Dinsdag 28 Januarie 2014

Eier rolletjie ... lig en verfrissend

Vannaand was ek nie regtig lus vir baie kos maak nie maar ek wou nogtans iets lekker eet. Ek het 'n lekker varkpens (pork belly) in die oond gehad vir so paar ure en hy lyk lekker. Ryk en krakerig is meer gepas. Terwyl ek so na die vark staar besef ek net dat nou moet 'n man ligloop want hier kom 'n groot etery.

Terwyl ek so na die varkie kyk, draai my kop soos 'n top en ek besef dat dis so mooi varkie dat ek gerus maar ook so bietjie kan uithang met die bykossie. Al wat ek geweet het was dat ek verseker nie stysel gaan maak nie. Krakerige goudbruin aartappels sou mos nou die tradisionele keuse gewees het maar o wee ... dis nie goed vir die gewig nie.

So besluit ek toe mos maar om te eksperimenteer. Poppie (Ek noem my vroutjie Poppie ... ag man ek noem sommer enige meisiemens Poppie) loer my so skuins aan toe ek die pak gemengde blare uit die yskas haal. Sy wil vra maar ek sien sy sien ek is diep ingedagte en het 'n wille mes in my hande, so sy bly maar stil.

Hierdie gaan man kos wees wat vrouens ook like.

Ek vat so handvol blare en bondel dit op en kerf dit fyn. Volgende strooi ek gemengde kruie oor, so blertsie soet mosterd, die wat jy met kondensmelk maak, swartpeper en bietjie sout. Meng die spulletjie mooi en plaas die bakkie in die yskas. Nou is Poppie eers verwonderd want dit lyk vir haar duidelik dis darem bietjie skraps vir slaai vir 2 mense.



Volgende 4 eiers, klits dit met so blerts room en bietjie melk ... ek soek die beslag redelik dun. Bietjie speserye en ek laat staan hom so 10 minute. Ek sit my pannekoek pan op medium hitte met so blertsie olie en 'n stukkie botter. Toe die botter lekker begin borrel toe skep ek die beslag in met a soplepel en bedek die bodem van die pan net mooi. Jy wil die ommelet regtig so dun as moontlik hê.





Hou hom nou mooi dop ... sodra die bokant droog lyk dan gly jy dit uit op 'n bord.



Laat hom nou maar goed koud word. Kamertemperatuur is wat jy soek want anders gaan die eier se hitte jou slaai lelik laat verlep en dis nie mooi om na te kyk nie.




Volgende smeer ek so vier teelepels vol van die slaai oor die helfte van die ommelet, sprinkel so bietjie gerasperde kaas oor en rol hom versigtig maar lekker styf op van die gevulde kant. Soos a swiss roll.









Jy kan regtig enigeiets in die rolletjie sit, fyn biltong, ham, salm, roomkaas, vissmeer, marmite en roomkaas, peppadew en roomkaas ... net wat jou hart begeer.







Dis lekker smaaklik en vullend maar nie swaar nie.

Geniet dit.

PS ... As jy van my stories hou, wees so gaaf om dit te deel en my te "Follow" op Google + ... die knoppies is hier langs jou.

Tot ek weer honger is ... onthou, die lewe is te kort om smaaklose kos te eet.


Maandag 27 Januarie 2014

Potjie vir een ... of twee ...


Ek is seker almal weet hoe moeilik is dit om kos te kook vir een of twee mense, en ek praat nou van kook, groente ensovoorts. Dit is hoekom meeste van ons maar bak of braai.


Daar is altyd oorskiet groente want as jy rys, pampoen, boontjies en aartappels gemaak het dan is dit klaar teveel vir een en meesal ook vir twee.








So paar weke terug loop ek so deur die rakke by Checkers ... kyk, laat ek nou verduidelik ... as ek gaan shop dan is dit 'n moerse mission. Ek begin op een kant van die winkel en ek ek loop deur elke rak. Kyk ordentlik wat is daar en lees etikette en dink oor wat ek met die item kan doen. 

My vrou skarrel die hele plek vol en kom uit alle rigtings aan met ietsie om in die trollie te sit. Dit werk glad nie vir my nie, ek is 'n intensiewe shopper en dis soos 'n avontuur vir my om deur die rakke te drentel. Ek spandeer maklik 2 tot 3 ure tussen die rakke.

Nouja terug by die storie ... ek drentel by die braai tools verby en daar sien ek die klein potjies.

Dadelik dink ek ... as mens in die goedjies sou kook dan is jy mos geforseer om mooi te meet want die ruimte is beperk.


Nouja, hier is nou a praktiese voorbeeld van 'n aandete vir my en my vrou.

Wat ook lekker van die manier is, is die feit dat elkeen sy potjie geur soos hy daarvan hou. 





