Dinsdag 30 Januarie 2018

Hoender - Wimpie se Porra Flattie

Hoender op die vuur is maar altyd 'n risiko want of jy verkool die ding, of daar is rou stukke. Almal is dit egter eens ... daardie stukkies gebrande hoendervel is baie lekker. Die verskyning van Nandos het ons gedagtegang rondom hoender verander in die laat 90's en diepvet gebraaide kuikens het van baie mense se spyskaarte afgeval. Hierdie vlamgebraaide hoendertjies het oornag in 'n malligheid verander en skielik was gebraaide hoender weer in.

El Madre se Porra hoender
Maar spoedig het braaiers agtergekom dat om 'n hoender te braai is nie so maklik as wat dit lyk nie en dit vat tyd,, baie tyd want rou hoender is gladnie goed nie, kan selfs lewensgevaarlik wees. Menige Masterchef deelnemers het al uitgevind dat "uncooked chicken" is 'n versekerde trekpas.

Natuurlik gaan die meeste Weekend Warrior braaiers nou weer frons maar dis 'n feit dat gasbraaiers die beste opsie is vir hoender braai ... hoofsaaklik omdat jy die temperatuur baie goed kan beheer en handhaaf.

Na baie eksperimente het ek tot die slotsom gekom dat dit die beste is om hoender deur twee fases gaar te maak vir braai hoender. Eerstens sit ek die hoender in my mikrogolf stomer en stoom dit vir 12 minute. Ek gooi gewoonlik speserye op vir die stoomproses of stoom die stukke net so in die plastiek sak waarin dit kom van die vleismark af. As jy stoom in die plastieksak moet jy so paar gaatjies in steek sodat die sak nie bars nie.

Nou terug by Wimpie se Porra hoender.

Die oggend stap ek by El Madre Slaghuis in Nelspruit in en Wimpie roep my ...

"Oom, wil jy nie die Porra Hoendertjie vir 'n testdrive vat nie ?"

In die rooster
Ek staan en kyk na die pakkie en die groot stukke chilli vang my oog. My ondervinding van regte Portugese Braaihoender is dat dit 'n lekker byt het en ek vat die pakkie wat hy na my uithou.

"Ok Wimpie ek sal hom oor die braaier gaan jaag en jou laat weet."

Saterdagmiddag haal ek die pakkie uit die yskas ... hy het nou 3 dae daar gelê en ek is seker die marinade het sy werk nou ordentlik gedoen. Ek sit die pakkie net so heel in my stomer en steek twee gaatjies in die plastiek sak. 12 minute in die mikrogolf oond in. Hierdie deel van die proses is vir my die heel belangrikste, want nou weet ek dat ek gladnie hoef bekommerd wees oor die "gaar" van die hoender nie. Al wat die vuur nou moet doen is om die ding smaak en karakter te gee.

Kant en klaar ... Heerlik
Ek sit die hoender in 'n toeknip rooster en plaas hom op my braaier met so middelmatige hitte. Ek plaas hom met bene/binnekant onder eerste baai die bokant met die marinade. Ek sprinkel ook sommer 'n lekker dik laag van Robertsons se Chicken spice oor.

Ek braai die "onderkant" vir so 10 minute en draai die rooster om. Die onderkant toon goeie skroeimerke en ek kan sien die bokant hits die vlammetjies bietjie aan soos van die vel vetjies nou op die warm rooster beland. Vir die volgende 10 minute skuif ek die rooster rond om seker te maak die vlammetjies verwoes nie die hoender so kol kol nie.

Twintig minute later is die hoender se kleur reg vir my en ek haal hom van die vuur af.

Wel, die hoender was heerlik sag en sappig en die roosterkolle gee goeie smaak. Ek hou van die Porra marinade en sal vir seker die hoender weer braai.

Ferreira street 106
Nelspruit, Mpumalanga
Call 013 744 1238

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Maandag 29 Januarie 2018

Skons - Begin by die begin

Daar is duisende der duisende stories oor skons en skons resepte en die meeste van ons ken skons, of ons dink ons ken skons. Ek is baie lief vir skons en het baie gelees en geoefen met skons. Meeste plekke en mense bied vir jou skons aan en dis nie eintlik skons nie, dis meer in lyn met wat die Amerikaners "biscuits" noem. Regte "biscuits" bevat gis waar skons bakpoeier gebruik. Dis egter 'n debat wat ook eindeloos kan wees. Die punt is eenvoudig dit ... regte skons se tekstuur is soos velletjies wat jy kan lostrek en dit word veroorsaak deur die manier waarop jy die vet, ja ek noem dit vet want dit kan botter, margerien of varkvet wees, in die meel inwerk met jou vingers. Dis 'n kuns wat jy slegs bemeester deur dit oor en oor te doen.

Mankos Skons
Hedendaags is daar meer 'n neiging om die skons met alternatiewe te maak soos, olie, eiers of gas vloeistof. Almal bly dit maar skons noem alhoewel dit die tekstuur van "biscuits" het.

Ek gaan nie die tegniese punte verder bespreek nie want dis nie waaroor dit gaan nie. Vir my gaan dit oor die feit dat skons, ja ek gaan dit bly skons noem, iets is wat wat maklik is om te maak en baie bevredigend kan wees. My mision is mos om meer mans te kry om te bak en te kook.

Oor die laaste week of so het ek fotos gepubliseer van baie lekker goetertjies wat ek met skon deeg gemaak het en baie mense soek die resepte. Ek gaan die Melktert, Quiche, Kaasbroodjies en Pizza resepte later doen. Vir nou is dit die belangrikste dat jy jouself teverede stel dat jy kan 'n lekker basiese skon bak. Hierdie resep en metode vat so 30 minute van jy begin tot jy eet.

Min skottelgoed
Hierdie resep is grotendeels gebasseer op die "Skons met Olie" resep wat op bladsy 290 van my Kook en Geniet is. Ek stel voor jy volg die een en kry hom onder die knie want al die ander resepte wat hierop gaan volg gaan hierdie resep gebruik vir die basiese skon. Ek het dit self menige maal gedoen en weet uit ondervinding dat dit wat ek julle gaan vertel, werk goed.

Deeg is reg
Die afmeet van die bestandele is belangrik want as die verhoudings nie reg is nie gaan die deeg anders wees. So ek stel voor jy gebruik 'n elektroniese skaal en 'n duidelike afgemerkte maatbeker.

Stel nou jou oond op 210C en sit die rakkie in die middel. Ek gebruik die FAN ASSIST stelling op my oond. As jou oond nie 'n waaier het nie, stel jou oond op 220C.

