Vrydag 26 Januarie 2018

Bees - Kerrie met stamina

Deesdae is ek baie ingestel op die maak van smaaklike kos wat nie mens se begroting uitmekaar ruk nie. Ek glo al die kookprogramme wat ek kyk het my al sterk beinvloed en dis ook reg so.

Dis waarmee ek begin
Ons almal sien hoe kospryse net bly styg en vir baie mense begin dit ernstig raak. Ons as Afrikaners is tradisioneel nie baie puntenerige mense as dit by kosmaak kom nie want ons kook om gesinne te voed. Ons is ook baie geneigd om die goedkoop vleisnitte half skeef aan te kyk.

So vir die volgende paar stories gaan ek daarop fokus om lekker kos te maak wat nie 'n arm en 'n been kos nie.

Vleis afgensy van die bene af.
Vandag se storie gaan oor kerrie en die moontlikhede daarvan. Dit is egter baie belangrik om daarop te let dat die geure absoluut in jou hande is, ek gaan jou net so paar metodes wys wat die finale dis baie aantreklik gaan maak.

Jy benodig ...
1. Gekapte uie
2. Wortels wat in ringetjies gesny is
3. Gekerfde boontjies
4. Aartappel wat in blokkies gsny is
Braai die vleis bietjie
5. Braaivleis spesery, kerriepoeier, tamatiesous, suurlemoensap, suiker, sout peper en Worcestershire sous.
6. Koekmeel
7. Ina Paarman se boepens botteltjies met sous poeier in. Ek verkies die Chicken of Bruin Uie sous.
8. Brisket stukke.

Gebraaidse uie en vleis
Ek begin met 'n pakkie Brisket en soos ons almal goed weet, dit kan maar 'n taai storietjie wees. As ek die bredie tipe disse maak dan werk ek op so 150 gram vleis per persoon. Ek maak so bietjie toegewings vir die vet en bene in my berekening. 'n Pakkie van so 400 gram tot 500 gram is genoeg vir twee groot mense en gaan so bietjie oorskiet laat vir die volgende dag se snaxie.

Sous mooi aan die gang
Ek begin deur die vleis van die bene af te sny en dan in blokkies van so 25mm. Ek plaas die blokkies in 'n bak en begin my speserye by te voeg. Jy kan regtig dit gebruik waarvan jy hou en een van die kerrie mengsels van die rak af gebruik. Ek meng maar my eie kerrie mengsel maar dis nie belagrik nie. Maak seker jy geur die blokkies lekker ... en dis net poeier, niks vog nie.

Nou gebruik ek 'n lekker swaarboom pot en skep so twee eetlepels varkvet in ... jy kan olie gebruik, sonneblom of canola ... nie olyfolie nie. Sodra die olie lekker warm is gooi ek so half teelepel growwe peper en en so bietjie masala in die olie ... jy kan enige van jou spesery mengsel gebruik. Skep ook nou 'n goeie lepelvol van jou gekose kerriepoeier in. Dis belangrik dat jy die kerrie poeier kans gee om lekker warm te word.

As jy sien die speserye begin skuim, gooi die vleis in en roer vinnig met 'n houtlepel. Nou moet jy die vleisies kans gee om te braai. Sodra dit mooi gebraai is skep jy dit uit in 'n bakkie en hou een kant.

Kyk of jy genoeg olie/vet in die pot oor het en gooi by as jy sien dis bietjie droog. Braai nou jou gekapte uie in dieselfde pot. Jy wil dit net sag en deurskynend kry. Skep dit ook nou uit in 'n bakkie vir later. Ek haal altyd my uie uit want as jy dit in los en die kerrie kook gaan jy die uie wegkook.

Klaar en reg vir opdien
Nou moet jy weer kyk of daar genoeg olie in die pot is ... top maar op as dit nie genoeg is nie, jy soek so om en by 3 eetlepels se vet in daai pot. Jy sal ook merk dat daar nou al heelwat goed in die pot bodem begin aanpak ... dis wat jy wil hĂȘ. Sodra die olie/vet weer lekker warm is, gooi twee eetlepels koekmeel in die vet en roer ... jy soek so olie/meel pasta. Roer goed en gee dit so minuut of wat om bietjie deur te kook.