Ek hou van soet suur en my vrou kan dit nie verdra nie. Ek hou van die spice profile van Noord Afrika en die Midde Ooste en sy nie.

Ek begin deur so eetlepel olie onder in die pot te gooi, olyf of gewone olie ... dan pak ek so handjie vol paste in.

Volgende maak ek die groente reg ... die hele tyd hou ek a oog op die volume want dit moet in die potjie pas.





Nou vir die vleis ... ek het twee skaap boud tjops gebruik. Opgesny in blokkies en die stukkies met vet aan van my vrou se deel ook in in my pot gesit want sy hou niks van vet aan vleis nie.

Laaste maak ek 1 koppie aftreksel vir elke pot. Myne was a bief aftreksel plus soja sous, so eetlepel druiwe asyn en a goeie blertsie chilli sous. Laaste strooi ek twee lepeltjies suiker oor alles en so skoot tamatiesous.

Nou op die stoof met plate op sy laagste. 

Tot hier het dit my 20 minute gevat om die voorbereiding te doen en die potjies te pak. 

Obviously kan dit vinniger gaan maar ek like dit om te mediteer terwyl ek met kos werk.
Sit die deksels op en gaan kyk maar TV ... moenie haastig raak nie en moenie die deksels oplig binne die eerste uur nie.


Twee ure later ...



Ek tip my potjie in a spaghetti bak uit ... my vrou hou daarvan om uit die potjie te eet.

Ek het drie skywe lemoen bo in my pot gesit so 30 minute voor die einde.

Hierdie is vir my die ideale manier om seker te maak ons eet darem so bietjie gesond ook van tyd tot tyd en braai en bak nie alles nie.


Jy kan lekker laf wees en pak wat jy wil in die pot. Sit mieliegrys onder in of koring of wilde rys. Ek hou van die graan goeters onder want hulle moet water kry.

Die grootste vyand is  haastigheid want as jy die vuur gaan warm maak gaan jy die pot verbrand.

Hierdie is a lekker manier van kook want as jy eers die potjie gepak het en op die vuur gesit het kan maar van hom vergeet. Ek roer my pot gladnie.

Pasop vir sout ... die aftreksel, soja, souse ensovoorts het alles sout in ... gooi maar sout as jy begin eet as jy voel dis nodig.
Jy kan die vleis verander soos jy lus het. Hoender boudjies, vlerkies, pote, chuck, goulash, mince, vark nek ... enige iets. Omdat dit so lank en stadig kook sal alles sag en sappig wees.

Onthou net dis 'n porsie en as jy teveel vet en velle aan die vleis sit gaan dit nie lekker wees nie want niks braai weg of verdamp nie, alles bly in die pot.
Lekker eet !

Brood - Steakbroodjie ...




Vanoggend is ek in 'n snaakse bui ... die Engelse sou sê ek is "whimsical" ... nogal 'n snaakse woord die dink ek. 

My oë dwaal deur die venster en die druilerige landskap laat my verseker nie beter voel nie. Dis nou maar eenmaal so ... as ons Suid Afrikaners nie son sien nie, dan werk dinge nie vir ons nie. Orals drup daar water van die plante, blare, blomme, takke en klippe af. Die Laeveld is nat ... die eerste somer reën het gekom en hy is hier met 'n vasbyt wil soos winter bosluis ... hy gaan nie sommer los nie.

Gewoonlik vat ek 'n koffietjie en 'n lekker beskuit, beskuit wat ek self bak en wat propvol allerhande heerlikhede is. Dit moet my deursleep na midoggend toe.

Vanoggend is ek nie lus vir so iets nie ... my siel soek meer ... soek na substansie ... soek na MAN KOS !

Die van julle wat my ken, weet dat ek nogal passievol is oor Man Kos ... Nou vrae jy seker ... Wat is Man Kos ?

Kom ek vertel jou ... Man Kos is kos wat 'n man laat glimlag, kos wat sommer self opstaan en sê ... Eet my ! Nie baie tierlantyntjies nie en nie baie frilletjies nie. Kos wat jy met mening kan aanpak en na die tyd los dit so breë glimlag op jou gesig en miskien ... as dit nou goed gedoen was ... so blinkstrepie vet langs die mondhoeke af.

Nouja laat ons begin plan maak om die honger te stil ...

Eerste sit ek 'n stukkie rump in 'n lekker warm pan ... so spatseltjie olie net om te help tot die vleis se eie vetjie begin uitbraai. Ek verkies om my speserye, maar geen sout, op te sit en in te vryf voor ek die vleis braai. 






Ek vroetel nie eintlik rond met die vleis in die pan nie, laat hom lê en 'n lekker korsie braai. As jy teveel met die vleis peuter dan verloor jy jou speserye. Dan flip ek hom.





