Saterdag 22 Februarie 2014

Bosvark - Colyn kook Bosvark nek

Bosvark nek
In die eerste aflewering van my Bosvark Verhaal het ek julle so oorsig gegee van die Bosvark en ons het die ribbetjies gebraai en geniet. Wel nou is ek by die nek, ek gaan die varkie van 'n kant af opeet.

'n Vrugtelose gesoek op die internet na advies oor hoe om 'n varknek te ontbeen het my so vir 'n wyle laat rondtrap. Maar nouja, hoe moeilik kan dit wees ?

Bosvark nek halfpad ontbeen
Ek bekyk die nek van alle kante af, dis 'n mooi stukkie vleis die. Net so strokie vet reg oor die nekwerwels en verder skoon vleis. So ek besluit om maar aan die onderkant waar die werwels sigbaar is, te begin en dan op en oor die nek te gaan en anderkant af. Dit behoort vir my 'n mooi beenlose stuk vleis te gee.

Bosvark nekbene
Lekker skerp mes en so bietjie geduld. Ek trek die lem nog so paar keer oor die slypstaal en toe pak ek die nek. Met die wegtrek voel dit asof ek net sukkel maar ek hou maar aan, bly so naby aan die been as wat ek kan. Nadat ek oor die ronding is en teen die bopunte van die nekwerwels opeindig vat ek so blaaskansie. Ek bekyk die storie nou mooi en baie krities.

Wat ek sien maak my gelukkig, die proses lyk op die regte spoor en ek sak terug in die taak in. Halfpad en dinge begin nou sin maak ... ek kan duidelik sien waarheen ek opad is en die ontbeende deel is lekker dik in my hand. Vir 'n oomblik oorweeg ek dit om die eerste helfte af te sny ... gelukkig beteul ek myself en sny nou weer afwaarts, terug na die nekwerwels toe.

Bosvark nekbene in die pot vir die sous
En daar lê hy ... pragtige stuk vleis en die nekwerwels eenkant met so bietjie vleis aan die bene. Dit pla my gladnie want ek weet wat ek met die bene gaan doen en daai stukkies vleis gaan baie lekker wees in die beplande sousie.

Ek gooi die bene in 'n ysterpot saam met so bietjie olie en speserye en laat hulle maar stadig begin braai. Daar is natuurlik nie veel vet nie so jy moet maar kyk dat jy nou nie die bene gaan staan en verbrand nie.

Ontbeende Bosvark nek
Terug by die vleis. Soos 'n  wafferse blokman maak ek die nek nou aan die kant en gooi al die klein stukkies wat ek afsny ook in die benepot. Dit het my so 30 minute gevat tot hier. Ja ek weet dis bietjie stadig maar nouja, ek is nie 'n blokman nie en het die taak met wiskunde aangepak want ek het geen onderving hiervan nie. Die volgende een sal verseker net die helfte van die tyd vat.

Bosvark nek reg vir die pan
Hierdie is vir my baie bevredigend, ek het 'n plan gehad en dit het mooi uitgewerk. Getrou aan my beginsel dat ek werklik die vleid geur wil ervaar vir wat dit is gaan ek nie oorboord gaan met die speserye nie.

Ek vryf Texan Dry Rub oor die nek, sprinkel bruinsuiker oor en dan so bietjie suurlemoen en Woestersous. Laastens so bietjie olyfolie ... die vleis het werklik baie min vet en soek so bietjie hulp.

Bosvark nek met speserye
Nou terug yskas toe terwyl die bene goed aangaan in die pot.

Bosvark nekbene lekker sag gekook
Ek het al die kante nou lekker gebraai en toe gooi ek genoeg water in om die bene te bedek. So twee teelepels van Ina Paarman se Hoender Stock Poeier, twee buisies van die hoender pasta en 'n hele opgekerfde ui. Nou moet hulle maar kennis met mekaar maak op 'n lae hitte. Dis middel van die dag en ek gaan die nek vir aandete maak ... so ek het baie tyd.

Ongeveer twee en half uur later en die bene is deurgekook. Die vleisies val sommer af as ek dit met a vurk krap. Soos 'n wafferse argeoloog krap ek elke stukkie van die heerlikheid af van die werwels af.

Bosvark nek vleisies afgeskraap van die bene af vir sous
Chaka staan by die agterdeur en met elke krap kan ek die verwyt in sy oë sien maar ek verhard my hart ... sorry my honne, die is die baas se lekkerte. Met kwylende bek gaan sit hy op sy hurke toe ek die vurke neersit en ek glimlag ... hy is darem baie slinks met sy lyftaal.

Ek vat die grootste stuk werwels en gee dit vir hom. Baie versigtig vat hy die bene uit my hand uit en stap weg ... hy en ek het lank gelede 'n deal gemaak ... ek sal hom bederf maar as hy gryp of hap dan is dit nie lekker vir hom nie ... hy weeg oor die 80 kilogram en het my al 'n keer of wat lelik seergemaak in sy oordadigheid.

Hy sak op sy pens neer en weereens verwonder ek my aan die krag van daardie kake ... hy rol die been mooi reg in sy bek en toe hoor jy net bene kraak en breek ... een byt en die werwels spat in stukke.

Die ander been gaan na die Black Russian Terrier toe en sy self het geen moeite om die bene te breek nie. Vlenters, my Jack Russel kry die laaste werwel voor die kop en hyself laat sy kakebene goed werk.

Nouja nou is die honde ook tevrede en ek gaan terug kospotte toe. Ek gooi al die fyn vleisies in die sous en sit die stoof af. Dis nou nog vroeg en die pot kan nou maar partytjie hou tot ek weer die vuur kom aansteek. Baie tyd vir almal om deeglik kennis te maak met mekaar. Ek kan duidelik ruik en sien dat hier kom 'n sous van statuur. En dis wat mens nodig het saam met so stuk vleis ... 'n lekker lang sous.

