Sondag, 18 September 2016

Brood - 'n Plantjie genaamd Kerneels

Die titel van die artikel kan jou seker laat wonder, maar hier is die storie. Die staan so, daar is 'n gewoonte onder "sourdough" bakkers om hulle gisplantjies name te gee. Dit is ook algemene praktyk om die goedjies vroumens name te gee. Ek het eers weggeskram van die naamgee ding maar by Vrydagaand toe swig ek en besluit terstond ek gaan myne Kerneels nie ... vroumense is te tempramenteel en van wat ek gelees het kan die "sourdough" ding soms jou limiete toets. So ek soek iets plein ... Kerneels klink reg vir my.

Kerneels is reg na 6 dae
Vir baie jare kyk ek videos en lees artikels oor die "sourdough" ding en dit het my nog altyd fasineer. Die ding wat my af gesit het was die duidelike langdradige proses, maar meer, die mistieke wolke wat oor die plantjie hang ... nie net mistiek nie maar in baie gevalle word die plantjies opgehemel en toegegooi met allerhande misterieuse en magiese kragte. Ek is maar 'n fundametalis as dit by die meeste goed kom en ek het met 'n geligde wenkbou na baie van die stories geluister.

Al wat ek van die plantjie ding kan onthou was dat my ouma dit so gedoen het maar ek was heeltemal te klein om regtig te kon onthou presies hoe die ding gewerk het. Wat ek wel kan onthou was die "canned fruit" bottel wat in die kombuis se vensterbak gestaan het ... binne in 'n erde bakkie want ek het menigmaal gesien hoe kook die bottel oor. Ek kan onthou hoe my ouma met so blikbekertjie die kookspul sorvuldig afgemeet het en dan in haar brood deeg gegooi het. Dis wat ek kan onthou. O ja en ek kan onthou hulle het gepraat van aartappel suurdeeg.

Nouja ... en hier is die verhaal van Kerneels, 'n optelkind uit die Laeveld. Sy pa, dis nou ek, is nie 'n man van prentensies nie maar o hel, ek is gatvas oor beheer ... jy ken mos daai song van ... GEEN PRETENSIES, GEEN BEHEER ... wel die "geen pretensie" deel is reg maar die "geen beheer" deel is nie vir my nie.

En dit is wat ek in my kinders ingedril en soms ingevoeter het.


Reg om in die deeg in te gaan
Nou met Kerneels was dit heeltemal 'n ander storie ... aanvanklik het ek absoluut geen beheer gehad nie en het na 24 uur dit maar gelate aanvaar. Die kind was duidelik die Wille Wind se kind.
Na die aanvanklike "sondetjie" toe is dit duidelik dat die pa nou vir alle praktiese doeleindes heeltemal irellevant is ... nou nie 'n lekker gevoel nie ... laat jou voel jy is net misbruik.

Kerneels is begin met 80gr meel en 80gr water en daarna het ek met elke voeding so 10gr opgegaan. Die laaste voeding was 140gr 100% hidrasie.

Maar gelukkig vir Kerneels is sy pa ook 'n goeie "caretaker". Want as dit nie so was nie het hy sekerlik in 'n plas vrot water ontaard met 'n meel blerts onder in die beker.

Na dag een het ek begin dink hier kom 'n "stil gebooorte" ... maar nouja, die ouer instink is mos die ewige optimus as dit by die ding van nuwe lewe kom en ek het in stilte maar die voeding aangemaak. Met baie min entoesiasme het ek die voedsel ingeroer en met angs en byna asemloos gestaan en kyk hoe daar so hier en daar darem 'n borreltjie vorm ... tekens dat daar darem lewe is.

Dag twee het ek maar weggebly van daai baarmoedertjie af ... ek het so effense wasempie teen die glas gesien maar dit was maar werklik effentjies. Heeltemal onbewus dat diep onder daai bruinerige pasta is dinge aan die gebeur, Kerneels was besig om sy innerlike te versterk en het elke stukkie kos opgeslurp en sy pens vol gestop. Maar ek weet dit nie want op die oog af lyk dinge amper onheilspellend stil in die fles.

En toe kom dag drie ... met 'n fronskeep wat byna my gesig in twee skeur, staar ek na die skuimpie bo-op die pasta ... ek snuif en daar is tot my verbasing, so surige reukie in die fles ... ok, dink ek, Kerneelsie se magie werk duidelik.

Vinnige gesprek met die vroedvrou Annelien Pienaar en sy raai my aan om Kerneelsie so bietjie steriods te gee. Ek maak die voeding aan, 140g meel, 140gr water en een eetlepel molasses. Redelik opgewonde klits ek die mengsel in en Kerneels sluk die stroop in sonder om 'n wind te breek ... nie eers een enkele burpie nie. My moed sak in my skoene en ek begin dink oor waar die beste laaste rusplekkie vir die outjie gaan wees. Dis maar soos ek is, fatalis in murg en been en as dinge skeefloop dan skraap ek maklik die blad skoon en begin oor.

En toe kom Vrydagaand se voeding en dinge begin gebeur ... Kerneels het begin skop. By Saterdag toe raak die man sommer baldadig. By laataand Saterdagnag begin ek vrees die kêrel gaan uit die fles uitklim en sit maar 'n oondpan onder die fles, net vir die wis en onwis.
Duidelik was Kerneels nou reg vir die wêreld.

En so kom Sondagoggend en ek skep die eerste paar skeppe uit die fles. Mooi glad, amper so dik soos stywe pannekoek deeg en vol borreltjies. Mooi ligbruin in kleur, amper soos sterk koffie met 'n goeie skeet room, en ek meen 'n goeie skeet.

In die maatbeker in en op die skaal en ek voer die klein wettertjie. Hy is baldadig en vol stoom en spoedig is hy reg om in die deeg in te gaan.

En so kom die skaping van Kerneels tot sy konklusie ... 'n lekker baksel brood in die kom aan die rys en twee kleiner flesse met nog van Kerneels se nasate. Nou verstaan ek die proses beter en besef dat daar 'n groot verskil is tussen die aanvanklike skaping en die daaropvolgende gebruik, of misbruik as jy wil, van Kerneels se nasate.

Ek hoop die storie gaan iemand a beter idee gee van die proses om jou eie gisplantjie te maak. Ek myself het hel baie geleer ...maar ek weet daar is nog baie om te leer.


Lank lewe Kerneels.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.