Intussen sny ek vir my twee snye brood ... nou hier kan jy baie doen en baie keuses maak. Vandag was hier net witbrood in my huis en ek vat dit ...

Kyk, die brood moet reg gedoen word ... ordentlik getoast word. 

As jy my regtig wil moerig sien dan moet jy vir my bleek, opgewarmde brood gee en dit toast noem. Ek toast my brood in 'n pan want ek wil net die een kant gebraai hê. Jy vra seker hoekom ... wel, as jy net die een kant toast dan het jy 'n heerlike krakerige kors buite en sagte lekker brood binne. Tekstuur is mos belangrik as mens eet !


Eers so paar botter klontjies op die brood en dan na die pan toe. Moenie teveel botter nou opsit nie want dan gaan jy 'n olierige eind resultaat kry wat nie baie gesond is nie en ook nie eintlik lekker is nie. Die grootste gevaar is dat jou brood gaan verbrand.



Nou moet jy 'n ogie op hom hou, pan moenie te warm wees nie anders gaan die brood brand, te koud en hy gaan nie mooi rooster nie ... maar jy sal gou leer hoe warm jy die pan moet maak.
Die eindresultaat. Perfek vir my.






Nou moet jy die broodjie smeer ... vir my is goeie botter die enigste ding. Margarine ... huh ... as ek plastiek wil eet dan trek ek die Jiffy boks nader en doen dit ... vir Man Kos moet dit egte regte botter wees. Hier is ek ook nie skaam nie, daar moet ordentlik botter op wees want die is a spesiale toebroodjie en 'n GROOT BEDERF.



Nouja, ek kan sommer hoor hoe party mense nou hulle asem insuig en ek kan dit verstaan. Onthou net, hierdie is Man Kos en hier kom nie veel op die toebroodjie nie. Die botter gaan die smaak partytjie vol maak.

Tyd om terug te gaan na die vleisie toe ... wel nou nie eintlik 'n vleisie nie ... polony is vleisie, ham is vleisie, hoender borsie is 'n vleisie ... hierdie is Man Kos en dis 'n STEAK !






 

Ek staan hom so bietjie op sy kant dat die vetjie lekker kan uitbraai. Ek maak die vleis so bietjie gaarder vir die die broodjie as wat ek gewoonlik eet want dan is die broodjie nie souserig en morsig nie maar as jy daarvan hou dat die lekkerte so teen jou ken afloop ... ruk hom af as hy nog gered kan word deur 'n goeie veearts.





Ok nou is die vleis reg en ons kan die broodjie begin bou.




Eerste was die botter en nou smeer ek Wellington se Soet Suur sous op die een kant en pak die vleis op die ander kant. Ek hou daarvan om die steak eers in skyfies te sny en dan sny ek die pak skyfies weer drie maal om op te eindig met blokkies. 

Ek kan nou al hoor hoe kerm sommiges maar daar is Wiskunde agter my metode. Dit laat jou toe om lekker te hap en nie te worry dat jy die hele vulsel gaan uitsleep met die eerste hap nie. Hierdie metode maak ook seker dat vroulief ook die Man Broodjie gaan like.
Laaste krummel ek so bietjie Fairview White Rock met cranberries oor ... net 'n lekker ekstra smakie. Klein bietjie growwe seesout en dis al ... jy wil nie die ding besmeer en bekletter met allerhande soppe, souse en gemaalde bossies nie ... hou dit suiwer ... suiwer Man Kos.
Nou is dit tyd om so bietjie terug te staan ... bewonder jou skepping, imagine die smaak ... laat die hongerpyne bietjie opwel. Dan as jy nie meer kan hou nie, dan maak jy hom toe.

En daar is hy. 

As jy die instruksies gevolg het gaan jy nou 'n smaak orgasme ondervind soos nooit tevore nie ... en o ja ... hierdie is Man Kos ... Man Kos wat vrouens ook like.

Lekket eet en geniet elke happie, kou elke happie dertig keer en tap elke geurtjie en smakie uit elke mondvol.

Tot wederom.



Varktjops 'n groot lekkerte ...

Ek is mal oor varktjops en is mal oor man kos. 'n Lekker vark tjop is Man Kos vir my. Die grootste probleem wat ons het is dat die oumense ons gewaarsku het teen rou varkvleis en derhalwe word 'n vark in sy maai in gebak, gebraai en gebrand. 



Moderne slagpales is op die ball en mase
ls is nie werklik meer 'n groot issue nie. Solank jy by 'n betroubare vleiswinkel jou vark koop hoef jy nie regtig te kwaai te worry nie.

As gevolg van eeue se indoktrinasie moet ons almal maar ons ou metodes herdink want die moderne gevoel is dat mens vleis moet kan proe vir wat dit is en dat die deurgekookte, dood gebakte voorbereidings metodes nie regtig meer vanpas is nie. 

