Saterdag 19 Mei 2018

Vark - Vlentertjies is Spotgoedkoop

Ek het lanklaas oor die ding van goedkoper kos gepraat. Dis iets wat my na aan die hart lê en ek is deesdae geweldig pryssensitief as ek disse beplan.

Bulk pak Varbene
Vandag wil ek julle vertel van die ESKORT MEATY BONES. Hier by my Varkwinkel in Nelspruit is dit weggesteek agter in die winkel waar die koppe en pote in groot pakke aangebied word. Met die eerste oogopslag dan wonder mens erg oor wat is nou eintlik in die sak en dis heel normaal om maar verby te hou. Ek is egter nogal 'n nuuskierige mens en ek is ook nie bang om iets vir 'n eerste keer te probeer nie.

Klaar gekook
Sowat 18 maande terug het ek my eerste ontmoeting met die 2kg sak Meaty Bones gehad. Sedertdien het ek dit nog drie maal gekoop en twee van my vriende het dit ook gewaag om die sak bene te koop. Ek het mooi rekord gehou van ons almal se ervaring en vandag kan ek met sekerheid sê dat daar tussen 800 en 1,000 gram vleis aan daardie bene sit. So teen die huidige prys van R49.00 vir die 2kg sak is dit dus om en by R49.00kg vir die vleis.

Heerlike vlentertjies
Wat belangrik is om te weet is dat dit werklik hoë gehalte vleis is. Wat jy in die sak kry is hoofsaaklik rugstring bene wat natuurlik uitval is waneer die duur snitte van die bene afgesny word.

Nou so maak ek ...

Sop
1. Gooi die bene in my stoompot met 'n groot ui wat in stukke gekap word en twee wortels. Dan maak ek 500ml van Ina Paarman se "stock" aan. Ek gebruik of die Hoender sop of Groente sop poeier. Dis die in die boepens botteltjies. So twee opgehoopte teelepels op 500ml water.

2. Nou kook ek die bene vir 50 minute.

3. Haal die bene uit en laat effe afkoel. Dan skraap ek soveel as moontlik van die vleisies af en kook die bene weer vir 20 minute in die stoompot. Nou skraap ek die bene baie skoon.

Pastei
4. Die water sous wat in die stoompot is gebruik ek vir die maak van sop en ek gooi so 100gr van die vlentertjies ook in die sop.

Waarmee jy nou opeindig is 'n bak vol heerlike vark vlentertjies wat ek gebruik in bredies, sop, pasteie en herders pasteie.

Ek en my vrou kry gemiddeld so 4 maaltye uit die bak vleisies uit plus die aanvanklike sop.
Bredie
Nouja na my mening is dit 'n groot winskoop. 10 borde kos waar die proteien ongeveer R5.00 per bord is.

Gaan kyk bietjie by die ESKORT winkel en probeer dit gerus.

Die vlentertjies is baie veelsydig en jy kan ook frikkadelle, krokette en patties met dit maak. Daar is so baie dinge waarvoor die vleisies kan aanwend maar die belangrikste is steeds die feit dat jy baie min betaal vir baie goeie varkvleisies.

Ek dink deur net so bietjie te sit en mooi te dink oor wat ons wil maak kan ons nogal lekker eet sonder om duur te betaal daarvoor.

As jy nie 'n stoompot het nie kan jy die bene in 'n oondpan pak met dieselfde goed as wat ek in die stoompot sit. Maak toe met blinkpapier en sit in die oond teen so 110C vir die nag. Die volgende oggend het jy 'n pan vol heerlikheid.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.