Dis baie belangrik dat jou oond se temperatuur reg is voor jy die nat bestandele in die meel inmeng. Hoe gouer jy die skons in die oond kry na die meng, hoe beter gaan dit rys.

Bestandele:

In jou mengbak ...
1. 280 gr Meel ... ek het koekmeel en broodmeel gebruik en albei werk goed.
2. 20 ml - 4 teelepels bakpoeier. Moenie oordadig afmeet nie, dit kan jou skons 'n blik smaak gee.
3. 5 ml - 1 teelepel Koeksoda.
4. 2.5 ml - 1/2 teelepel sout.

In 'n 250 ml maatbeker ...
1. 100ml kook olie. Jy kan enige olie gebruik. Ek het al gegeurde olyfolie ook hier gebruik.
2. 1 Eier.
3. Vul nou die beker tot by die 250 ml merk met melk.
4. Een teelepel suurlemoensap of asyn. Die is nodig om te verseker jy aktiveer die Koeksoda.

Variasies ...

1. Soet Skons ->
(i) Voeg 30ml - twee eetlepels suiker by die meel.
(ii) Voeg een eetlepel (15 ml) vlapoeier by die meel.

2. Sout skons ->
(i) Voeg 2.5ml (1/2 teelepel) Paprika in die meel.
(ii) Voeg 5 ml -(1 teelepel) gemengde kruie in die meel.

Jy kan allerhande byvoegings maak en die volgende is 'n paar moontlikhede ...
a. Rosyne, korente of cranberries.
b. Amandels, okkerneut, pekanneut of makadamia.
c. Gerasperde kaas of die vrugtekoek fruit mix.

Al wat belangrik is, is dat jy die byvoegings beperk tot 1 Koppie (250ml).

Jy kan ook vervangings doen.
a. Vervang die melk met yoghurt van jou keuse.
b. Eksperimenteer met verskillende olies.
c. Meng jou meel ... ek het gevind dat so 25% Wholewheat gee 'n lekker skon.

My voorstel is dat jy maar liewers vir eers die byvoegings beperk en net fokus om die deeg mooi te meng en en om dit mooi gebak te kry. Die byvoegings verander die deeg effens en kan jou pootjie. As jy eers kalm en rustig is sonder die tierlantyntjies kan jy mal gaan met die byvoegings en jy sal sommer sien of jy jou baktyd bietjie moet aanpas.

Metode:

Meng jou meel goed met 'n draadklitser (Whisk)
Meng die eier, melk en olie mengsel goed.

Voeg nou al die nat bestandele by die meel. Gebruik 'n gewone tafelmes en begin die meel en vloeistof meng deur die meel met die mes in die vloeistof in te trek. Na so keer of wat sal jy die metode goed snap. Die groot rede vir die mes is dat jy nie die deeg wil brei met jou vingers nie. Jou hande gaan warm word en jy gaan die deeg begin brei soos klei ... dit moet jy verhoed want dit gaan veroorsaak dat jou skons hard kan word soos regte biscuits.

Sodra die deeg mooi klam is regdeur is die mengsel reg.

Nou kom ons by belangrike keuses. Omdat my storie gerig is op mense wat vir die eerste keer gaan skons maak gaan ek die veiligste opsie verduidelik.

Sprinkel jou werksblad met meel en dop die deeg uit. Gebruik nou jou hande en druk die deeg saggies in 'n reghoek min of meer soos 'n A5 bladsy. Jy wil nie dunner as die dikte van jou hand oor die kneukels gaan nie. Moenie geweldadig wees nie en moenie 'n koekroller gebruik nie. Sagte hande is dit wat nou nodig is. Die olie sal verseker dat die deeg nie aan jou hande klou nie.

Vat nou 'n lekker groot mes en kloof die blok oor sy lengte. Dis baie belangrik dat jy dit mooi netjies doen met 'n druk beweging en nie 'n gesaag nie. Dan deel jy die twee repe in 3. Sodat jy met 6 porsies opeindig. Volgende keer as jy meer vertroud is met die proses dan deel jy dit kleiner. Vir nou wil ons die hoeveelheid beperk sodat jy nie onder druk is nie. Later kan jy eksperimenteer met drukkers en wat meer.

Dis belangrik om daarop te let as jy met ronde drukkers begin werk dat jy die druk net af doen en optel, geen gedraai nie. As jy draai gaan jou skons heel waarskynlik nie rys nie. Nog iets met die ronde skons, elke keer het jy oorskiet en dan moet dit weer bymekaar gemaak word ... dit veroorsaak dat jy die deeg kan oorwerk. Ek sny gewoonlik my rondes en dan maak ek bymekaar en sny vierkante.

Terloops baie mense druk die skons uit met glase of koppies ... dis nie 'n goeie plan nie want die rant van die goed is te stomp en sny nie deur die deug nie, dit pers die deeg saam en jou skons gaan nie mooi rys nie ... dit gaan sulke halfrondes maak, byna soos 'n muffin. As jy ronde skons wil maak, koop die regte drukkers.

Let op die rys op die gesnyde kant
As jy na die foto kyk sal sien hoe mooi rys die skons op die sny kante want dis met 'n baie skerp mes net met een druk gesny.

Lig nou die stukke op met 'n spatel en plaas op 'n bakplaat wat gespuit is met Cook and Spray of iets dergliks. Posisioneer dit min of meer soos jy dit gesny het met so finger spasie tussenin.

Verf nou liggies met 'n geklitsde eier en moenie die eier teen die kante laat afloop nie want dit gaan gou hard word en keer dat jou skon rys.

Ek hou daarvan om 'n braai spesery oor die eier te strooi as ek savoury gaan of kaneelsuiker as ek soet gaan.

My gunstelinge met melk
In die oond in en stel die klokkie vir 10 minute. Onthou dis 'n baie warm oond en afhangende van die dikte van jou skons is dit na so tussen 10 en 14 minute reg. Vir my is 12 minute gewoonlik genoeg.

Terloops, ek hou nie van bleeksiele nie. As dit te donker uitkom vir jou, gaan dan 10C laer op jou temperatuur die volgende keer. Maar moenie te gou uithaal nie want dit gaan nie gaar wees nie.

Sodra dit uit die oond kom los ek dit vir 5 minute op die bakplaat en haal dan af en plaas op 'n draad rakkie. Dis seker die Broodbakker in my maar ek glo daai laaste 5 minute rus is wat die verskil maak.