Tog met vark moet jy versigtig wees ... maar daar is 'n groot verskil tussen gaar en moerland toe.

Tweede issue is dat jy sien die tjop in die pakkie en dan hoor jy al hoe kraak die vel tussen jou tande. Dit veroorsaak dat ons fokus op die crispy kry van die vel. Ongelukkig beteken 'n crispy vel gewoonlik 'n uitgedroogde tjop. Daar is baie faktore wat die crispy vel beinvloed en hitte is maar net een.

Nou hoe gemaak ...

Plan 1:

1. Sny daai spekvel dadelik af as jy die vleis voorberei en sit dit eenkant.
2. Spice of sous jou tjop met jou geliefde spesery of sousie. So blerts suurlemoen en so leksel heuning maak a varkie altyd mooier en ek gooi ook sommer so bietjie mosterd saad oor.
3. Kyk nou na jou spekstrook ... spice hom en sit hom in jou gekose pan ... so middelmatig warm ... laat lê die vel op sy vetkant, nie die vel kant nie, sodat hy lekker kan uitbraai. As jy vir die gesin kook gaan jy gou gou 'n lekker pannetjie vet hê waarin die velle borrel en spoeg.

Braai daai velle lekker bros en ligbruin ... passop vir brand. Dis omtrent soos kaiings maak. 

Nouja nou is die vel uitgesort en jy het 'n lekker pan met pure varkvet in ... pak nou jou tjops en terwyl die velle op papier lê en peins.

Braai die tjop tot hy so lekker korsie het en flip hom om. Nou die anderkant ... nog a flip vir so minuut en haal die tjops uit en sit dit op jou opdien bord ... laat hulle nou net solank rus as wat jy gebraai het.
Die rusproses is belangrik want die vlei is baie warm aan die buitekant, eintlik oorgaar maar nog koel in die binnekant, tydens die rus proses gee jy die hitte tyd om mooi stadig deur die vleis te trek en te balanseer ... dit laat jou vleis dan heeltemal gaar word in die middel. Ek was self verbaas toe ek lees dat vleis by 65 C gaar is. Al wat ons moet doen is om te leer dat temperatuur die vleis gaar maak en nie hoe dit lyk nie.
Siedaar ... liplekker sappige tjops en crispy vel. The best of both worlds.

Plan 2:

Hierdie plan is vir die wat 'n oond het en lus is om bietjie uit te hang.
Begin met 'n lekker diep pan ... kap so een of twee appels op in blokkies. Gooi genoeg water in om die appels te bedek. Strooi nou so twee of drie eetlepels suiker oor, bruinsuiker is lekker vir my, 'n blêrts heuning en suurlemoensap. Bietjie sout en laat die water toe om te begin kook.

Nou hier kan jy jou smaak so bietjie prikkel ... ek gooi kaneel, gemaalde gemmer en nutmeg in die appel pan ... moenie te kwaai wees met die gemmer nie. Net terloops, ek is nie 'n slaafse volgeling van mates as dit by geur kom nie. En moenie vergeet dat daai knippie sout gewoonlik al is om die smake te laat opspring.

Hou jou oog op hierdie pan ... jy wil hê daar moet 'n lekker sous vorm in die pan. Moenie worry oor die appels nie ... hulle gaan nog oond toe, so hulle gaan verseker gaar word ... werk aan die sous.

Terwyl die appels nou pret in die pan het, gooi jou geliefde speserye op die vark tjops en vryf dit so bietjie in. Ek jaag ook sommer bietjie aartappels deur my mikrogolf oond sodat dit klaar gaar is.

Vat 'n bakplaat en smeer hom met olie. Pak nou die tjops mooi uit op die plaat, maak seker jy plaas die beste kant bo want jy gaan die tjops nie omdraai nie.

Maak jou oond lekker warm, so 180 C werk vir my. Eintlik so bietjie aan die verkeerde kant van 180 C ... menende warmer.

Skep nou die appelsous oor jou tjops en pak op elke so paar stukkies appel. Los die res van die sous en apples in die pan, jy dit later gebruik as jy opskep.

Wat ek gewoonlik doen is om nou so bietjie room en 'n knerstie mosterd by die sous in die pan te sit en dit net lekker warm te hou, moenie laat kook nie want dan gaan die room split.

Sit die aartappels nou ook op die plaat.

Nou in die oond in op die middelste rakhoogte ... so 30 to 40 minute kan werk maar hou maar a ogie. Jy wil hê die vleis moet vinnig bak maar dit moenie brand nie.

Jy sal sien as dit reg is vir jou. Sit die oond af en berei jou borde voor. Laaste haal jy die tjops uit en jy lig hom mooi op uit die pan uit en sit hom op dieselfde kant in die bord. Skep nou die laaste appels en sousies oor die tjops en geniet dit.