Gooi 500ml koue water in 'n maatbeker saam met twee opgehoopte teelepels van die Ina Paarman sous poeier van jou keuse. Roer maar, dit gaan klonterig lyk maar dis ok want die poeier hou nie eintlik van koue water nie.

Die olie/meel pasta behoort nou redelik dik aan te pak in jou pot. Gooi die helfte van die sous water nou in die pot in. Dit behoort regtig kwaai te spoeg en spat, gebruik nou 'n metaal lepel en krap al die aangepakte goed los ... die mengsel behoort baie vinnig te verdik, voor dit weer begin vas brand, gooi die res van die water mengsel in. Roer baie goed en skraap daai pot mooi skoon. Op die stadium behoort daar nou lekker dik sous in die pot te wees en nou draai jy die hitte af na laag toe.

Skep die gebraaide vleis nou in die pot en as die sous bietjie dik lyk, gooi 'n koppie water by. Op die stadium gooi ek ook die bene in die pot in, daar is baie smaak in die bene. Roer goed en sit die deksel op ... nou moet hy prut vir so 30 tot 45 minute sonder om aan te brand. Roer maar so elke 10 minute met die metaal lepel en skraap daai bodem terwyl jy roer. Ek is nie bang vir die ekstra water nie want ek kook dit af op die einde, as jy te min water insit gaan jy sukkel met aanbrand.

ManKos Bunny Chow
Na 45 minute gooi jy weer water in as die sous te dik lyk vir jou, onthou, nou moet jy die groente gaar kook saam met die vleis en dit gaan so 30 minute neem, as jou sous aanvanklik te dik is gaan dit maklik aan brand.

Sodra jy tevrede is dat die groente sag is gooi jy die uie terug in die pot ... roer mooi deur en laat prut vir so 5 minute.

Nou is die tyd om die pot af te rond, gooi 'n goeie blerts tamatiesous in en 'n spuit Worcestershire sous. Roer deur en nou begin jy proe.

Die eerste proe kan dalk baie moontlik redelik sinneloos proe maar jy moet weet waar jy begin.

Heel eertse gooi jy nou suiker in ... of appelkooskonfyt of heuning ... roer deur en proe ... jy moet nou die soet kan proe.

Volgende kom die suurlemoen of asyn ... gooi bietjie by, roer deur en proe ... jy moet die soet kan proe en die suur ... die vat soms bietjie oefening maar ek noem dit nou sodat jy weet waarheen mik jy. Tot op die stadium het ek nog geen sout ingesit nie ... die rede hiervoor is dat baie van die mengsels wat gebruik is, het sout in. Sodra jy tevrede is dat die soet en suur mooi in balans is, dan moet jy besluit oor die sout ... onthou, sout is 'n smaakmiddel en nie 'n geurmiddel nie. Sout verbreed die smaakprofiel ... wees versigtig. Ek skep gewoonlik so teelepel vol sous en dan sprinkel ek sout op dit en proe ... dit gee my 'n goeie idee hoeveel sout ek moet bygooi.

Nou is alles mooi in balans en as jy voel dat die kerriesous nie hard genoeg skop nie, gooi maar so paar druppels peri-peri sous in soos Tabasco.

Nou het jy 'n lekker stewige kerrie stew in daai pot wat jy op verskeie maniere kan opdis. Pap, aartappel, rys, koring of net in 'n uitgeholde broodjie as 'n bunny chow.

Natuurlik is daar miljoene smaak variasies moontlik maar my doelwit is net om jou die basiese idees van die metodes te laat snap. Om die kerrie te maak gaan so twee tot twee en half uur neem, so dis nie kitskos nie.

Vir bietjie luuksheid steek ek die sous met die kerrie/masala en dan op die einde maak ek hom mak met lekker dik room wat ek by roer.

Wat belangrik is om op te let is dat ek alles in die een pot gedoen het. Soos die proses aangeloop het het elke keer geure en smaak van die vorige proses oorgedra na die volgende stap toe.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.