Bosvark nek word bruingebraai in die pan
Toe die son begin sak toe is ek by die stoof. Sit vuur onder die sous en sit my ou staatmaker pan op die vuur. Ek laat hom gewoonlik so 10 minute by medium hitte staan sodat hy ordentlik deur warm word.

Ek gooi van dieselfde braai speserye in die olie in die pan en toe braai ek die nek aan al sy kante.

Die nek lyk goed en ek sit hom in a oondpan op 'n draadrak. Gooi water onder in die pan met a paar stukke uie en wortel. Maak hom dig toe met blinkpapier en sit hom in die 170 C oond vir 30 minute. Terwyl die vleis in die oond is rond ek die sous af en maak kapokaartapples wat ek met gemenged kruie en swartpeper geur.

Heerlike sagte en sappige Bosvark nek
Na dertig minute haal ek die vleis uit, maak dit oop en laat dit rus vir so 20 minute voor ek dit sny.

Die nekvleis is sag en sappig en baie geurig.

Bosvark nek op die bord
Ek sal die Bosvark Nek soveel keer as wat ek kan voorberei. Die vleis is lekker en die lae vet inhoud maak dit ook baie gesond om te eet. Ek het die sous met gekerfde sampieone versterk en ook 'n lekker blerts van my chilli pynappel konfyt saam met dit bedien. Die sous was geurig en lekker dik.

Ek het twee fotos van die maaltyd ... die eerste een is nou 'n meer verfynde opdiening en die tweede een is hoe my bord gelyk het.

Ek hoop julle het dit geniet en eet lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Daar gaan nog 'n paar oor die Bosvark wees want ek het nog die Rugstring, Saaltjie, Blaaie en Boude.

Lees die eerste Bosvark storie hier ...

Lekker Bosvark nek en dik sous
 Soos met alles is dit nie my doel om volledige resepte te gee nie want ek gee maar net bietjie my ondervinding met kos wat ons almal op een of ander manier gaarmaak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.


Woensdag 19 Februarie 2014

Bosvark - Colyn slag Bosvark en maak ribbes gaar

Meeste van ons ken Vlakvark of Top Gear soos my skoonpa hulle genoem het. En dan is daar sommiges van ons wat ook die befoeterde Bosvark ken. Die twee varke is bekend daarvoor dat hulle baie lekker vleis het maar nie almal hou daarvan nie. Ek is baie lief daarvoor maar ek sal ook toegee dat dit 'n "acquired taste" kan wees vir sommiges.

Soos van julle ook weet is ek gladnie tengunste van 'n gesous en gemarineer totdat daar geen smaak behalwe asyn in die vleis oor is nie. Nee, ek wil die vleis se regte smaak proe want anders kan jy maar netsowel polonie elke dag eet en dit iets anders noem.

Vlakvark het wit en rooi vleis en as dit 'n ou vark is dan is die ding hel taai en droog. Ek weet sommiges sal nou sommer dadelik dink ek is verkeerd en wil verduidelik van al die souse en vog wat in die marinade moet kom en dat dit vir drie weke of so moet lê ... maar ek soek nie dit nie ... ek soek die vleis se unieke smaak. As daar nou 'n ding is wat die wit waks uit my laat uitspring is dit die woorde ... "Hoe kry ek daai wille smaak uit die wildsvleis uit ?" Goeiste ... gaan koop dan vir jou hoender of polonie by die winkel en moenie wildsvleis koop of as geskenk aanvaar nie.

Nou het daar 'n derde rolspeler op die toneel verskyn. 'n Wildboer het so paar jaar gelede "Wild Boar" van Europa af ingevoer en die goed het so goed geaard in die Bosveld dat hy hulle nou begin verkoop. Die dier lyk so effens soos 'n kruising tussen ons Bosvark en 'n mak vark. So hy is nie heeltemal so vrees aanjaend soos ons bosvarke nie. Maar kom ons los die "looks" uit die prentjie en die gesprek uit ... Poppie het hoeka gereken die klein varkies is tog so "cute" ... en dis nie goed nie want sy gaan nie "cute" eet nie.

Nou na baie beloftes en voornemens sleep ek toe af Bosveld toe die afgelope naweek en hierdie keer was my swaer goed beaarbei ...

"Swaer, ek soek 'n vark ... as daar nie een is nie gaan ek een van jou Nyalas skiet."

Kyk ... dit was oorgenoeg inspirasie en toe ek daar by Witbank verbysleep toe kom die boodskap deur ...

"Vark hang in koelkamer. Bring jou spices."

Jis dit het my bek sommer dadelik laat water. In my geestesoog sien ek al die kole gloei en die ribbetjies lê en kry houding op die rooster.

Op die plaas aangekom is ek sonder baie stories reguit koelkamer toe. En daar hang hy, so lekker jongetjie, omtrent so meter en 'n bietjie lank aan die haak. Ek bekyk hom mooi. Eerste wat my opval is die dun lagie vet wat so kol kol oor die karkas sit. Dit lyk gesond. Tweede ding wat my opval is die tekstuur van die vleis. Die grein lyk baie fyn en die kleur laat my nogal aan bosduif dink.

Wel vir die volgende paar weke gaan julle nog heelwat Bosvark stories van my hoor want ek het die vark net in boude en blaaie gesny, die ribbes afgehaal, die nek en rugstring geskei en die hele saaltjie uitgesny. So die varkie het opgeeindig in 9 stukke.

Nou die regte ding sal wees om die karkas so vir 10 dae of so te laat hang in die koelkamer dat hy lekker ryp kan word maar vandag gaan ons nou nie die regte ding doen nie. Ek het jare laas wilde vark ge-eet en my maag grom.

Die twee ribbes word summier met braaimengsel, bruinsuker, olyfolie en suurlemoen behandel. Daar is darem so drie ure oor voor dit braai tyd is. Die res word verpak en gevries. Ek sal dit so stuk stuk aanvat en kyk wat kan ek daaruit kry ... dis nou smaak gewys.