Gewoonlik sal die vel nou ook lekker bros wees maar as jou tjops 'n dik vel aan gehad het, soos wat soms gebeur ... sny ek die velle af sodra die oond afgaan en sit die klomp repe in a pan en braai dit verder uit.


PS ... Checkers het deesdae wonderlike vark snitte.

Kom ons maak Vetkoek ...



As daar nou een ding is sekerlik menige boerseun of dogter se mond kan laat water, dan moet dit vetkoek wees.

Op enige stadium kan jy maar toets en net die woord VETKOEK noem in gesleskap en dadelik gaan daar 'n paar wees wat begin vertel van hulle kinderdae en hulle ouma of hulle ma se vetkoek.


Vir my sal dit altyd my ouma se vetkoek wees wat my laat glimlag ... so lekker gelerige deeg korsie wat so taai en krakerig was met sulke groot rysgate in die middel in die sagte deel. Nouja ek is seker dit was gekoppel aan die suurdeeg wat sy gebruik het en die hele knie proses want sy het vetkoek gemaak van die brood deeg wat sy geknie het.




Ek het nou al 'n paar keer gesien mense vra op FB oor hoe kry mens die hol vetkoeke wat so lekker vulsels kan insluk.

Vir my is vetkoek en mince iets wat ek kan eet sonder ophou. Maar ek hou niks van die brood in die vetkoek nie. So ek het dit my mission gemaak om die meeste kors vir die minste deeg te kry ... dit is mos maar daai kors wat vetkoek so lekker laat maak.

Die fotos wat ek hier gebruik is almal van vetkoek wat met bruinbrood deeg gemaak is. Dit werk dieselfde vir witbrood behalwe dat die witbrood gouer bruin bak.

Om lekker hol vetkoeke te kry gaan jy benodig ...
1. SPAR brood deeg ... wit of bruin. Wat veral lekker werk is as jy die deeg koop en so twee dae in jou yskas los voor jy dit gebruik.
2. Diep olie vir die braai ... ek gebruik 'n deep fryer en die temperatuur is op 170 C ... as jy dit te warm maak dan word die vetkoeke donker voor dit lekker crispy is.

So maak mens ...
Gooi meel op 'n groot sny plank en dop die deeg op die plank uit ... jy kan dit natuurlik ook op jou werk oppervlak doen.
Druk nou die bal deeg so plat as wat jy kan met jou hande. Strooi die bokant goed met meel en begin rol met a koekroller.
Nou moet jy nie bang wees nie, jy soek daai deeg so plat as wat jy dit kan kry. As jou deeg baie vars is sal jy nogal sukkel en gereeld meel moet strooi.

My plank is lekker groot en ek probeer hom volmaak met die deeg.
As klaar is met die rol werk dan strooi ek gewoonlik nog so bietjie meel sodat ek my hand maklik oor die deeg kan vryf sonder dat hy vassit.

Nou kan jy maak soos jy smaak ... jy kan rondes maak met koppie of a piering of a glas .... ek maak nie rondes nie want dit veroorsaak teveel deeg afval. Ek begin deur die rant te sny sodat ek min of meer a goeie reghoek kry.

Die dun repies wat ek afsny op die rante snipper ek in stukkies en gooi hulle eerste in die olie ... jy moet hulle bly roer en onder dompel, jy kry dan sulke lekker nuggets wat ek sommer in a diepbord uitkeer en vol suiker gooi ... lekker peusel happie terwyl ons kos maak.

Sit nou jou stukke in die olie ... dis belangrik dat jy nie die pan overcrowd nie ... sodra jy die "vel" in die olie gooi sink hy bodem toe en kom dadelik op ... nou moet jy jy hom so paar keer onderdompel ... ek gebruik sommer my braai tang ... wees net versigtig dat jy die ding nie stukkend steek nie want hy gaan opblaas soos ballon en met elke dompeling pof hy net meer totdat die kors verhard het.

As jy hom stukkend steek staan jy 'n kans dat die vetkoek baie olierig gaan raak.

Laat hom verbruin aan die eenkant en dop hom om. As jy jou repe te dun sny gaan jy sukkel om hom om te dop want van die uitpof raak hy omper rond soos a pyp en die bokant gaan baie lig wees en wil bly om dop.

Wat lekker is van die manier is dat jy regtig jou porsies mooi kan bepaal ... groot vir die manne en kleiner vir die dames.

As hulle lekker bruin is, haal uit en gooi die volgende klompie in ... moenie jou pan te vol pak nie want dan gaan jy sukkel.

Hierdie is 'n flatervrye manier om elke keer lekker hol vetkoeke te kry en jy eindig op met die heerlikste "korspakkies" vir al die lekker vulsels wat jy wil ingooi. 

