag jonges wat nie regtig weet hoe om pap te maak nie.

Putu op die bord
Dit is baie belangrik om die pap se finale tekstuur reg te kry vir 'n braai. Daar is gewoonlik een of meer souse beskikbaar en dan is daar ook diegene, wat slegs botter op die warm pap sit ... dan is daar die mense soos ek, wat botter en suiker op die pap sit. Dit is egter nie regtig belangrik nie, wat meer belangrik is, is dat die pap of met mes en vurk hanteer kan word maar ook geskik is om net met die hand te eet.

Nou die pap wat beste werk vir braai is Putu ... sommiges verwys na dit as krummelpap en ek het die verskille aangespreek in die ander storie, hier bo gemeld. Die hoof kenmerk van Putu is dat dit losserige groot stukkies vorm in die pot maar as jy dit vat kan jy dit in bolletjies saampers.

Om 'n goeie Putu te maak verg so bietjie konsentrasie en die begrip van die kookproses. Jy kan Putu van enige mieliemeel maak en al wat gaan verskil is die hoeveelheid water.

My storie van vandag gaan spesifiek oor die GWK Braaipap - Rof en Grof met Semels. My resep is vir 4 mense, twee mans en twee dames.

Jy benodig 'n goeie pot, ek gebruik net ysterpotte. Jy moet ook a stewige tweetand vurk byderhand hou en dan 'n maatkoppie. (225ml).

Bestandele:
2x Koppies meel
3 1/2 koppies water (As jy gewone braaipap meel gebruik is 3 koppies genoeg.)
2x Eetlepels botter (Opsioneel maar sterk aanbeveel)
1x Teelepel sout

Metode:
Kook die water
Ek meet my meel af en gooi dit in die pot se deksel.
Kry nou die water, botter en sout aan die kook.
Gooi die meel in
Sodra die water sterk kook dop ek die meel in die pot om. Dit vorm 'n hopie in die water. MOENIE ROER nie en sit die deksel dadelik op. Jy kan jou plaat so knertsie koeler draai as jy nie 'n ysterpot gebruik nie. Maar dis belangrik dat daardie water steeds sterk kook. Die deksel moet ook mooi stewig seel sodat jy nie teveel vog verloor deur stoom wat ontsnap nie.
Stel nou die horlosie vir 15 minute en ontspan. Die kans dat die pap sal brand is skraal maar as jy 'n dun pot gebruik kan dit gebeur.

Na 15 minute
Dis regtig belangrik dat jy die proses mooi verstaan en fokus terwyl jy met die pap werk. Ek weet baie ou hande gaan grynslag en as jy nou eers leer om pap te maak gaan van die toeskouers dalk baie kommentaar lewer. Ignoreer dit en fokus ... as jy hierdie resep en metode goed onder die knie het kan jy na ander se stories luisters. As jy nou vir hulle luister gaan jy dalk ook net soos meeste van hulle, jou lewe lank putu maak wat nie regtig putu is nie.

Die eerste roer
Na 15 minute, haal die deksel af en skud die water in die deksel terug in die pot in. Gebruik nou die tweetand vurk en begin die meel mooi deurwerk in die slap pap wat om die rand gevorm het. Jy moet regtig vinnig werk want jy sal sien hoe ontsnap die stoom terwyl jy die roerwerk doen. Die pap gaan taai lyk en nog nie eintlik enige geur afgee nie. Meng goed en sit die deksel terug.

As jy hierdie roerproses met 'n lepel doen gaan jy 'n pot mielie klei maak in daardie pot ... moenie dit doen nie.

Nou draai ek my plaat baie laag ... ek gebruik gas as jy 'n elekriese plaat gebruik sal 2 'n goeie stelling wees. Weer stel ek die horlosie vir 15 minute en moenie daai deksel oplig nie. Niks van 'n geloer nie, wag geduldig.

Op die tweede alarm moet jy weereens vinnig werk en die pap goed deur krap met die vurk. Nou moet jy pasop dat jy die kors wat begin vorm teveel versteur nie. Jy sal ook nou die pap se geur begin ruik. Deksel terug en stel die alarm weer vir 15 minute.

Die finale produk
By die volgende alarm kan jy ontspan en seker maak jy roer die pap baie mooi. Daar sal nou duidelik klonte begin vorm wat uitmekaar breek as dit roer. Deksel terug en stel die alarm.

Nou is jy op die pylvak ... sodra die alarm afgaan is dit 60 minute en jy behoort nou 'n geurige pot pap te hê. Roer weer goed en stel die plaat nou op sy laagste. Van hier af sal elke minuut wat die pot staan net vir jou beter resultate gee. Ek laat myne nou 30 minute op daardie baie lae hitte staan.

En dis al wat jy moet doen om goeie putu te maak.

Vir variasie kan jy die botter met uitgebraaide varkvet vervang, jy kan kaiings ingooi na 30 minute. Jy kan die water vervang met een van Ina Paarman se sous poeier mengsels. Pasop net, die souse is baie sout.
Jy kan die water vervang met melk of gedeeltelik vervang.
Jy kant heelpit mielies wat gedreineer is ingooi op 45 minute.
Alles dinge waarmee jy kan esperimenteer as jy eers die basiese putu maak onder beheer het.

Deur so bietjie vindingryk te wees en te fokus op wat jy doen kan jy van die onpretensieuse mieliepap, 'n heerlike ete maak wat voedsaam is en steeds geurig. Dit is bekostigbaar en dit is gesond.

Ek hoop die storie laat jou met nuwe oë na mieliepap kyk. Hierdie spesifieke meel het 'n baie lekker tekstuur en 'n baie lekker geur. Tans is dit die beste Braaipap wat ek ken.

Nog Pap Stories:

Mieliepap - Iets wat ons almal ken
Pap - Plaatkoekies met Houding 
Pap - Krummelpap kan Stylvol wees 

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.