Skuins na sononder is die vuur gepak en aangesteek ... ek het ongeduldig gewag dat die kole moet regkom. Al die ander is gefokus op hoender en bykosse maar ek wil net een ding hê en dis vark.

Eerste ding om te onthou is dat die nie skaap is nie, daar is baie min vet so jy moet verseker pasop dat jy die ribbes nie uitdroog nie ... stadige kole en baie geduld. Jy wil die regte skakering kry maar nie verkool nie.

Ek verduidelik mooi aan die braai meester hoe die ribbetjies hanteer moet word ...

"Reg so oom ... ek maak so."

Nou dis mos die regte antwoord vir 'n knormoer soos ek en ek sit rustig in my stoel terug, vat 'n lang sluk uit die groen botteltjie uit en steek 'n Camel op. Die blou rokie krul so in die aandlug op en ek voel goed ... dis lekker om 'n Afrikaner te wees ... lekker in die Bosveld en lekker by die vuur. Nog lekkerder is die geure wat van die rooster af kom.

Vannaand gaan ek nie eers oor politiek, die swak rand, duur diesel en e-Tol dink nie. Nee, vannaand gaan ek net myself oorgee en dit wat op die rooster is met oorgawe geniet.

Eerste is die benekant op die kole, altyd 'n goeie begin vir 'n ribbetjie. Dan die anderkant. By die omdraai slag word die lieslappe so bietjie bygekom met die mes want hulle krul mos alewig sleg op. Die twee hoendertjies lyk mos maar al te oninteressant daar in hulle deel van die speelveld en ek lek my lippe af. Die girls het klaar begin grom oor die arme varkie en ek smile, net soveel meer vir my om te eet. Hoender is mos eintlik net groente vir 'n vleisvreter soos ek.

Dis goed dat hulle die ribbes saam met die hoenders braai want albei het goeie stadige kole nodig en die manne kyk mooi na die vleis op die vuur.

So veertig minute later en ek gooi my oog baie krities oor die rooster.

"Manne, daai ribbes lyk nou vir my doodreg ... haal maar af."

Nou ek is 'n ou wat daarin glo dat vleis eers moet rus as dit van die vuur af kom, die vleis moet 'n kans kry om te ontspan.

'n Goue reël is dat dit tenminste die helfte van die braai tyd moet rus en ek maak nog 'n botteltjie oop. Hierdie gaan nou meditasie tyd wees ... die innerlike moet nou intens deur so bietjie goeie gedagtes sag gemaak word want die gaan 'n fees maal wees.

Uiteindelik is die ribbes op die bord en ek ruik diep aan dit. Die geur is goed en ek is hoog in my noppies oor die min vet op die vleis. Die is gesonde vleis. Poppie wil allerhande bykossies voor sit maar ek skud net my kop, daar was vetkoek en ek smeer een lekker dik met botter ... dis al wat ek soek, vleis en vetkoek.

Nou kyk, die is verseker nie die "Spare Ribs" wat jy by jou gewilde ketting braai restaurant koop nie. Die vleis val nie van die bene af nie en die goed swem nie in een of ander soet suur taai sous nie. Nee, die vleis is in sy natuurlike staat van smaak, geur en tekstuur. As jy die repe in goeie byt porsies sny met 'n lekker skerp mes dan is dit baie lekker en die effense growwer tekstuur maak dit lekker om te kou en te geniet.


Ek hou nie van die woord taai nie want dis relatief tot jou manier van sny. Ek hou van die woord substansie as dit by vleis kom. Nou hierdie ribbes het substansie. As ek die smaak en tekstuur moet saamvat dan sou ek sê dat die vleis is sag, sappig en geurig met lang vesels wat verseker gesny moet word vir die meer gekunsteldes, vir my is dit lekker om die repies so af te trek met my tande en dan stadig te kou totdat ek elke greintjie smaak daaruit onttrek het.

Ek hoop julle monde water nou kwaai ... ek het die hele naweek aan die ribbes ge-eet ... Saterdag "Brunch", en Sondag weer 'n "Brunch" en toe is dit klaar en ek pak my kar en ry terug Laeveld toe. Daar was so diepe saligheid in my gemoed en ek bewerk die vleis in my koelkas so in my gedagtes terwyl ek ry. Volgende gaan die nek wees ... hoe ... dit weet ek nog nie mooi nie ... maar verseker gaan ek nie sommer mal word en die siel uit hierdie varkie kook nie.

Soos met alles is dit nie my doel om volledige resepte te gee nie want ek gee maar net bietjie my ondervinding met kos wat ons almal op een of ander manier gaarmaak.

Hier is die tweede aflewering ... Die Nek ...

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.

Stampkoring - Colyn kook koring met 'n nuwe baadjie

As mens so na die Kook Programme op TV kyk dan sien jy lekker goed en jy hoor vreemde name vir geregte. Een van die goed waarmee ons gekonfronteer word is Risotto ... allerhande fancy beskrywings en moets en moenies. Die eerste maal toe ek sien hoe hulle dit doen toe dink ek ... hmmm lyk mos vir my baie na koshuis mieliegrys. So papperige storie.

Nouja, ek besluit toe ek gaan dit probeer en sleep af na die koswinkel toe. In die rysrak is pakkies op pakkies en die een belowe harder as die ander een om net die beste te wees. Ek koop die een wat aanbeveel word vir risotto en nog so paar dingetjies om by te gooi.

Sononder is ek voor die stoof, resep op die tafel en rys in 'n koppie. Eers die olietjies in die pan, toe bietjie gekapte uie. Braai tot dit deursigtig en gooi die rys in die olie. Braai effens om die "nutty" smaak te kry en toe bedek ek dit met hoender "stock" ... dis hierdie "stock" storie wat my kop aan die loop gesit het. Ek is nie 'n man wat van rys hou nie en verkies koring of "barley" ... die twee lyk vir my maar baie na dieselfde ding maar ek is verseker deur die slimmes dat daar wel 'n verskil is ... nou ja wie is ek om te stry.