As ek mince insit dan sny ek net so slootjie in die eenkant en skep die vulsel in ... as ek worsbroodjies maak dan sny ek oop en pak die wors en goeters in.
Heerlike porsie lekker vetkoek ... vinnig en maklik.

Kyk mooi op die foto ... feitlik geen brood deeg binne nie ... net 'n kors.

Geniet dit.

Totdat die mense die vrae hier vra sal ek maar die goed invoeg:
Sharon: "Colyn, nou sien ek kans om vetkoek te bak en nie flops me maak nie. Dankie gaan die 2 dae in die yskas prober. Wil net seker maak oor hoe dik omtrent die deeg moet wees."
Suzy: "as jy hom plat uitgerol het moet hy nie dan weer rys nie, of bak jy hom dadelik."

Antwoord:
Jy rol dit so plat as wat jy kan ... hulle gaan natuurlik wil opstaan en wat jy wil verhoed is dat dit dikker word as omtrent so sigaret dikte ... sorry vir die vergelyking maar dis al wat nou vinnig aan kon dink. 

Die rede vir die veroudering is dan is die kanse skraler dat dit te kwaai probeer rys na die uitrol.

As jy daardie dun vlenters in die olie gooi is dit belangrik dat jy net wag tot hy bo dryf en dan dip jy hom so onder die olie in ... met die dip slag sal jy dadelik sien hoe begin hy op pof.

Skaapnek - Colyn maak Man Kos gaar



Skaapnek ... Man kos ... iets wat die meeste van ons ken en baie van hou.

Heerlike skaapnek
Die mees algemene manier is om die nek in skywe te sny (chops) en dan 'n kookpot/bredie van dit te maak wat wissel van kerrie tot geurige Noord Afrika spesery profielle.

Maar as jy nou in die Karoo kom dan sien jy dit bietjie anders op jou bord. Die hele nek, bruin gebak in die oond, sag en sappig.




Vir my is dit 'n MOET STOP as ek deur Victoria Wes gaan ... die Veld Merino Klub se Skaapnek. Maar nouja, Vic Wes is vêr en 'n man kan darem nie net eenmaal elke wan en dan skaapnek eet nie.

So kom dit dan dat ek die saak staan en besin terwyl ek deur die glas loer na die bak met skaapnekke by my slagter. Ek wik en weeg en besluit op een ... ek soek nie een wat omring is deur daai dik vetlaag nie want dis hopeloos te geil vir wat ek wil doen. Met sorg kies ek enetjie, hy is so net onder 1 kg. Die slagter haal hom van die skaal af en kies sommer dadelik koers na die saag toe.

"Hokaai ... ek soek hom net so heel !"

Die man loer my aan met so windskeef keep op sy voorkop en wyk van die saag pad af na die verpakking stasie toe.

Nouja ... en so beland ek in my kombuis met hierdie pragstuk skaapnek. Vir 'n rukkie staan ek en wonder, stoompot of nie .... neewat dis nog vroeg en ek dink hoeka die stoompot gaan my beroof van ietsie.

Doodgewone pot ... half vol water en met bietjie wortel, uie, aartappel en spesery in dit. Ek gooi ook so 2 groot teelepels van Ina Paarman se Chicken Stock poeier in die water.

Kook hom eers mooi sag
Maak seker die stuk wat bokant die water uitsteek is goed getooi in die speserye en toe gooi ek die skil van een lemoen ook in die pot. Laaste strooi ek so teelepel suiker oor die nekkie se vetkant en a knypie growwe sout ... alles net om die vetjie voor te berei vir wat kom ...

Sit die vuur op sy laagste en maak die deksel toe ... nou moet daai skaap en al die ander goedjies maar saam simmereer tot hulle mekaar baie goed verstaan.




Twee en a half uur later ... en daar lê die nekkie nou met so bree glimlag op sy bek ... sag en sappig.
Nou plaas ek die nekkie op a rakkie in 'n oondbakkie ... lawe hom so bietjie met suurlemoen, knertsie heuning en gooi my geliefde "dry rub" mildelik oor.


Bruin gebak en lekker
Ek gooi water in die bak en sit sommer die gebruikte suurlemoen in die water. 

Die water is hoofsaaklik daar om te keer dat ek nie swets en skel om die pan skoon te kry later vannaand nie maar dit help verseker om die nekkie vogtig te hou terwyl die oond die vereiste korsie op die skapie sit.

1 uur by 170 C in my oond en siedaar ... gebakte skaapnek soos die Karoo mense hom maak.






Moenie karring terwyl die nekkie kook nie ... elke keer as jy die pot se deksel optel dan verdamp daar so knertsie lekkerte.

Vir porsies kan jy werk op so 3 persone vir 2 nekke maar as die manne honger is sal een nek genoeg wees vir een man.


