Sondag 03 Julie 2016

Sop - Hartskos, Trooskos, Noodkos

Klipsop
So paar dae terug sit ek so paar fotos op van my sopdisse wat ek maak op Facebook en soos tewagte, is daar dadelik navrae vir die resepte. Dit kan ek nie regtig doen nie want sop maak is by my honderd persent instink en baie min mates en gewigte. So kom ek vertel julle my storie met sop en ek is seker baie van julle sal daarna meer avontuurlustig wees as dit by sop kom.

Ek en my Man Kos stories loop baie maal terug op my lewenspad en kyk na die kos wat groot oomblikke in my lewe laat herleef en soms, ja soms vat ek die kronkelpaadjie terug na die werklike swaar tye van my jeug. Soos menige Afrikaners het ek in die tye na die laaste wêreldoorlog groot geword. 'n Tyd wat bekend was vir die algemene armoede wat geheers het maar dit was ook 'n tyd van ongekende groei en bloei in die ekonomie en die wat bereid was om hard te werk is op die einde beloon.

Albei my ouers was bankklerke en dit was 'n werk met min vooruitsigte vir bevordering. My pa het besluit hy gaan myne toe want daar kon hy vinniger bevordering kry. En so is dit dan dat ek begin verstand kry het in 'n harde en brandarm omgewing. My pa moes heel onder begin en dit het ook beteken, baie min geld.

Een ding van die myn "villages" was dat almal het gedeel wat hulle kon en so was dit dan ook met die byna verpligte groentetuine wat elke huis gehad het. In die middae het die vrouens in die dienspad wat tussen elke twee rye huise was, rongekuier en uitgeruil. Op die manier het almal dan ietsie van alles gehad wat nodig was vir aandete.

Roasted Butternut
Nouja noodgedwonge was sop 'n belangrike element in die kosmaak rituele want 'n goeie bord sop het alles in gehad wat nodig was om kinders te laat groei en mans die energie te gee om te kan werk. My ma het 'n basiese groentesop gemaak en het dit Klipsop genoem. Eers baie jare later het ek besef dat dit sinspeel op die gesegde van Bloed uit 'n Klip te tap. Sy het weliswaar kos uit 'n klip getap. Alles wat beskikbaar was het in die pot beland en is gekook totdat dit fyn stukkies was. Omdat wortels nogal volop was is dit dan ook so dat Klipsop 'n kenmerkende oranje kleur gehad het. Daar is ook murgbene ingegooi as dit beskibaar was en die kenmerkende vetdruppels wat bo-op die sop gedryf het was hemels.

Sop is in baie opsigte soos brood bak ... 'n paar basiese goed ... of alles of wat beskikbaar is om 'n spesifieke sop te maak. Belangrikste is WATER ... ja gewone skoon water. Deesdae maak ek my sop in twee fases. Die eerste fase doen ek in my Elektriese AEG stoompot ... as jy nie een het nie gaan dit net langer vat.

Tamatie en uie
Ek maak my groentelaai in die yskas skoon en so ook my groente rakkies. Ek soek alles uit wat lyk asof dit "end of life" se kant toe staan en kap dit op in stukkies en gooi in die stoompot. Aartappels, wortels, blomkool, pampoen, patats ... enige kombinasie. Jy kry ook die Soup Mix pakke groente by die supermark deesdae. Moenie teveel tob oor die kombinasies nie ... dis die lekker van Klipsop ... elke pot het sy eie karakter.

Nou maak ek 1000ml kookwater en vier opgehoopte lepels van Ina Paarman se Stock Poeier ... die boepens plastiese houertjies, aan. Weereens, sy het 'n verskeidenheid van die poeiers en ek gebruik die een wat ek graag as hoofgeur in my sop wil hê. Soms meng ek selfs van die poeiers.

Baie belangrik ... moenie SOUT in jou sop gooi nie ... al die poeiers is redelik sout en die verskillende groentes kan ook 'n groot invloed hê op hoeveel sout jy op die einde gaan benodig.

Sit nou jou sopbene, skenkels, hoendernekke, hoendervlerke, boerewors, maalvleis, viskoppe ... wat ook al vleiserigheid jy wil gebruik of wat jy op hande het, in die pot. Gooi die vloeistof oor en laat daai pot sy gang gaan. Ek kook dit so 40 minute in die stoompot maar op die stoof sal jy dit so een en half uur moet laat kook. Hierdie gaan nou sterk indruis teen die moderne siening oor kos gaarmaak maar dit is 'n feit ... hoe langer jy die pot kook hoe beter word daardie sop.