Heerlik vars en bros
Al wat nou oorbly is om met mening weg te val ... botter, room, konfyt, gerasperde kaas, roomkaas ... net waarvan jy hou. Ek verkies 'n glas yskoue melk saam met myne.

Hierdie basiese resep lewer so 550 gr deeg ... ek noem dit maar net vir die wat soos ek aan OCD lei en alles presies wil doen. A jy wil bolletjies maak en in 'n muffin pan bak sal jy 6 van 90 gr kan maak.

Jy kan die resep sonder moeite presies verdubbel maar halvering gaan 'n probleem gee met die eier.


Bak lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Vrydag 26 Januarie 2018

Bees - Kerrie met stamina

Deesdae is ek baie ingestel op die maak van smaaklike kos wat nie mens se begroting uitmekaar ruk nie. Ek glo al die kookprogramme wat ek kyk het my al sterk beinvloed en dis ook reg so.

Dis waarmee ek begin
Ons almal sien hoe kospryse net bly styg en vir baie mense begin dit ernstig raak. Ons as Afrikaners is tradisioneel nie baie puntenerige mense as dit by kosmaak kom nie want ons kook om gesinne te voed. Ons is ook baie geneigd om die goedkoop vleisnitte half skeef aan te kyk.

So vir die volgende paar stories gaan ek daarop fokus om lekker kos te maak wat nie 'n arm en 'n been kos nie.

Vleis afgensy van die bene af.
Vandag se storie gaan oor kerrie en die moontlikhede daarvan. Dit is egter baie belangrik om daarop te let dat die geure absoluut in jou hande is, ek gaan jou net so paar metodes wys wat die finale dis baie aantreklik gaan maak.

Jy benodig ...
1. Gekapte uie
2. Wortels wat in ringetjies gesny is
3. Gekerfde boontjies
4. Aartappel wat in blokkies gsny is
Braai die vleis bietjie
5. Braaivleis spesery, kerriepoeier, tamatiesous, suurlemoensap, suiker, sout peper en Worcestershire sous.
6. Koekmeel
7. Ina Paarman se boepens botteltjies met sous poeier in. Ek verkies die Chicken of Bruin Uie sous.
8. Brisket stukke.

Gebraaidse uie en vleis
Ek begin met 'n pakkie Brisket en soos ons almal goed weet, dit kan maar 'n taai storietjie wees. As ek die bredie tipe disse maak dan werk ek op so 150 gram vleis per persoon. Ek maak so bietjie toegewings vir die vet en bene in my berekening. 'n Pakkie van so 400 gram tot 500 gram is genoeg vir twee groot mense en gaan so bietjie oorskiet laat vir die volgende dag se snaxie.

Sous mooi aan die gang
Ek begin deur die vleis van die bene af te sny en dan in blokkies van so 25mm. Ek plaas die blokkies in 'n bak en begin my speserye by te voeg. Jy kan regtig dit gebruik waarvan jy hou en een van die kerrie mengsels van die rak af gebruik. Ek meng maar my eie kerrie mengsel maar dis nie belagrik nie. Maak seker jy geur die blokkies lekker ... en dis net poeier, niks vog nie.

Nou gebruik ek 'n lekker swaarboom pot en skep so twee eetlepels varkvet in ... jy kan olie gebruik, sonneblom of canola ... nie olyfolie nie. Sodra die olie lekker warm is gooi ek so half teelepel growwe peper en en so bietjie masala in die olie ... jy kan enige van jou spesery mengsel gebruik. Skep ook nou 'n goeie lepelvol van jou gekose kerriepoeier in. Dis belangrik dat jy die kerrie poeier kans gee om lekker warm te word.

As jy sien die speserye begin skuim, gooi die vleis in en roer vinnig met 'n houtlepel. Nou moet jy die vleisies kans gee om te braai. Sodra dit mooi gebraai is skep jy dit uit in 'n bakkie en hou een kant.

Kyk of jy genoeg olie/vet in die pot oor het en gooi by as jy sien dis bietjie droog. Braai nou jou gekapte uie in dieselfde pot. Jy wil dit net sag en deurskynend kry. Skep dit ook nou uit in 'n bakkie vir later. Ek haal altyd my uie uit want as jy dit in los en die kerrie kook gaan jy die uie wegkook.

Klaar en reg vir opdien
Nou moet jy weer kyk of daar genoeg olie in die pot is ... top maar op as dit nie genoeg is nie, jy soek so om en by 3 eetlepels se vet in daai pot. Jy sal ook merk dat daar nou al heelwat goed in die pot bodem begin aanpak ... dis wat jy wil hê. Sodra die olie/vet weer lekker warm is, gooi twee eetlepels koekmeel in die vet en roer ... jy soek so olie/meel pasta. Roer goed en gee dit so minuut of wat om bietjie deur te kook.

Gooi 500ml koue water in 'n maatbeker saam met twee opgehoopte teelepels van die Ina Paarman sous poeier van jou keuse. Roer maar, dit gaan klonterig lyk maar dis ok want die poeier hou nie eintlik van koue water nie.

Die olie/meel pasta behoort nou redelik dik aan te pak in jou pot. Gooi die helfte van die sous water nou in die pot in. Dit behoort regtig kwaai te spoeg en spat, gebruik nou 'n metaal lepel en krap al die aangepakte goed los ... die mengsel behoort baie vinnig te verdik, voor dit weer begin vas brand, gooi die res van die water mengsel in. Roer baie goed en skraap daai pot mooi skoon. Op die stadium behoort daar nou lekker dik sous in die pot te wees en nou draai jy die hitte af na laag toe.

Skep die gebraaide vleis nou in die pot en as die sous bietjie dik lyk, gooi 'n koppie water by. Op die stadium gooi ek ook die bene in die pot in, daar is baie smaak in die bene. Roer goed en sit die deksel op ... nou moet hy prut vir so 30 tot 45 minute sonder om aan te brand. Roer maar so elke 10 minute met die metaal lepel en skraap daai bodem terwyl jy roer. Ek is nie bang vir die ekstra water nie want ek kook dit af op die einde, as jy te min water insit gaan jy sukkel met aanbrand.

ManKos Bunny Chow
Na 45 minute gooi jy weer water in as die sous te dik lyk vir jou, onthou, nou moet jy die groente gaar kook saam met die vleis en dit gaan so 30 minute neem, as jou sous aanvanklik te dik is gaan dit maklik aan brand.

Sodra jy tevrede is dat die groente sag is gooi jy die uie terug in die pot ... roer mooi deur en laat prut vir so 5 minute.

Nou is die tyd om die pot af te rond, gooi 'n goeie blerts tamatiesous in en 'n spuit Worcestershire sous. Roer deur en nou begin jy proe.