PS ... Die volgende dag, so by middel oggend, dan vat jy nou jou knipmes, 'n lekker beker koffie en dan gaan sit jy êrens op 'n plekkie waar jou siel tot rus kan kom en jy kerf die oorblywende vleisies van daai string bene af ... 

Stukkie vir stukkie totdat hy bleekwit vir jou staar ... dis nou die hond wat bleekwit word.

Geniet dit.

Vrydag 24 Januarie 2014

Botterbroodjies - Skons met 'n kinkel ...

Ek maak my oë oop en die eerste wat ek hoor is die drup in die geute. Die Laeveld is koel en nat. Ek sit en staar deur my studeerkamer venster uit oor die lowergroen plante en bome terwyl ek aan my koffie slurp.

Dis 'n mooi wêreld die en onwillekeurig dink and die Psalm se woorde ...

"U meetsnoere het vir my in mooi plekke geval."

Hierdie druilerige weer laat my verlang, laat my verlang na die geure uit my ouma se kombuis ... 'n kombuis waar die koolstoof altyd warm gegloei het en op dae soos die dan het sy vir ons pannekoek gebak. 'n Kombuis met 'n skoon geskropte hout tafel en een klein venstertjie. Die plek was altyd so in 'n halfskemer gehul. Blommetjies tapyt op die vloer en plastiek blokkies tafeldoek oor die tafel. 'n Laaikas met rakke bo-aan waar allerhande kombuisgoeters gepak was. Maar die ou swart koolstoof en seepsteen wasbak, dis wat ek die beste kan onthou.

Ek verlang na my ma se kombuis ... 'n silwerskoon blink kombuis met 'n spierwit elektriese stoof en net so wit yskas. 'n Gryserige "panelite" tafel en kaste teen die mure wat elkeen eksie perfeksie gepak was met nie een dingetjie uit sy plek uit nie. "Stainless steel" wasbak wat altyd skitter blink gevryf was, vadoeke netjies op 'n balke teen die muur en in 'n klein bakkie op die kant, die sponsie met a suurlemoen skyfie op.
In haar kombuis het sy my begin leer kosmaak toe ek skaars ordentlik op die tafel kon sien. Ek het maar op die stoel gestaan sodat ek mooi kon bykom. Daar het my liefde vir kosmaak begin. By haar het ek ook geleer om skoon en netjies te werk met kos.

Nouja soos ek reeds genoem het, die soort weer laat my verlang. Ek steek nog 'n sigaret aan en terwyl die blou rook luierig by die venster uitkrul onthou ek my ma se skons, sy was lief vir skons maak en sy was nooit lui om dit te maak nie. Vir baie lank het ek dit vermy maar so maand terug het ek besluit dat ek moet die ding baasraak.

Nou kyk, skons is nie so maklik as wat baie jou wil vertel nie. Nee, die ding moet reg wees om werklik 'n skon te wees. Die meeste kere bied mense en plekke vir jou skons aan maar dan is dit in werklikheid eerder Amerikaanse "biscuits" en nie skons nie. Skons moet uitmekaar kan breek en nie met 'n "snap" nie. As jy hom oopbreek moet die tekstuur so effens vogtig wees maar nie taai nie en verseker nie krummelrig soos koek nie. Skons moet ook veerlig wees en nooit dig nie.

Wel by my vierde poging het ek versigtig gebreek, gehap, gekou en toe geglimlag.

"Poppie ... dis nou groot woorde die maar hierdie is die lekkerste skons wat ek ooit in my lewe geeët het."

My vrou het my skepties aangekyk en toe self geproe.

"Nie sleg nie." het sy met 'n glimlag gesê en nog 'n hap gevat.

En so het ek hierdie jaar een vir een van dit wat ek basiese resepte noem, aangepak en oor en oor gedoen tot ek seker is ek kan dit doen sonder om flops te kry. Ek glo dat as jy 'n goeie versameling basies resepte in jou arsenaal het kan jy baie regkry deur die basiese resepte so bietjie te "twist".

Nouja vandag gaan ek die skons so bietjie "twist" ... ek het die idee gisteraand gekry terwyl na a TV program oor lekkernye gekyk het.

Ek glo baie van julle het al na die pakkies meel mengsels op die rakke gekyk en ek glo ook baie het al van die mengsels gekoop. Ek koop gereeld die crumpets mix want ek hou van crumpets en dis baie makliker om so pakkie om te dop as om al die verskillende bestandele uit te haal en bymekaar te sit. Een gevaar van die mengsels is dat die bakpoeier kan verslaan as die pakkie bietjie bejaard raak. So ek gooi maar altyd so bietjie bakpoeier by en so knippie koeksoda ... net vir die wis en die onwis soos my ma so gesê het.