Ek wil nou nie lank op die rys ding sit nie want dis nie waaroor dit gaan nie. Na omtrent 40 minute toe dien ek op en Poppie loer die trapsel so skeef skeef aan ... lekker papperige rys met uie, mushrooms, groen pepers en gebraaide spek blokkies.

Ek moet erken, dit was vir my nogal lekker. Vir die volgende paar dae loop ek met die risotto ding in my kop. Een laatnag sit ek en kyk na die Nigella meisie se program en so wrintiewaar sy maak "Barley Risotto". Nouja dis al wat ek nodig gehad. Sononder die volgende dag toe is dit ek en die pan en die koring. 40 minute later toe skep ek maar op ... nogal lekker vir my maar Poppie is gladnie beindruk nie ... die koring was nie sag genoeg na haar smaak nie. Gelukkig het ek nie 'n brose selfbeeld nie en begin dink ... nou gaan ek vêr terug ... my ma se kombuis. Sy het die koring lank gekook ... baie langer as rys.

Wel Maandagaand toe besluit ek dis nou die tyd om dit weer te doen. Hierdie keer is ek egter honderd persent gefokus en my wiskunde brein is in beheer.

Ek gooi een koppie koring in 'n pot. Genoeg koue water om so twee vingers bokant die koring te sit ... die goed het sap nodig om sag te raak en ek sorg dat daar genoeg is. Nou gooi ek twee hoog opgehoopte teelepels van Ina Paarman se "Chicken Stock" poeier in die water en spuit ook so een buisie van Ina se "Stock concentrate" in die pot in. Gee dit 'n lekker roer en maak die deksel toe. Nou dis hierdie aksie wat dit nou streng gesproke nie meer 'n risotto maak nie. Maar nouja ons sal maar sien. So 25 minute later maak ek die pot oop en ek hou van wat ek sien. Die water is nou gelyk met die koring se oppervlakte en die koring lyk al klaar lekker plomp. Ek proe en dis duidelik op die regte pad vir my.

Nou braai ek gekapte uie in so bietjie olie en kry 'n lekker kleurtjie op dit. Soos gewoonlik gooi ek bietjie speserye in die uie se olie voor ek die uie insit. Ek het Robertsons Chicken Spice en Spice for Rice in die olie gegooi.

Ek kap ook 'n groen rissie in klein blokkies. Toe die uie reg is gooi ek dit in die koring en ook die rissies. Roer nou versigtig want die laaste ding wat jy wil doen is om koring pap te maak.

Nou los ek die deksel af want die koring moet nou begin droog raak. Niks 'n geroerdery nou nie, ek maak net so gat in die middel van die koring elke dan en wan om te sien hoeveel sous is daar nog. Teen hierdie tyd begin die aanvanklike waterige mengsel meer na a sousie te lyk en ek gooi  'n eetlepel regte botter en so kwart koppie room by. Roer dit vinnig maar versigtig deur en los die pot weer uit.

5 minute later en alles lyk reg in die koring pot. Ek proe weer en glimlag ... goeie plan gewees om geen sout in te gooi nie ... die Ina Paarman goetjies het meer as genoeg sout.

Ek het hoender borsie vingers gemaak om saam te eet en dis hoekom ek die hoender mengsel van Ina Paarman gebruik het. As jy bees sou gaar maak dan sou ek bees mengsels in die koring gebruik het. Jy kan natuurlik ook sampioene, rissies, knoffel, spriet uie ensovoorts by sit na smaak. Ek vertel jou maar net wat die basiese koring proses is.






Vir my was dit baie lekker en dis hoe ek voortaan my geliefde koring gaan gaarmaak. Dit vat so bietjie toewyding en meer aandag maar op die einde is dit deur en deur die moeite werd.

Soos met alles is dit nie my doel om volledige resepte te gee nie want ek gee maar net bietjie my ondervinding met kos wat ons almal op een of ander manier gaarmaak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.


RESEP: Colyn se Maroela Yskastert


MAROELA YSKASTERT:
1 x Blikkie Kondensmelk
1 x Blikkie Ideal Melk (Uit yskas)
1 x Houertjie Orley Whip
1 x Pakkie Moirs Instant Poeding - Ek het Karamel en Peppermint Crisp gebruik.)
3 x Koppies Maroela Konfyt

Jou gunsteling Beskuitjies vir die Kors.





METODE:

Voer jou tert bak uit met die beskuitjies. Die mengsel het vir my twee gegee van so ongeveer 230mm x 230mm

Klop die Orley Whip baie styf.
Klop die Kondensmelk en Ideal Melk saam.
Gooi nou die pakkie poeding mengsel by die Kondensmelk mengsel en klop baie goed. (Pasop vir klonte.)
Jy moet vinnig werk want die mengsel sal gou begin stol.
Vou nou die Maroela Konfyt in die mengsel in.
Laaste vou jy die Orley Whip in.

Gooi die mengsel oor die beskuitjies en sit in die yskas om te stol.

NOTA:
Jy kan sekerlik die Orleywhip vervang met varsroom en die Ideal Melk met Roomkaas. Ek het gebruik wat ek het omdat ek die tert darem bietjie minder sondig te maak.

Jy kan ook 'n ander geur Poeding gebruik maar onthou as jy dit doen gaan jy die smaak verander. Die Maroela Konfyt het 'n baie subtiele smaak en kan maklik oordonder word.

As jy roomkaas gebruik kan jy gerus maar so 160ml Amaroela Likeur ook bygooi.

Hier is nog Maroela Resepte.

Lees hier hoe ek die konfyt gemaak het.