Die eerste proe kan dalk baie moontlik redelik sinneloos proe maar jy moet weet waar jy begin.

Heel eertse gooi jy nou suiker in ... of appelkooskonfyt of heuning ... roer deur en proe ... jy moet nou die soet kan proe.

Volgende kom die suurlemoen of asyn ... gooi bietjie by, roer deur en proe ... jy moet die soet kan proe en die suur ... die vat soms bietjie oefening maar ek noem dit nou sodat jy weet waarheen mik jy. Tot op die stadium het ek nog geen sout ingesit nie ... die rede hiervoor is dat baie van die mengsels wat gebruik is, het sout in. Sodra jy tevrede is dat die soet en suur mooi in balans is, dan moet jy besluit oor die sout ... onthou, sout is 'n smaakmiddel en nie 'n geurmiddel nie. Sout verbreed die smaakprofiel ... wees versigtig. Ek skep gewoonlik so teelepel vol sous en dan sprinkel ek sout op dit en proe ... dit gee my 'n goeie idee hoeveel sout ek moet bygooi.

Nou is alles mooi in balans en as jy voel dat die kerriesous nie hard genoeg skop nie, gooi maar so paar druppels peri-peri sous in soos Tabasco.

Nou het jy 'n lekker stewige kerrie stew in daai pot wat jy op verskeie maniere kan opdis. Pap, aartappel, rys, koring of net in 'n uitgeholde broodjie as 'n bunny chow.

Natuurlik is daar miljoene smaak variasies moontlik maar my doelwit is net om jou die basiese idees van die metodes te laat snap. Om die kerrie te maak gaan so twee tot twee en half uur neem, so dis nie kitskos nie.

Vir bietjie luuksheid steek ek die sous met die kerrie/masala en dan op die einde maak ek hom mak met lekker dik room wat ek by roer.

Wat belangrik is om op te let is dat ek alles in die een pot gedoen het. Soos die proses aangeloop het het elke keer geure en smaak van die vorige proses oorgedra na die volgende stap toe.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Saterdag 20 Januarie 2018

Konfyt - Appelkoos en meer

As daar nou iets is wat my sommer breed laat glimlag, dan is dit 'n lekker sny vars Brood met goeie botter en lekker Appelkooskonfyt. En dis waar dit deesdae vir die meeste van ons stop ... die gedagte aan lekker Appelkooskonfyt. Dit wat in die blikkies opgedis word is lankal nie meer Appelkoos nie ... dis 'n soet pasta wat die regte kleur het maar weinig smaak het van appelkoos ... dis blykbaar grotendeels pampoen.

Konfyt kook is lekker vir my
Nouja hierdie is mos 'n ManKos blog en nou wonder baie seker wat het konfyt te maak met ManKos ... wel die waarheid is dat vir die meeste mans is Vleis en Brood al wat hulle nodig het maar so lekker blerts ordentlike konfyt maak dit gewoonlik net soveel meer lekker.

Soos ek al menigmaal gesê het, ek is nie groot op resepte skryf nie want daar is miljoene van die goed al geskryf en niks is regtig sommer uniek en nuut nie. So ek vertel gewoonlik maar die storie rondom die maak van iemand se dis met sy of haar resep.

Vanaand is een van die aande wat ek egter 'n resep gaan gee maar die verskil is dat ek gaan vir jou vertel van 'n manier om konfyt kook heelwat makliker te maak ... ja ... dis die ManKos manier van konfyt kook.

So toets ek vir die "SetPoint"
Dis nou die tyd van die jaar wat die meeste vrugte redelik beskikbaar is en soms is grootmaat koop goedkoop of jy is gelukkig om 'n boks vol iets persent te kry. Dis ook die tyd wat ek op baie kos groepe die vraag sien ... Hoe kook ek die of daai konfyt. Wat dan daarop volg is stortvloed van resepte en metodes en natuurlik ook die lyne en lyne se snert oor die of daardie onontbeerlike byvoegings of die of daai eeu oue "spesiale" ietsie wat eenvoudig net gedoen moet word. Ek lewer selde kommentaar en lag net in my mou ... as jy gedink het daar is Tokkelossie stories rondom Suurdeeg Brood bak ... wel, trek vas jou kousbande ... die stories rondom konfyt is nog meer vergesog en skrikwekkend.

Laat ek dit gou duidelik maak ... die metode wat ek vir julle hier gaan beskryf het ek reeds suksesvol gebruik vir Appelkose, Perskes, Tamaties, Suurlemoene, Guava en Lemoene. So, jy gaan die een storie lees en dan gaan jy bykans al die lekker konfyte self maak. Vye konfyt is anders en so ook Waatlemoenkonfyt.

In konfyt kook is daar so paar basiese dinge wat moet gebeur anders is die resultaat nie goed nie. Hier is die "Pressure points" soos die Masterchef mense sou sê ...

1. Jy moet al die water uit die vrugte kry.
2. Moenie dat die mengsel kook voor die suiker nie opgelos is nie.
3. Moenie die konfyt te donker laat word nie.
4. Kry die "set point".

Die 4 punte is waarom konfyt maak draai en ek gaan jou vertel hoe om dit te behaal sonder om mal te word agter die potte.

Bestandele:

1 kg Vrugte - Appelkoos, Perske, Tamaties, Guava, Suurlemoene, Lemoen
750gr tot 850gr Suiker (Jy kan dit kies afhangend van hoe soet jy die konfyt wil hê.)
125ml Vars suurlemoensap
1 tot 3 teelepels growwe sout. (Ek gebruik gewoonlik so 2 teelepels.)

Heel belangrikste is die suiker verhouding tot die vrugte - 75% tot 85% Jy kan self bietjie eksperimenteer met bruinsuiker, dit gee 'n heerlike karamelsmaak wat lekker is met Tamatie en Suurlemoen.

Hierdie is die basiese resep vir al die konfyte en dit is hoe ek die meeste van my konfyt maak.

So werk die lepel vir oorkook
Jy kan nou verder gaan en allerhande speserye byvoeg ... Chili Flakes by die Tamatie, Gemmer by die lemoen en suurlemoen, ster anys by die perske ... eksperienteer na hartelus maar maak eers een pot sonder al die byvoegings.

In die verlede het ek my perskes afgeskil soos my ouma dit gedoen het tot ek op 'n dag die klomp perskeskille afsonderlik gekook het en fyn geklits het met 'n stick blender en besef het dat daar 'n helse klomp smaak in daardie skille is ... toe stop ek om my perskes af te skil.