So rukkie terug sien ek toe mos Sasko maak ook nou sulke pakkies en omdat ek daarvan hou om nuwe dinge te probeer, toe koop ek hulle skons mengsel. Ek hou van die pakkie, nie papier nie so hy gaan nie aanklam in nat klimate nie en ook ok wees in die yskas. Maar wees gewaarsku ... toets hom sommer daar in die winkel, sommige sakkies is nie so dig geseël nie. In elkgeval gooi ek maar hier ook so bietjie bakpoeier by vir "luck".

Nou kom ons begin bak ... soos gewoonlik raak ek nou weer langdradig met my stories ...


Die basiese bestandele ... baie min, Sasko pakkie, margerien of botter, melk en een eier. Ek gooi ook so knippie sout in.

Hier is so paar wenke;
1. As jy jou melk afgemeet het, spuit so goeie blerts suurlemoen sap daarin. Dit maak die melk dik en gee meer smaak.
2. As jy jou meel uitgegooi het, klits dit lekker goed met jou "wisk" ... party mense sif dit, die sif is nie vir my nie. Die groot idee agter die sif of the wisk is om lug in die meel in te kry want dit kompakteer in die pakkies.
3. As jy die melk by die eier voeg, klits dit regtig goed. Jy wil nie die eierwit drade in jou meel in sit nie.
Sit jou oond solank op 200C met a rakkie in die middel.

Nog 'n ding wat ek nie baie smaak voor gehad het nie was die botter of margerien wat jy in die meel moet invryf. Met my missie om skons reg te kry het ek maar oë toegeknyp en dit begin doen. Deesdae is dit amper terapeuties vir my en dit gee my tyd om so bietjie te besin. Gebruik jou vingers gryp sulke bondeltjies meel en botter en woel dit. Jy sal gou sien hoe die meel begin verkleur en die klonte wegraak.

Nou kom 'n belangrike stap en dis nie sommer ou vrou stories nie ... moenie die meel en melk mengsel te woes meng nie ... dis hier waar jy die verskil gaan maak en jou skons in "biscuits" gaan verander.
Ek maak 'n dammetjie in die midel van die bak en gooi die eier-melk mengsel hierin. Dan vat ek 'n tafelmes en begin die mengsel insny. Dis bietjie tydrowend maar daardie mes verhoed dat jy die mengsel onnodig knie.


Soos jy kan sien, die mengsel is nog nie vas nie. Die volgende stap is waar die kinkel begin, ek deel die deeg in twee. Strooi meel op my oppervlak en maak die eerste helfte plat. Jy moet versigtig wees, baie mense rol dit uit met 'n koekroller maar ek doen dit nie want dit kan jou deeg oorbewerk. Ek druk die deeg liggies met my vingers uit in 'n langwerpige vierkant. Wees geduldig, dis die moeite werd.


Die puriste gaan die blok se kante nou mooi reguit sny maar ek doen dit nie, hoekom moet ek daai deeg mors net vir looks ... dis 'n ander storie as jy nou die ding doen vir 'n kompetisie, dan kan jy maar gerus mooi reguit kante sny.

Ek druk die blok dat dit so min of meer vingerdukte dik is of 10mm vir die wat van akkurate mates hou.


Ek het so twee koppies vol vrugtekoek mengsel oor gehad van my kerskoek bakkery en dit was geweek in lemoensap. Eers het ek 'n lekker laag aarbei konfyt gemeer en toe die vrugte. Jy kan enige kombinasies van konfyt, vrugte en selfs neute gebruik.

Die volgende het ek die ander helfte van die deeg platgedruk ... probeer die twee so naby as moontlik aan mekaar te hou want jy moet onthou hierdie is 'n losserige deeg en dus nie so maklik om op te tel nie.


Nou het jy vleitige vingers nodig en so bietjie "luck" om die bolaag om te dop bo-oor die onderlaag. Dit klink moeiliker as wat dit is.


Druk nou die bolaag liggies vas op die onderlaag en dan sny jy dit in skywe. Ek gebruik a pizza cutter maar enige skerp mes sal die werk doen. Onthou dis 'n losserige deeg, so sny versigtig en pasop dat jy nie die mes trek nie.


Ek spuit my bakplaat en gooi dan meel oor wat ek rondskud tot die plaat mooi bedek is. Doen maar die moeite want as van die konfyt uitbak gaan jy dalk sukkel om die skons op te lig en die pan gaan moeilik skoonmaak.


Maak seker jy los genoeg spasie om die stukke want hulle rys mos so bietjie. Ek het so bietjie kaneel en bruinsuiker oorgestrooi nadat ek die bokante met eier geverf het.


Twintig minute later en daar is hulle. Mooi goudbruin en die kaneel ruik heerlik. Ek het myne geeët met Creme Fresh. Dit was heerlik.

Ek hoop die moedig so paar mense aan om skons te maak.

Lekker kook en bak tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy. Gaan like hom ... dis nou as jy my stories like.

Geniet dit.