Donderdag 13 Februarie 2014

Maroelas - Colyn kook Maroela Konfyt en Jellie

Die Laeveld is lekker nat en as dit nie reën nie dan braai ons uit. Maar nouja dis maar die Laeveld. Februarie is dan ook Maroela tyd in die Laeveld, dit begin al hier in Januarie maar dis eers einde Januarie en begin Februarie wat die Maroelas regtig begin val.

Maroela Konfyt en Jellie
Ek het 'n paar Maroela bome hier in my tuin en 'n klompie op my grond. As jy deur die tuin stap dan ruik jy die Maroelas ... 'n reuk wat ek nie kan beskryf nie maar as jy hom ken dan sal jy dit nooit vergeet nie. Ok saam met die Maroelas kom die blêddie muggies ook ... duisende van hulle en ons hou die tuin skoon want anders dra die goedjies jou weg.

Elke jaar sien ek die Maroelas val en elke jaar neem ek my voor dat ons iets daarmee moet doen ... en elke jaar eet ek van dit. Eet is seker nou bietjie oordrewe want eintlik suig jy maar die sap uit die skil uit en dan sit jy vir ure met die vesel pit in jou mond.

Hierdie jaar het ek net eenvoudig besluit dat ek die vrugte moet benut. Ek gaan lees toe so bietjie en by Lekker Resepte vir die Jongergeslag kry ek toe die aanwysings.

Ek kommandeer die troepe op en gou gou toe word ek gepresenteer met 'n plastiek sak vol van die vruggies. Nou weet ek nie of dit uit kennis of blote geluk is nie maar die insamelaar het het 'n wye verskeidenheid vrugte ... baie rypes maar ook 'n goeie deel minder ryp vrugte in die sak. Ek is beindruk, vir een keer het halfmas instruksies tog 'n goeie gevolg gehad want ek wou nog verduidelik wat ek soek toe lui my foon en toe ek klaar is met die oproep toe is die man al weg.

Nouja ... soos ek sê, ek was gelukkig ... die mengsel was reg. Blykbaar moet jy so gedeelte minder ryp vrugte in die mengsel hê om 'n sukses van die storie te maak. Ek staan by die buite wasbak en spoel die vrugte af, maak seker daar is nie sand, gras of gediertes in die mengsel nie.

Ek gaan nie die resep in besonderhede verduidelik nie, dit kan jy gaan lees as jy die taak gaan aanpak. Ek gaan jou net vertel van die dinge wat ek gedoen het wat my aandag getrek het.

Die reeks resepte waarna ek verwys is handig want jy begin met die Maroelas ... kry jou jellie en daarna jou konfyt. Alles uit dieselfde oorspronklike maroelas uit.

Maroelas in die pot
Eerste stap is om die maroelas te kook sodat jy die sap kan uitkry. Ek sny elke maroela met 'n mes so halfpad om die skil. Gooi dit in die pot en bedek met koue water. Toe sit ek dit op die stoof op 'n medium vlam en laat hulle maar ordentlik kennis maak met mekaar. Ek het myne so vir 3 ure en nog 'n bietjie stadig laat kook met die deksel op ... my vermoede was dat jy nie teveel water wil laat verdamp nie en die maroela moes tyd gee om ordentlik uit te kook.

Waterige Maroela sap
Volgende gooi ek die spul deur 'n sif. en die vaal water mengsel gaan terug pot toe. Ek het dit in 'n ander pot gegooi en die maroelas terug in die oorspronklike pot gegooi en laat staan om koud te word.





Maroelas vir die konfyt
Die groot rede hoekom ek die maroelas laat afkoel het was om die pitte uit te haal. Nou kyk die was eintlik maar 'n morsige storie. Ek het elke maroela pap gedruk sodat die pit uitkom en dan het ek die maroela pit so deur my vuis laat glip om al die moes af te kry. Dit het my nogal 'n tydjie geneem.





By die eerste maroela wat ek so verpulp het, het Poppie net een kyk gegee ... geril tot in haar hakke en verdwyn kamer toe. My Poppie like niks van met haar hande in sulke papperye in nie en die blote aanskouing van dit gee haar die horries. Maar nouja ... ek ken haar so en dis seker een van die redes hoekom ek die meeste kook in ons huis want jy kannie 'n goeie kok wees as jy nie jou hande wil gebruik nie.


Maroela skille en moes
Ek gooi elke pit in 'n bak soos ek aangaan en die pitte is mylmerkers van my vordering. Bykans 3 kilos maroelas het 'n helse klomp pitte in. Laaste een gaan in die bak in en nou sit ek met a pot vol skille en moes. Nie baie ooglik nie. Volgende stap sou Poppie laat flou word het dink ek ... ek werk deur die pappery met my hand en breek al die skille in kleiner stukke. Dit ge my ook die kans om seker te maak al die pitte is uit.

Volgende stap weeg ek die klomp skille en gooi 50% suiker by, 'n ordentlike skoot suurlemoensap en toe terug stoof toe.

Die afgegooide water word ook 50% suiker bygegooi en twee eetlepels suurlemoensap. Ek gebruik sommer die uit die bottel uit want vir een of ander rede kan ek net eenvoudig nie sitrus bome laat groei hier by my nie ... en dit nogal in die hart van sitrus wêreld ... jis dit behoort my sleg te laat voel ... maar ek doen nie, koop 'n bottel en kom daar oor.

Dis nou naby middernag en ek het 'n klomp take in my besigheid wat my aandag verg so om die dag einde. Die elektroniese bank stelsels het nie respek vir my koskenades nie en is op 'n streng 24 uur klok. Jy is betyds of te laat en dit maak die verskil tussen steak of maalvleis op die tafel.

Albei potte is op die stoof en die jelliepot is baie water wat nie eintlik sommer kan verkeerd loop in 'n uur nie.

Die konfyt deel is ook baie waterig en ek is redelik seker hulle kan ook maar stadig aangaan sonder skade. Toe nie !