Deesdae was ek my vrugte mooi in louwarm water en die perskes skuur ek skoon met 'n skottelgoed sponsie ... daai hare is nie lekker of mooi in jou jêmpot nie.

Hierdie skif skep jy af
Appelkose breek ek net in die helfte en dis al. Perskes sny ek van die pit af en sny in repies, nie te dun nie, so dik soos 'n potlood min of meer. Tamaties sny ek in blokkies so min of meer so dik soos my duim. Guavas sny ek in skywe, so 4 of 5 per vrug en dan sny ek die skywe in kwarte. O ja, guavas skil ek af met a groente skiller vir konfyt, vir chutney los ek die skille aan. Lemoene en suurlemoene skil ek af en sny in skywe en dan sny ek die skywe in kwarte.

En dis wat ek doen vir die voorbereiding.

Nou benodig jy 'n bak van 5 liter. Dis belangrik dat die bak al die vrugte en die suiker kan hou.

Weeg jou vrugte en gooi dit in die bak. Weeg nou die suiker af en strooi dit bo-oor die vrugte sodat jy al die vrugte bedek. Sprinkel die sout nou oor.

Skil Guavas
As ek perskes kook gooi ek ook die pitte in die bak want daai vleisies om die pit kook lekker saam met die konfyt en is as kind was dit soos lekkergoed vir ons.

Met appelkose tel ek gewoonlik 12 pitte uit en gooi dit in saam met die vrugte. Die rede hoekom ek dit tel is sodat ek weet hoeveel ek moet soek voor ek die konfyt bottel. Die pitte gee smaak aan die konfyt.

Maak nou die bak toe. Ek maak dit gewoonlik toe met kleefplastiek.

Laat staan nou die bak met suiker en vrugte vir 12 tot 18 ure. Hoe langer hoe beter.

Guava konfyt
Ek glo die meeste mense kan onthou hoe die oumense se konfyt kokery 'n lang en irriterende kookproses was, ure en ure op die stoof met die onafwendbare oorkokery of aanbrandery. En dit is wat die meeste mense afsit om konfyt te kook.

Nou die rede vir die helse lang kokery is om die water uit die vrugte uit te kry en as jy nou bytel die water wat in die pot gegooi word in die begin om die kokery aan die gang te sit dan sit jy met 'n moerse klomp water wat uitgekook moet word en dis hoekom dit ure en ure gevat het.

Die vrugte wat jy nou onder die suiker toegegooi het gaan nou deur 'n natuurlike proses van ontwatering. Die suiker gaan elke druppel vog uit daardie vrugte trek en sodoende die basis vorm vir die suikerstroop. Die heel belangrikste is dat daardie vog is vol van die vrugtegeur wat onmiddelik jou stroop 100de maal meer geurig maak as gewone water. Veral die perskes gaan aan die einde van die 18 ure baie dun lyk. Moenie stress nie ... sodra jy begin kook gaan die perske stukkies weer lekker opswel.

Dis hoekom ons konfyt kook
Na 6 ure roer ek gewoonlik die bak vrugte en suiker met 'n houtlepel. Daar is nou baie vog in daai bak en jy begin 'n stroop vorm. Die roer verseker dat daar nie vrugte stukke bo-op die stroop dryf en nie ordentlik ontwater nie.

By 18 ure sal jy vind dat 'n groot klomp van die suiker reeds opgelos het in die onttrekte vog. So die natuur het die grootste deel van die kook werk vir jou gedoen sonder enige kokery en jy het baie minder water om mee te begin.

Nou kom ons by die regte kokery en ek het vir myself 'n ordentlike konfytpot gekoop. Die belangrikste van die konfyt pot is dat dit 'n lekker dik bodem moet hê anders gaan jy jou konfyt maklik aanbrand.

Tweedens moet hy groot genoeg wees anders gaan jou konfyt oorkook. My pot is 8 liter.

Nog 'n "SetPoint" toets
Roer jou suiker vrugte mengsel goed om meer suiker op te los en gooi die mengsel in jou pot. Gooi nou a halwe koppie water, 125ml in die bak en spoel die oorblywende suiker uit in die pot in. En dis jou mengsel waarmee jy begin.

Nou moet jy jouself kalm kry en staan maar en droom daar by die stoof. Jy moenie die pot alleen los en ander dinge doen nie. Pas hom op ... dis ongeveer 30 tot 45 minute wat jy nou insit vir baie lekker konfyt. 'n Klein opoffering om te maak in tyd.

Sit die plaat op medium hitte en roer die mengsel gereeld. Jy moet baie seker maak al die suiker is opgelos VOOR die mengsel begin kook. Dit vat so 5 tot 10 minute. Sodra die suiker opgelos is, dan draai ek die gas vol oop en roer bykans voortdurend. Binne 5 minute begin die mengsle lekker borrel en kook en begin skuim maak. Nou stel ek my horlosie vir 15 minute.

Perske konfyt
Ek lê 'n groot houtlepel oor die pot, klink na 'n ouvrou storie maar glo my vry, dit keer dat die mengsel sommer oorkook.

Jy gaan spoedig sien dat daar baie skuim begin vorm en kwaai opstyg. Roer hom maar plat ... moenie nou die storie volg van "SKEP DIE SKUIM AF NIE" ... daardie skuim bevat die oorgrote meerderheid van jou konfyt se smaak ... hanteer dit ... of skep maar af as jy smaaklose winkel konfyt wil hê. Die skuim word gevorm deur die stoom van die water wat uitkook en is deel van die proses. Aanvanklik sal die skuim baie lig wees maar namate die stroop verdik sal die borrels al groter word.

Pasop tydens die wilde kokery ... die onderste laag van die konfyt is baie warmer as die bolaag en sodra jy die lepel insteek om te roer gaan daardie warm laag basies ontplof soos jy die stoom vrylaat en die pot gaan woes borrel en spat. Glo my vry dat daai konfyt spatsels brand kwaai waar dit jou vel tref.

Die resultaat
Na 15 minute gaan die alarm af en nou draai ek die plaat af na medium.  As jy haastig is en nie die plaat afdraai nie kan jou konfyt baie donker word. Tydens die 15 minute het dit 'n paar keer gelyk of die pot gaan oorkook. Nou sal die pot kalmeer.

Roer nou die suurlemoensap by. Op die stadium sal jy nou sien die skuim is baie minder maar daar begin sulke dik duidelike digte skuim kolle en strepe op die konfyt vorm. Ek skep dit versigtig af met 'n grootlepel wat ek 90 grade gebuig het. Hierdie dik "skif", soos my ouma dit genoem het, kan jy gerus afskep want dis meesal onsuiwerhede wat op die vrugte was ... dit is ook soms duidelik olierig ... dis die was wat die verpakkers op die vrugte spuit en jy wil dit nie in jou konfyt hê nie.

