Vrydag, 12 Februarie 2016

Humor - Kombuismaniere

Laat in 2013 beland hierdie stukkie galbraak in my posbus en vanoggend maak ek bietjie posbus skoon en lees dit weer. Dis so goed geskryf dat ek wil deel en bewaar ...

Geniet hom ...


"Die kombuis by my werk is een van daardie plekke wat ‘n venster oopmaak op die menslike psige wat eerder toe moes gebly het. Oor die algemeen is ek nie mal oor die mensdom om mee te begin nie; vyf minute in die klein kombuisie op ons vloer en dit voel vir my dat dit miskien weer tyd is vir 'n handige verwoestende plaag wat so bietjie die bevolking uitdun.


Dit is nie net die spons – wat lyk soos 'n nalatenis vanuit die oertyd en partykeer vir mens grom as jy probeer om hom onder die kraan in te stoei – nee, dis nie net daai spons wat my laat dink dat meeste mense se ouers hulle duidelik nooit basiese higiëne of maniere geleer het nie.


Dit het ook te doen met die feit dat sommige mense dink dat dit helemal sosiaal aanvaarbaar is om die laaste bietjie water in die urn te gebruik en dit dan net so te los, kurkdroog en terwyl hy nog kook – net sodat die volgende persoon, wat tot dusver 'n heerlike oggend gehad het en wie se geloof in die goedheid van sy medemens stadig besig was om weer in sy binneste te bot en wat net 'n lekker koppie koffie wou gehad het om die dag mee te begin, eerder ontdek dat die urn weereens uitgebrand het en hy moet wonder of hy ooit weer sal kan sien terwyl hy deur die kokende stoomwolke steier om die plug af te sit.


Nog 'n faktor wat 'n belangrike rol speel is in hierdie scenario is hoe sommige mense blykbaar nie die konsep van suikerlepels begryp nie. Hiermee bedoel ek die tipe mens wat, ten spyte van die feit dat die lepel in die suikerpotjie lê, dit sal uithaal en dit vir hulle koffie gebruik, selfs om hulle koffie te roer en dit daarna TERUGSIT IN DIE SUIKER.


Ag shamepies, die lepel wat klaar in hulle besit is en op daardie oomblik teen die kant van hulle koppie rus is tog net te kosbaar en fragiel en moontlik ‘n erfstuk en is eintlik maar net daar om mooi te lyk en so af en toe die lig op ‘n estetiese manier te vang sodat mense hulle kan komplimenteer in hulle keuse van eetgerei.


Ek het al nagte omgelê en dink aan wat ek sal doen wanneer ek die persoon(e) vang wat sulke blatante haatmisdade pleeg. Die algemene konsensus blyk te wees dat ek ‘n halssnoer sal maak uit die verantwoordelike party(e) se interne organe en dan die res van hulle sal gebruik om ‘n groot tenk koffie te roer en daarna in ‘n silo vol suiker te gooi terwyl ek skree: “Wat ‘n roerende verhaal! Jy roer my hartsnare!” en ander sulke pittighede.


Daar is ook ‘n sekere tipe persoon wat dink dat ‘n vadoek vir alles – van vloere-vee tot neus-blaas – gebruik kan word. Dit word ook nie gedoen om die vadoek terug te sit waar jy hom gekry het nie. Nee wat, jy gooi hom sommer so in die hoek van die kombuis, daar in die donker waar hy kan lê en muf en nuwe vorms van lewe tussen sy klam voue kweek.


Daar is selfs die tipe mens wat skielik oorval sal word deur ‘n lus vir ‘n paar gekookte eiers en dan sal besluit om die urn te gebruik vir ‘n doel wat definitief die waarborg sal kanselleer. Ek sal nooit die uitdrukking op my baas se gesig vergeet toe sy groen om die kiewe vir my kom vertel wat sy ontdek het toe sy wou loer of die water al kook nie. Iemand het ‘n kous, wat vermoedelik oomblikke vroeër aan ‘n voet was, gevat en twee eiers daarin gesit en die toe in die urn gesit om te kook.


Ek dink nie daar is enige temperatuur waarteen mens die water kan kook om daardie urn skoon te kry nie. Ons het die menslike ding gedoen en die urn uitgevat in ‘n klein straatjie langs die gebou en hom geskiet en toe die oorblyfsels verbrand.


Dit gaan ook die verstand te bowe waarom sommige mense dit korrek en goed vind om jou kos te steel. Los mens ‘n bietjie melk in die yskas, of selfs net ‘n ou botteltjie water, kom een of ander analfabeet langs en eien dit hulself toe. Dit is hoekom ek nie eens my kos in die mikrogolf warm maak nie. Jy weet nie of dit nog daar gaan wees wanneer jy weer die deur oopmaak nie.


Maar dis reg, my wraak sal verskriklik wees om te aanskou.


Ek wil tog so graag eendag daardie trick probeer waar mens bietjie Brooklax in melk of iets anders sit, dit dan in die yskas los en dan uitkyk vir die persoon(e) wat baie benoud lyk en elke 2 minute toilet toe hardloop. Ek wil foto's van hulle neem soos wat hulle aan die toilet se mure vasklou en bid vir verlossing en dit dan op die internet pos.


Name en shame, bliksem, name en shame."