Maroela jellie
So kort voor 1 uur die nag toe is ek weer met volle aandag by die potte. Die jellie begin regtig mooi aankom maar die konfyt het so bietjie te ver gegaan op die bodem. Hoe vêr sou ek eers die volgende oggend uitvind, vir nou fokus ek op die jellie. Ek was aanvanklik baie skepties ... dit was 'n pot met khaki water in ... hoe gaan dit ooit mooi ligrooi jellie word het ek gewonder.


Maroela konfyt
Intussen sit ek maar 'n groot bord in die vrieskas en soos die skryfster in die resep aanbeveel begin ek die jellie toets toe dit helder begin raak in die pot. So by half twee se kant toe is dit reg vir my en ek sit die stoof af. Natuurlik is dit seker nie die regte ding nie maar glo my ... teen hierdie tyd was ek gatvol vir maroelas.



My dag begin so net na 6 in die oggend as die banke hulle eerste betalings sarsie prosesseer en dan moet ek reg sit vir moontlike haakplekke.

Redelik beneuk staan ek in die kombuis en wag vir die ketel om te kook ... ek is regtig nie 'n oggend mens nie en vanoggend is ekstra befoeterd ... ek het nie lekker geslaap nie en die aangebrande pot het by my gespook.

Ek sit albei potte op die laagste vlam en maak my koffie. Ek staan en kyk by die deur uit vir my honde terwyl ek so slurp koffie vat en toe 'n stewige trek aan my Camel. Die blou rook krul lui lui die lug in en my gemoed begin sak ... IT mense loop mos by tradisie op kafienne en nikotien.

Chaka ... my boerboel, loer my net so aan van sy lêplek af in die Lapa ... net soos ek is hy ook nie eintlik 'n oggend ding nie ... hmmm ... hy is eintlik heeldag nie in 'n goeie bui nie ... befoeterd gebore en bedonnerd groot geword ... Oubaas se honne ... hy is mos in elkgeval nie 'n troeteldier nie ... nee, hy is 'n waghond.

Ander dag vertel ek julle hoe hy my amper in die hospitaal in gepluk toe ek hom onderskep het waar hy volstoom oppad was na my tuin ingeneur toe.

Maroela Jellie
Ek moes nou daai mengsels weer warm kry sodat ek dit kan bottel.

So by half sewe gooi ek die jellie in botteltjies en toe kom Poppie in die kombuis in.

"Vir wat lyk jy soos rhenoster met 'n seer horing ?"

Terwille van ons huwelik en die kinders antwoord ek liewer nie en brom net ...

"Koffie asseblief ...."








Maroela jellie en konfyt
Ek was nou besig met die jam ... moet sê, dit proe lekker en my kop werk al klaar oor waar ek dit orals gaan gebruik. Ek is net vies dat ek nie my instinkte gevolg het nie en bietjie speserye bygesit het nie.

So dit was my ondervinding van Maroela jellie en konfyt.








Jammer ek het nie fotos geneem van die gebrande pot nie.

Hier is die link weer na die resepte toe ... Lekker Resepte vir die Jongergeslag

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lekker eet tot ek weer 'n storie skryf.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.

Woensdag 12 Februarie 2014

OOPSIES - Colyn kook OOPSIES en maak wraps

Vandag het ek 'n lekker storie ... wel dis lekker vir my, jy moet maar self lees en dan besluit. Elke keer wat ons op die Internet klim en by ons geliefde kuierplekke inkom dan word ons gebombardeer met tonne nuwe inligting en idees. Op die Kos bladsye word ons verlei, geinspireer en gefolter met fotos en baie stories.

Ons lees, kyk en wonder en gaan voort. Maar so nou en dan dan spring daar 'n juweeltjie uit. Ietsie wat jou regtig nuuskierig maak en laat wonder. Gister het presies so ding met my gebeur op my geliefde Kos Bladsy op Facebook. Lekker Resepte vir die Jonger Geslag.

Dit is wat geskryf is ...

OOPSIES
Do you have a hard time living without bread? Oopsies are a good option. 
It's a "bread" without carbs and can be eaten in a variety of ways.
(SOMMER GLUTENVRY OOK)

6-8 depending on size.


En dan is daar ook 'n foto bygesit ... wat my getref het is die feit dat daar net eiers, roomkaas, sout en bakpoeier in is. Die wat my ken weet ek het 'n kleintjie dood oor "chemicals" in my kos en ek vermy geprosseerde goed sover ek kan ... dis hier waar ons vergiftig word met allerhande vreemde goeters.

Dit het my dadelik gefasineer ... veral die ding oor die CARBS en GLUTEN. Ons word deesdae oordonder met slim mense se stories oor wat ons moet eet en wat ons moet vermy en almal het baie praatjies oor hoekom hulle plan goed of die beste is. Ek glo min van hulle stories. My voorsate het botter, room, brood, skaapvleis en vet beesbiltong ge-eet sonder ophou en almal baie naby aan die 100 gekom. Kyk die Ingelse, ongediertes en ongelukke het a klompie afgemaai maar ek weet nie van een wat dood is van kos nie. Ek is ook gelukkig om goeie gene te hê as dit by die cholesterol ding kom.

Een ding wat vir my sin maak is die voorstel om die CARBS te vermy en meer protiien te eet ... dit maak sin in baie opsigte. Ek glo ons dieet probleme is hoofsaaklik te danke aan al die verfynde kosse en vreemde byvoegings wat ons inkry. Deesdae is daar mos 'n firma wat bykans alles LOW CARB vervaardig en hulle kry goeie blootstelling op 'n bekende TV Kanaal. Ek het een boksie van hulle "starterpacks" gekoop en probeer. Wel ek gaan niks verder sê behalwe dat ek wonder wat word alles in daai mengsels ingegooi om die resultate te kry waarvan hulle praat. Ek het een item probeer en toe maar die boksie vir iemand gegee wat media bewus en oefen bevonk is.