Soet Lemoen konfyt
Nou kom ons by die plek waar jy die "set point" moet kry. Nou daar is baie stories oor dit en die mees algemene een is om van die konfyt op 'n koue piering te skep en dan die plassie met jou vinger te stoot om te sien of hy rimpel. Ek het gevind dis te omslagtig en nie baie betroubaar nie.

Vou 'n vel handoekpapier dubbel en sit dit op 'n klein bordjie. Plaas die bordjie op die stoof naby jou pot.

Ek stel nou my horlosie vir 5 minute. Sodra die klokkie afgaan roer ek die pot goed en sit so blertsie van die konfyt op die papier. Jy sal duidelik sien hoe die papier die water opsuig ... solank daardie blertsie 'n duidelike nat rand maak is die konfyt nog nie reg nie. Toets elke 5 minute. So by die 3de of 4de een gaan jy sien die konfyt druppel bly meer droog. Die toets is 10 sekondes ... as die randjie droog bly vir 10 sekondes is jou konfyt reg en jy kan maar die plaat afsit.

Vrugte onder die suiker
As jy pitte ingesit het moet jy dit nou uithaal. As jy wil kan jy nou so eetlepel vol goue stroop bymeng, net so bietjie ekstra versekering teen sandsuiker.

As jou konfyt ooit versandsuiker in die bottel ... moenie stress nie ... skep die bottel uit in 'n glasbakkie ... roer een eetlepel vars suurlemoensap by en blits in die mikrogolf oond vir 1 minuut ... roer mooi en blits weer. Blits dit 5 keer vir een minuut en roer. Bottel weer.

As ek perske konfyt kook laat ek die pot nog 5 minute kook na die laaste toetsie. Dit gee vir jou sulke lekker taai "rek en trek" perske konfyt. Moenie te vêr gaan nie want dan gaan die konfyt tammeletjie maak in jou bottels en jy gaan dit nie maklik uitgeskep kry nie. Ek maak sulke taai perske konfyt om in my beskuit te gebruik.

Suiker doen sy werk
Daar het jy dit ... al die "Pressure Points" gehanteer in niks langer as 40 minute nie. Suiker was opgelos voor jy kook, pot het nie oorgekook of aangebrand nie en jy het die perfekte "SetPoint".

Nou vir die bottel. Spoel jou flesse uit met warm water en sit net so nat in die mikrogolf vir 3 minute. Kook 'n ketel water en sit 'n glas bak by jou op jou werksplek.

Haal die bottels uit die mikrogolf en keer om op 'n vadoek om enige water wat nog in mag wees uit te laat.

Skep nou jou bottels vol ... ek het so lekker wye bek tregter gekoop om te help.

ManKos ... Brood en konfyt
Sit die deksels in die glasbak en gooi die kookwater op dit. Ek haal die deksels uit met 'n vurk en tik die water af op papierhandoek. Draai die deksels op en laat staan nou om af te koel.

En dis hoe maklik konfyt kook is.

Dis ook relatief spotgoedkoop gemeet teen gekoopte konfyt.

Hierdie storie is saamgestel uit dure ondervinding en dinge wat ek by my ouma, my ma, Helena Kruger, Daleen Brits en by Annelien Pienaar geleer het.

Regte ManKos ... Brood en Vleis
Ek glo ook dat omdat mans gewoonlik erg oor konfyt is, is dit niks minder as reg dat hulle die konfyt kook nie. Trek jou man nader en laat hy lees en moedig hom dan aan om dit te doen. Baie van julle gaan frons omdat ek dalk te min suiker gebruik, maar ek doen dit so want ek wil ook die vrugte proe. Meeste mense reken jy moet die suiker netsoveel as die vrugte maak ... ek doen nie.

Daar is mense wat jou vertel jy moet botter ingooi om die skuim te keer ... hmmmm ... ek sê liewer niks want dit sal onbetaamlike woorde wees. Die hele skuim proses is deel van die wiskunde om die water uit te kry. Bestuur dit net behoorlik want dit moet gebeur.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 14 Januarie 2018

Wors - Nooit te oud om te leer nie

Ek het al 'n paar ManKos stories geskryf oor die braai van so paar snitte vleis ... vandag gaan ek oor wors praat. Boerewors is so eie aan Suid Afrikaners soos Olyfolie aan Italianers en bier aan Duitsers ... feitlik elkeen van ons weet presies wat Boerewors is. Meer belangrik, omtrent elkeen weet volgens hom, presies hoe mens wors moet gaar maak.

Lekker gebraaide wors
Die mees algemene idee is dat mens wors nie op te warm hitte moet sit nie want dan bars die vel. So tradisioneel word die wors altyd laaste op die vuur gesit waneer die kole al aan die afgaan is. Nou hier op die vuur is dan ook die plek waar die Braaimeesters hulle passies regtig uithaal en jy sien dinge wat jou of met afgryse vul of met verbystering na die manewales laat staan en kyk. Hierdie fiasco duur enigeiets van 15 minute tot 45 minute ... onthou daai vuur is aan die vrek en wors word basies gekook. Dan is daar nog die meesters wat die wors vol gate steek kwansuis om te keer dat die derm bars en jy staar met groot oë na die strale sappigheid wat op die reeds vrekkende vuur val.

Die resultate is altyd min of meer dieselfde ... 'n wurgdroog stukkie derm met vleis binne in, of so vaal gekookte derm met vleis in.

Maak die wors goed droog
Ek moet erken dat ek myself ook skuldig gemaak het aan baie van die bogenoemde praktyke.

So paar dae gelede kom ek op 'n video af wat deur Frans Blaauw van Namibië gemaak is. In hierdie video draai hy elke idee wat ek oor wors gehad het, behoorlik op sy kop. Die video is op my ManKos Facebook bladsy.

Frans maak die volgende stellings ...

1. Worsvel bars nie van die hitte nie maar van die sous wat in die wors gesit word. So chakalaka en sosatie wors sal geneig wees om te bars want die speserye en sous verswak die vel.

2. Swak derms is ook die rede dat die vel sal bars op die vuur.

3. As die wors self nat is kan die vel ook bars op die vuur.

Frans laat sy wors eers winddroog raak voor hy dit in die rooster toeknip.

