Sondag 31 Desember 2017

Brood - BoerekosTwist Brood bak kompetisie

Brood ... vir my is dit 'n byna heilige ding. 'n Mens moet eintlik nooit Brood met 'n klein lettertjie spel nie want Brood is waarskynlik die grootste bydraende faktor dat ons as mens sovêr kon ontwikkel. Vir baie jare was dit die stapelvoedsel van die mens en selfs vandag nog is dit bykans ondenkbaar om jouself 'n lewe voor te stel sonder Brood.

Heerlike vars Brood
Min dinge ruk 'n mense se hartsnare soos die geur van varsgebakte Brood en menige van ons het wonderlike herrinneringe van die vars Brood uit 'n ouma se oond ... stomend warm en 'n kors wat kriek en kraak soos die Brood afkoel. Broodbakkers sê dat die Brood sing. En dan daardie magiese oomblik as die broodmes deur die kraakvars kors saag en die krummels en skerwe spat so weg van die broodplank af.

Jy staan en kyk, met 'n mond wat water, hoe die sagte sny op die plank neer sak. Jy sluk vinnig want die kwyl loop nou vrylik. Met vinnige bewegings skraap ouma die ryk geel plaasbotter van die blok af en die waterspatsels vorm druppeltjies teen die mes se lem. Met 'n elegante swaaitjie plak sy daardie botter krul op die warm sny Brood en jy sien hoe die botter sag word en so goudgeel vet randjie om die botter vorm en in die brood in smelt.

Brood met geur en smaak
Hierdie is die gedagtes wat by my opkom as ek aan Brood dink. Dis ook hierdie gedagtes wat my in die Lente van 2016 gemotiveer het om die ou tradisionele suurdeeg Brood proses te bemeester. Winkelbrood het oor die jare so verfynd geraak dat dit bykans geen smaak het nie. Annelien het my baie bemoedig en aangepor om deur te druk met die proses en soos die maande verby gegaan het het my vaardigheid verbeter. Sedert middel September 2016 koop ons gladnie meer Brood vir die huis nie en as ek op reis is en winkelbrood moet eet dan is ek net meer vasberade om dit so min as moontlik te eet.

Dons sagte Toebroodjie
So kom dit dan dat ek die advertensie sien vir die Boerekos Twist Brood bak kompetisie en ek sit en wonder. Ek is nie erg oor kompetisies nie maar dit prikkel my nuuskierigheid en ek lees meer. Wat my dadelik opval is die feit dat die aanbevole resep kitsgis gebruik ... vir my is dit effens negatief want ek het nou al gewoond geraak dat Brood lekker sterk geur en smaak kan hê. Ek haal Annelien Pienaar se Boerekos met 'n Twist boek uit my boekrak uit en spoor die resep op. Uit ondervinding weet ek dat Annelien se brood resepte goed is en dat mens dit kan volg sonder enige spanning. Die kompetisie noem dat jy die resep kan "Twist" en ek sit en wonder. Siende dat dit 'n effe verrykte deeg is, is daar moontlikhede ... maar vir my, en dis baie persoonlik, is die meeste "Twists" op brood wat ek sien, so vêr van Brood af dat dit einlik koek is ... dit is vir my nie 'n opsie nie.

Heerlike French Toast
Net daar besluit ek dat my "Twist" moet die Brood die "Hero" hou van die verhaal, geen tierlantyntjies, bolletjies, balletjies, stafies of plaatjies nie ... nee, doodgewone tradisionele Brood maar met 'n bevonkte smaak.

Omdat Brood die Held van my skepping moet bly is dit ook vir my belangrik dat die Brood baie veelsydig moet wees ... met ander woorde die Brood moet vele baadjies kan aantrek en steeds die ster van die ete bly, alhoewel dalk net 'n ondersteunende ster.

Kraakvars korsie en sag binne Roosterbrood
My eerste uitdaging is om die kenmerkende geurige smaak van suurdeeg Brood in die kitsgis brood te kry. Terselfdertyd moet ek die tekstuur bewaar en my brein werk oortyd. Ek maak my yskas oop en kyk na die bestandele wat ek gereeld in my beskuit en Brood gebruik.

Ek lees die resep weer en besluit om die melk met dubbelroom, vol vet Griekse Yoghurt te vervang. SPAR het 'n nuwe variasie met Aalwyn in en dit is wat ek vat. My heuning is rou Fynbos Heuning en ek gebruik Himalayan Pienk Sout.