Terug by die OOPSIES ... die bestandele is eenvoudig en die proses klink maklik. So ek skryf dit maar in my boekie en sleep kombuis toe. Ja jong ek is uit die 70's ... ons het sleep gebruik om beweging aan te dui.

Wat my dadelik opgeval het is dat die resep seker vir een groot mens en een baie klein voëltjie is.

Poppie ... vir die wat nie weet nie, ek noem vroutjie Poppie ... ag ek noem sommer enige meisiemens Poppie ... Poppie loer my so onder haar wenkbroue aan ... as ek my boekie uithaal is sy gewoonlik agterdogtig en nou meer as ooit nadat ek amper die kombuis afgebrand het laasweek.

"Wat gaan jy nou maak ?"

"Moenie worry nie Poppie ... gaan bad jy maar solank ... ek het aandete onder beheer."

Aan die stappie kan ek sommer sien sy is baie agterdogtig, nie gelukkig omdat sy moet uit nie maar ook aan die anderkant verlig dat sy kan wegkom sonder dat sy 'n verskoning moes uitdink.

Jissim ek dwaal alweer weg ... terug by die OOPSIES.

Ek verdubbel sommer dadelik die bestandele en vat ses eiers. Die witte en gele word geskei en dan word die sout by die wit gegooi en styf geklits ... en ek meen baie styf. Nou na ek dit gemaak het wil ek dit beklemtoon, klop daai witte so styf as wat jy dit kan kry.





Volgende gooi ek die roomkaas by die gele en voeg die bakpoeier by ... en weereens word die spulletjie ordentlik veroom ... jis dis 'n lekker word ... en ek wil beklemtoom ... moenie speel nie, klts daai gele en roomkaas ordentlik, klits asof jy vir Masterchef inskryf.

My oond is op 150 C soos die resep aandui en ek het die oondpanne klaar gesmeer.

In die resep praat hulle van allerhande sade en goeters wat mens kan byvoeg en my voorstel is dat jy die extras in die geel mengsel inwerk. Hoekom ... want jy kan maar wild raak met die geel mengsel ... dis die witte wat jy moet vertroetel.

Nou voeg jy die geel mengsel by die wit en vou dit versigtig maar deeglik in. Ek gebruik so lekker groot metaallepel. Die mikpunt is om die twee te vermeng sonder om die wit te pap laat word. So werk maar versigtig.






Volgende is dit panne toe ... nou hier moet jy katstaan en nie jou aandag laat dwaal nie. Hierdie megsel het niks meel in nie en dus is dit maar net die eierwit wat jou OOPSIES moet stabiliseer. Werk vinnig en moenie teveel torring nie ... ek het 'n groot opskep lepel gebruik wat ek in ringetjies ingeskep het. Een en so bietjie en dan die volgende een. Ek neem aan dit sal help as mens die oondpanne vooraf in die vrieskas sit en as jou kombuis koelerig is. Daai witte like niks van warm kry nie.

Nou oond toe, moenie die panne rondgooi nie, die OOPSIES is broos.

Terwyl die goedjies in die oond is loer ek so kort kort ... baie duidelik het die vormpies maar net gehelp met wegspring slag. Nouja die oond doen sy ding en op tyd haal ek hulle uit.






Ek is nogal beiindruk ... lyk goed behalwe vir die paar wat nie onthou het om rond te bly nie.

Wel die goedjies is lekker en ek het dadelik moontlikhede vir dit begin sien.






Vir aandete was dit 3 OOPSIES, van my mini meatloaf en slaai. Wat belangrik is om te onthou, hier is NIKS CARBS op die bord nie. Nou ek is 'n kalant wat baie maklik met my hande eet, baie besoeke aan die Midde Ooste het seker ook hiertoe bygedra. In elkgeval is hande lank voor "tools" gemaak.







Poppie het baie ordentlik en beskaafd happies met haar mes en vurk voorberei maar die grotman in my het net so een kyk gegee en toe dink ek ... TACO.







Dit was baie lekker en wat my later opgeval het was dat ek regtig lekker gemaklik gevoel het na ete ... so gemaklik dat ek sommer 'n skyf van my Yskas Tert gevat het.

Vanoggend was dit weer tyd vir bietjie dink en toe maak ek maar vir my so ou "snaxie" van die oorblywende OOPSIES.

Een het net eenvoudig opgerol met ham en so gevat.






Die tweede een het ek maar weer Taco styl gedoen.










Jy kan regtig opsit waarvan jy hou ... ek het maar 'n gherkin bygesit.









Ek het klaar 'n paar idees van wat ek met die OOPSIES gaan doen en sal julle verseker op hoogte hou.








Hier is die oorspronlike resep.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lekker eet tot ek weer 'n storie skryf.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.

Dinsdag 11 Februarie 2014

SPAR Deeg - Colyn bak brood met SPAR Deeg

As jy in Suid Afrika bly dan beteken SPAR Deeg vir jou gewoonlik net een ding ... Vetkoek. Ek het 'n storie geskryf oor die maak van lekker hol vetkoeke, Kom ons maak Vetkoek.

So tydjie gelede het ek ook 'n storie geskryf oor 'n ander lekkerte vir die bondeltjie deeg ... tuisgebakte brood. Let wel ek sê gebakte en nie gemaakte. Lees gerus Brood met Siel ...

Nouja asof daar nie genoeg oor die deeg geskryf is nie, het ek gister oggend weer 'n bondeltjie SPAR Deeg uit die yskas gehaal, bruinbrood die keer. Terwyl ek so na die pakkie staar werk my kop teen honderd myl per uur ... en vir die jonges, dit is baie vinnig. Dis so eenvoudige pakkie, geen pretensies en geen gespoggery ... maar as jy so bietjie dieper dink oor dit is die ou vaal pakkie propvol beloftes.


Beloftes van ouma se kombuis se reuk op broodbakdag ... die herrinnering alleen laat my mond al water.