Lekker warm vuur
Laastens sit hy die wors direk in die kole neer, so warm as moontlik. So twee tot 3 minute op 'n kant en dan af.

Ek sit so rukkie en dink oor wat ek in die video gesien het en stap kombuis toe. Ek haal 'n pakkie wors uit die vrieskas en sit dit op "Defrost" in die mikrogolf oond. Terwyl die proses aan die loop is gaan haal ek my toeknip roostertjie en maak die ding skoon.

Die wors is nou reg en ek skeur die pakkie oop. Natuurlik is die wors nou baie nat en ek besef dat winddroog nie gaan werk in die somer in die Laeveld nie en ek maak die wors mooi droog met handoek papier.

7 minute op die vuur
Ek rol die wors netjies op in die rooster en knip toe. Nou laat staan ek die rooster sommer so in een van die opwasbakke terwyl ek wag dat my braaier warm word. Ek braai al sedert 1986 op gasbraaiers en dit is my gekose manier van braai ... houtvure is vir atmosfeer sover dit my aangaan.

So 10 minute later is die braaier goed warm, nou nie heeltemal so warm soos waneer ek steak braai nie maar baie warmer as wat ek ooit so droom om wors te braai.

Ek sit die rooster op die vuur neer en kyk op my horlosie. Weldrae kan ek sien en hoor dat daar aksie is en ek lig die rooster vinnig op, braaimerke begin wys en ek sit die die rooster weer plat neer. Drie minute later dop ek die rooster om en tot my tevredenheid sien ek die wors is klaar gebraai op die een kant. Ek doen die tweede kant en na 7 minute is die wors op die bord.

Mompelend draai ek die gas toe en stap kombuis toe.

Poppie kyk verbaas na my ... "Is daai wors gaar ?"

"Ons sal maar sien, ek het vanaand Stefaans Blaauw se metode probeer."

Sappige wors op die bord
Wel, ek is hoog in my noppies ... die wors is goed gebraai en nie een enkele bars in die vel nie. Na die eerste poging besef ek dat ek die braaier nog warmer kan maak en die braaityd met so 2 minute kan sny.

En so gebeur dit dan hierdie ou brak 'n nuwe toetjie leer.

Die volgende oggend maak ek worsrolletjies vir die naweek en die oorskiet wors braai ek in die pan op die stoof. Weereens vat ek Stefaans se paadjie en maak daai pan hel warm. Ek sit die stukkies wors in en die rook trek. So 2 minute en ek draai die wors om ... die vel is reeds goed gebraai en ek glimlag. Vier minute later skep ek die wors stukkies op 'n bord en sit die gas af. Heerlik gebraai en sappig met weinig sous of vet in die pan ... alles het in die wors gebly.

Nouja ... probeer die manier gerus en dalk vind jy uit dat jy jou hele lewe lank wors verkeerd gebraai het ... in my huis gaan daar verseker baie meer wors op die tafel beland.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Woensdag 10 Januarie 2018

Eetplek - Crafty Butcher Nelspruit.

So paar dae gelede besluit ek om bietjie te gaan kyk hoe lyk die Crafty Butcher, ek was baie jare terug daar toe dit nog iets anders was en die ligging van die plek was vir my mooi en pas perfek in by 'n Laeveld eetplek. Geen toegeboude eetkamers nie ... nee, alles is mooi oop op die groot dek en jy het 'n goeie uitsig oor Nelspruit. Vir my die ideale opset.

Crafty Butcher Ontvangs
By ons aankoms is ons vriendelik gegroet en flink na 'n tafel in die een hoek van die dek geneem. Ek was baie tevrede met dit. Ek is 'n buitelug mens en voel sommer maklik ingehok, hierdie plek laat my kalm en rustig voel.

Gesellige atmosfeer
Ons bestel drankies en begin die spyskaart verken. Daar is heelparty items op wat my oog vang en ek begin die kelnerin uitvra ... die hoeveelheid disse wat nie beskikbaar was nie laat my frons maar ek gaan aan. Terloops, ek dink dis nie baie goed dat soveel items "Out of Stock" is nie ... veral nie net na 18h00 in die aand nie.

Die diens was goed en binne 10 minute was my voorgereg op die tafel en 20 minute later die hoofgereg. So vir diens is dit volpunte van my af.

Mooi uitsig
Die Tequila Sunrise Prawns was mooi opgedien en ek hou baie van die sous. Die prawn self was effe oorgaar en effe melerig ... ek gaan dit maar afskryf teen "Die Tyd van die Jaar" en niks verder oor dit sê nie ... ek sal nie weer prawns hier bestel nie.

Die wat my ManKos Blad volg sal weet ek is 'n ou wat gatvas is oor Steak en ek verouder my eie snitte. So as 'n reël bestel ek nie sommer Steak by 'n eetplek nie want die kanse is baie goed dat ek moerig gaan wees en dit ongemaklik gaan maak vir my gaste en die eetplek personeel. So, ek vermy die onsmaaklikhede en bestel nie Steak nie.

Tequila Prawns
Op hierdie aand het ek egter besluit dat die algemene indruk van die plek is dat hierdie plek trots is op 'n hulle beesvleis en mens voel bykans soos 'n ketter om nie 'n groot vleisdis te bestel nie. So gee ek maar in en bestel ... Assegaai Steak. My vrou kies die Ladies Fillet en my gas bestel die Chicken Caesar Salad.

Assegaai Steak
Met die aankoms van die kos lyk dit smaaklik en ek sit vir so rukkie en kyk net. My gaste se kos lyk goed en ek fokus op my dis. Die Assegaai Steak is heelwat kleiner as die wat ek self opdis en ek verwag dat die vleis sag en geurig sal wees want dis duidelik 'n baie jong bees se "chop" die. Die vetlagie is 100% binne perke en my mond water. Ek het gevra vir a Baked Potato en kry toe ook Wedges by ... nie ernstig nie want my gaste het die wedges geniet. Die gebakte aartappel was heerlik en die pepersous wat ek gevra het was smaaklik en geurig.

Die steak was reg gaargemaak soos ek versoek het en baie geurig. Daar was so effe suur ondertoon wat kenmerkend is van genyde steak wat oornag in 'n yskas maar was nie oorweldigend nie. Siende dat die plek ook sy eie slaghuis het moet hulle dalk nie die snitte op die been te vêr vooruit in porsies sny nie ... as hulle nie anders kan nie kan die snitte as enkel snitte lugdig verseël word ... net my mening.

Ladies Fillet
Ek het my maaltyd geniet en sal dit weer bestel.

My vrou was tevrede met haar keuse van die fillet en my gas het gehou van die Chicken Caesar Salad.