Moenie jou teveel steur aan die kleur of smaak op hierdie stadium nie. Jy wil die maksimum geur uit die groente en vleis kook, onthou dis sop, nie opskep kos nie.

Terloops, skaap maak nie lekker sop nie en so ook nie vark nie. Gerookte vark snitte soos die skenkels is egter die uitsondering.

Sodra die eerste fase ordentlik uitgekook het en alles is pap sag is jy reg vir fase twee. Skep twee koppies van die vloeistof af en hou eenkant. Druk nou die groente fyn met 'n vurk of "masher". Soms gebruik ek nou 'n elektriese ding wat die hele storie in fyn pulp verwerk. Dis 'n "Stick Blender". Dit hang af wat jy wil kry op die einde. As my groente hoofsaaklik aartappel, papmpoen of patats is, dan maak ek dit baie fyn. Anders "mash" ek dit net.

Kap 'n groot ui in stukkies en gebruik 'n lekker diep kastrol. Ek gebruik net ysterpotte so ek kan maar erg vuur maak onder hulle. Ek skep 'n groot eetlepel varkvet in die pot. jy kan olie en botter mengsel gebruik as jy nie varkvet het nie. Ek gooi gemaalde swartpeper en 'n goeie blerts braaispeserye in die olie en laat dit so paar sekondes lekker braai. Gooi nou die uie in en laat lekker uitbraai maar moenie brand nie. Nou skep ek drie eetlepels koekmeel in die vet in en roer die pasta goed. Jy moet dit laat uitkook vir so minuut of wat.

Volgende gooi ek die twee koppies van die sopvloeistof op die braaiende uie en meel mengsel. Wees wakker ... dit gaan 'n sissende storie wees maar jy het dit nodig want nou brand al die aanpaksels in die pot los en los op in die vloeistof. Roer die heeltyd met 'n metaallepel en skraap die pot bodem en kante goed skoon.

Gooi nou die hele sopmengsel in en roer goed en aanhoudend tot die hele pot sterk kook. Draai nou die hitte af na laag en sit die deksel op en laat stadig prut vir so 15 minute.

Vleissop
Nou is dit die tyd om te begin kyk na die smaak. Proe en dink mooi wat jy het. Onthou net ... sout gaan die hele smaak profiel verander, so moenie te gou sout ingooi nie en as jy voel die basiese smaak is min of meer wat jy soek kan jy kalmeer.

Op hierdie stadium gooi ek gewoonlik 'n
goeie eetlepel vol Worcestershire sous by en laat bietje kook en proe weer. As ek 'n sterker vleiserige smaak soek dan gooi ek twee buisies van Ina Paarman se Bees of Hoender ekstrak in.

Die sout smaak behoort nou reg te wees want al die laaste byvoegings is sterk souterig. As dit nog vars proe, sit dan sout in na smaak. Jy kan die deksel van jou pot afhaal terwyl jy kook as jy die sop dikker wil maak. Soms maak ek a mengsel van Maizina en Bisto poeier om die sop te verdik. Onthou net die goed moet ordentlik uitkook anders proe dit nie reg nie.

Nou is die tyd dat jy dinge soos gevriesde ertjies of sampieone kan ingooi want die sop is baie naby aan klaar.

Jy behoort nou a lekker pot sop te hê.

Een variasie wat ek baie doen is om mince en tamatie te gebruik as die hoof bestandeel met minder groente en dan dit baie dik te maak, net so skrams weg van 'n bredie af. Maar weereens, kook daai mince dat dit klap ... so kry jy die geur.

Sop maak is die een ding wat ek uit ondervinding weet, kom elke keer effens anders uit en dis ook nogal vergewensgesind teenoor die kok. Pas net op ... jy kan sop baie maklik te sout maak. As dit sou gebeur, sny 'n groot aartappel in stukke en gooi in die sop en kook vir so 20 minute. Skep die aartappel uit en proe ... as dit nog souterig is, sit weer 'n aartappel in en herhaal.

Moenie melk of room in die kookfase in jou sop sit nie ... sommige groentes kan ensieme afskei wat die suiwel laat skif ... dit doen niks aan die smaak nie maar dit lyk nie lekker nie.

Vir my is elke pot sop 'n nuwe avontuur.

As jy wil room bysit, doen dit net voor jy opskep of liewers, sit in as jy klaar opgeskep het.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.