My volgende variasie is op die meel en ek meng 25% Millstone Volgraan met 75% GWK Ongebleikte Koekmeel. My doel is om 'n tipe Plaasbrood te bak en ek soek bietjie sterker gluten strukture in die brood want ek verwag hy gaan hoog rys.

Met my metode, volg ek min of meer die suurdeeg paadjie en 3 ure later kom die Brood uit die oond uit. Na my beskeie mening het die brood baie goed uitgekom en ek is hoog in my noppies met die kors kleure. Toe ek die Brood uit die pan lig en op die rakkie sit, sing hy mooi en ek glimlag van oor tot oor. Ai hoe bitter graag sou ek nou so snytjie hiervan met my ouma wou deel.

Al wat nou oorbly is om geduldig te wag dat die Brood afkoel, dis belangrik want die Brood bak nog steeds vir 'n tydjie na jy hom uit die oond haal en as jy te gou sny kan jy die brood se tekstuur bederf.

Vars Brood en botter
Met groot verwagting plaas ek die Brood op my snyplank, die Brood is lekker pofferig en die korsie voel krakerig ... baie versigtig kry ek my merkie reg en trek die lang mes oor die kors. Vir 'n oomblik veg die korsie terug maar die skerp tandjies wen die stryd en die blink lem sak in die brood in ... met elke haal vlek die Brood verder oop en met genoegdoening sien ek hoe die sny op die broodplank val ... heerlik lig, sag en die geur is wonderlik. My ouma sou waarlik trots gewees het op hierdie kleinseun van haar.

Ek sny nog twee snye en toe haal ek die botter uit en 'n botteltjie van my tuisgemaakte appelkooskonfyt ...

Byna gewetenloos skraap die bottermes deur die bakkie en die lem skil 'n ordentlike reep botter af ... in my geestesoog sien ek hoe Poppie ril en ek lag hardop ...

"Die Brood soek botter, ordentlike botter en botter in oormaat."

Mooi kors
Met mening plak ek die botter op die Brood neer en met groot genoegdoening sien ek hoe die kinkels uitsak van die hitte ... die geel botter suig neer op die snoesige Brood en onwetend knik ek my kop.

Die appelkooskonfyt klou halstarig aan die lepeltjie, amper asof dit vrees vir wat voorlê maar die halstarrigheid is weerloos teen my vingerpunt. Versigtig versprei ek die oranje konfyt oor die sny Brood, versigtig om nie die sagte boter weg te skraap nie.

Ek lig die Brood op en ruik versigtig, nee, aandagtig is 'n beter woord ... die geure is wonderlik. My mond water behoorlik maar ek moet myself nou eers beteuel want daar moet fotos geneem word. Amper geiriteerd doen ek die foto ding en dan kan ek ontspan ... ek lig die snytjie op en 'n heerlike geurmengsel vul my brein ... ja, my brein ... die eerste hap ... die korsie bied weerstand maar ek verskuif my voortande en ... HEMELS ... natuurlik is die appelkoos eerste op die tong en dan verdof dit ... die botter smeer my verhemelte en ek stop om te kou ... nou wil ek net proe ... en dan proe ek dit ... die wonderlike kakafonie van koringmeel en die byna pikante yoghurt nasmaak.

Oor die volgende dag beproef ek die Brood as ...

Roosterbrood en dit is heerlik. Kraakvars korsie en lekker sagte binnekant.
French Toast en die sagte brood slurp die eier op. Heerlike sagte geurige Broodjie.
Toebroodjie wat sag en is en maklik eet, ek het grondboontjie botter en appelkooskonfyt opgesit.

Metgesel by Hoenderlewers
Ek het ook die Broodjie as metgesel gebruik vir romerige hoenderlewertjies met 'n peper sous. Die Brood het sy ondersteunende rol skitterend gespeel en elke druppel van die sousies opgeslurp.

Laastens het ek die Broodjie ingespan by ontbyt. Die roosterbrood het weereens die sagte eiers mooi ondersteun en die hele maaltyd afgerond.

Afronding by ontbyt
Vir my is die doelwit bereik. Die is 'n veelsydige Brood en is vinnig om te bak ... so om en by 3 ure van begin tot hy uit die oond kom. Ek het die uitdaging geniet..

Wow ... die is 'n heerlike Brood en in my gedagte 'n wenwaardige Brood.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.