Dit was 'n heerlike aandjie en ek het met belangstelling gesien hoe 'n paar tafels die reuse platters vir 4, 6 en selfs 8 mense bestel.

Chicken Caesar Salad
My enigste werklike irritasie was die klein dogtertjie wat die heeltyd die hele dek vol gehardloop het en uit volle bors vir haar ouers geskreeu het. Lyk my die Spur insident het eienaars onwillig gemaak om ouers aan te spreek oor kinders se onvanpaste gedrag ... dis jammer want dis die soort ding wat maak dat ek nie na 'n eetplek toe gaan nie.

Ek dink eienaars moet 'n keuse maak, wees polities korrek en draai hulle koppe weg van wangedrag om die ouers van die ongepoetste kinders te paai. In die proses sal die mense wat ook hulle aand wil geniet, vervreem. Of tree ferm op en spreek die ouers van die wilde kinders aan. Dis my opinie en ek staan daar by. Daar staan tog duidelik ... Reg van Toegang Voorbehou.

Crafty Butcher ingang
Die rekening was heeltemal billik en goeie waarde vir geld en die kelnerin het haar fooitjie werklik verdien. Sy was baie vriendelik en baie flink.

Ons het koffie oorweeg maar die gillende kind was besig om my grense van selfbeheersing te toets en terwille van my eie veiligheid en vryheid het ons maar liewer besluit om die koffie elders te gaan geniet.

Ter opsomming ... die Crafty Butcher in Nelspruit sal my sekerlik weer sien. Die kos was lekker en die atmosfeer en ligging is baie lekker ... ek filter maar die skril gille uit as ek dit sê.

Ek het die Crafty Butcher op 29 Desember 2017 besoek.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Maandag 01 Januarie 2018

Brood - ManKos Wonder Brood

ManKos Wonder Brood ... nou hoekom "wonder" ... wel jy gaan wonder hoekom het jy nie al lankal die Brood gebak nie en jou gesin gaan wonder hoekom bak jy so min.

Soos die meeste van julle sekerlik weet, ek is 'n toegewyde suurdeeg Brood bakker en bak selde met kitsgis as dit by brood kom. maar die waarheid is ook dat suurdeeg is langsame proses en verg kundigheid en vaardigheid om 'n goeie Brood uit die oond te kan haal. Ek het onlangs ingeskryf vir 'n Brood Bak Kompetisie en moes 'n basiese resep so bietjie kinkel. Die oorspronklike resep is Annelien Pienaar se veelsydige witbrood. Die hele tyd was dit egter vir my van kardinale belang om heerlike Brood te kry wat nie net smaaklik is nie maar wat ook baie veelsydig is met 'n ordentlike raklewe.

So het ek toe na bietjie kopkrap by hierdie Wonder Brood uitgekom. Ek het die Brood 3x gebak en kan dus met vrymoedigheid sê dat die resep werk soos hy moet.

Ervare Broodbakkers sal dadelik merk dat die 'n effense verrykte deeg is.

As jy nuut is met Brood bak stel ek voor jy volg die paadjie ... meet maar elke bestandeel af in sy eie houertjie voor jy enigeiets begin meng. Sodoende kan jy nie maklik iets vergeet nie.

Lees die resep baie mooi deur sodat jy a goeie idee het wat jy moet doen.

Hier is jou bestandele ...

120 gram - Wholewheat Meel - Ek gebruik Millstone se meel.
380 gram - Wit meel - Koekmeel of Witbroodmeel. Ek het Millstone se Farina 00 gebruik.
300 gram - Louwater - Dit is die water vir die deeg.

PS ... As jy 'n ervare Broodbakker is sal jy merk die is 'n redelike nat deeg, as jy onervare is kan jy die louwater verminder met 40gr ... met ander woorde gebruik net 260gr water. Dit sal die deeg makliker maak om te hanteer.

15 ml - Heuning - Dis een eetlepel en ek gebruik Rou Fynbos heuning.
100 gram - Double Cream Yoghurt. - Jy kan gegeurde yoghurt gebruik, ek gebruik Plain.
35 gram - Botter of Bak Margerine. Gesmelt.

7 gram - Kitsgis - Ek gebruik die Pers pakkies wat vir broodmasjiene aanbeveel word.
30 gram - Lou Water - 30 ml. Dit is die water waarin jy gis laat aktiveer. Ek weeg dit in koppie.

10 gram - Sout.

Metode ...

1. Gooi die kitsgis in die 30ml water in die koppie en roer met 'n tandestokkie.

2. In jou mengbak, whisk die meel goed, dit meng die meel en dit sit lug in die meel.

3. Gooi nou die louwater, heuning, yoghurt en botter by die meel. Voeg ook nou die kitsgis by. Meng die bestandele met 'n houtlepel net totdat alles mooi bymekaar gekom het. Bedek die mengsel nou met plastiek en laat staan net so vir 45 minute.

4. Na 45 minute sal jy merk dat die deeg begin taai word het en begin blink. Strooi nou die sout oor en begin knie. In 'n menger knie ek vir so 4 tot 5 minute en met die hand gaan dit jou so 10 minute neem.

5. Vat nou 'n skoon bak en smeer die bak mooi met die olyfolie. Plaas die deeg in die geoliede bak en maak toe. Laat staan vir 20 minute. Na 20 minute kan jy die deeg op 4 kante trek en oor die die bol vou. Dit werk die olie in die deeg in. Maak 'n mooi ronde bal en maak die bak toe.

6. Nou moet jy die deeg laat rys. Dit neem ongeveer 90 minute om meer as te verdubbel. Maar dit gaan afhang van die temperatuur in jou kombuis.

7. Sodra die deeg genoegsaam gerys het kan jy dit uit die bak uithaal en jou brood vorm. Ek deel die deeg in twee en gebruik twee medium pannetjies.

8. Maak jou oond nou warm terwyl die brode weer rys. Jy gaan in twee fases bak. 10 minute by 230C en dan draai jy die oond af na 180C vir 15 tot 20 minute. Oonde verskil so jy moet maar 'n ogie hou. As jy sien die kors raak te donker dan sit ek ek 'n vel foelie oor die brood.

9. Sodra die brood mooi begin bult in die panne, na so 30 minute of so, verf ek die koppe liggies met melk, strooi papawer saadjies en growwe sout oor en sit in die oond.

Hierdie is 'n baie veelsydige Brood en ek het dit gebruik vir ...

French Toast
Toebroodjies
Roosterbrood

Na 3 dae was die brood nog lekker sag en geuring.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.