Instinktief strooi ek my werkplank vol meel en sny die pakkie oop. Toe ek die deeg uitlig skrik ek wakker ...

Wat maak jy ... die plan is mos om VERDER TE KYK ...

Ergelik sit ek die deeg neer op die plastiek en was my bord af. Ek wil mos vandag die grense so bietjie verskuif. Ek gooi so eetlepel en nog 'n bietjie olyf olie op die plank en versprei dit met met my vingers. Ons gaan "artisan" brood maak en die olyfolie gee 'n lekker geur plus dit verseker dat jou brood sommer vir 'n paar dae lekker bly.



Die deeg val in die middel van die oliekol en dril so liggies voor hy tot rus kom. Janee, dis maar 'n vaal hopie sonder enige tierlantyntjies. Diep ingedagte sny ek die bondel in vier stukke. Hoekom vier dink jy. Wel my gedagte is dat as mens dan nou die grense wil verskuf dan doen ons dit nie een treetjie op 'n slag nie, nee ons gaan darem bietjie verder as dit.



Vir my eksperiment het ek besluit op growwe sout, All Spice, Kaneel , Cranberries en Okkerneute. Ek gaan die goedjies gebruik om verskilende broodjies te maak.







1. BESSIE BOL:
Daar is 'n magdom gedroogde bessies beskikbaar en so ook sultanas, appelkoos snippers ens. Enige van die gedroogde vrugte of bessies kan gebruik word. Laat jou eie smaak en voorliefdes jou maar hier bestuur. Ek het "Cranberries" gebruik.

Dis belangrik om te onthou dat die deeg heel waarskynlik die suurdeeg aksie reeds uitgeput het en nie sommer goed gaan rys nie. So ek strooi standaard so half teelepel suiker oor die bessies na ek dit op die deeg geplaas het. Dit sal die suurdeeg weer aktiveer.

'n Tweede ding om in gedagte hou is dat jy nogal gaan sukkel om die bessies in die deeg versprei te kry want dis al so goed geknie deur die masjiene by SPAR dat die glutin regtig baie elasties is. So, 'n plan wat vir my werk is om die deeg met my vingers plat te maak op die olieplank sonder om dit om te draai. Met ander woorde die bokant is nog nie geolie nie.

Strooi jou bessies en suiker oor die oppervlak en begin dan om dit op te rol van een kant af soos a Swiss Roll. Nou dra jy olie oor na die binnekant toe met die oprol. Vorm nou die broodjie op die olie plank deur dit op die kante te druk, langwerpig of rond. net soos jy verkies. Onthou dat jy die rol net so rol dat die naat nou onder die broodjie is.



Plaas hom nou op jou bakplaat wat ook mildelik met olyfolie gesmeer is. Verf dan die sigbare dele van die broodjie lekker met olyfolie. Hierdie was Poppie se derde keuse en my eerste keuse.

2. TWISTER:
Vir hierdie een het ek nie suiker bygesit nie want ek wil nie hê hy moet kwaai rys nie. My idee is om die as 'n lekker bykos vir braai te maak. Die aard van die broodjie leen hom daartoe dat jy stukke afbreek soos jy benodig en dat daar baie kors is. Mans is mos gewoonlik gek oor die kors en hoe meer hoe beter. Hierdie broodjie is baie kors.

Maak jou deeg langwerpig en omtrent so 10 mm dik ... ek noem dit sommer vinger dik. Nou strooi ek Kaneel, All Spice en growwe sout oor. Druk dit liggies vas op die deeg. Sny nou drie repe soos wanneer jy koeksusters sou maak maar net op groter skaal. Vleg nou die brood.

Ek druk die vlegsel so bietjie inmekaar in oor die breedte en die lengte. Sit hom op die bakplaat soos die vorige een en verf met olyfolie.

Poppie het hom nommer twee gemaak. Vir my was hy ook nommer twee.













3. NUTTER:
Hierdie een maak ek net soos die BESSIE BOL behalwe dat ek neute in hom gebruik het. My keuse was Okkerneut maar jy kan enige neut gebruik. Ek dink Amandels of Pekaneute sal lekker smaak.

Hy was Poppie se eerste keuse, ek het hom derde geplaas.




Hierdie broodjie is een wat ook baie lekker Crostinis kan maak ... ek sal nog eendag so bietjie skryf oor Crostini en die lekkerte daaraan.








4. SIMPLICITY:
Vir hierdie een het het ek niks ingesit nie net so bietjie suiker ingewerk en die kroon met growwe sout besprinkel. Heel eenvoudig maar die "magic" is in die bak.

Nouja en nou gaan ons hulle kans gee om te rys.










Sowat 30 minute later en die pan is lekker vol.










BAK OPMERKINGS:

Laat my toe om so bietjie langdradig te wees. Vir my is die sukses van enige brood wat ek bak in die kors. Ek hou van 'n kraakvars kors. Die olyfolie op die bakplaat en bo-oor die brood gaan verseker dat die regte komponente daar is om vir jou 'n kraakvars kors te gee.

Die volgende stap is om die brode goed nat te spuit met 'n sproei kannetjie net voor dit in die oond ingaan. Ek spuit ook sommer so so paar stewige sproei spuite in die oond in voor ek die deur toemaak. Ek sit ook 'n oondpan tussen my onderste element neer en gooi so koppie vol water in sodra die brode in is.

Temperatuur is baie belangrik. Ek maak die oond 210 C warm vir die begin. Dan bak ek die brood vir 15 tot 20 minute teen hierdie temperatuur. Na dit draai ek  die oond af na 170 C to en bak nog 15 tot 20 minute. Die proses gee vir jou 'n goed ontwikkelde kors en die tweede deel maak seker dat jou brood lekker gebak is binne.



Pasop net vir deeg wat baie suiker of botter in het, veral wit deeg, die eerste been van die bak kan dit te donker laat word.

Ek gebruik nie die waaier in my oond vir die nie, as jy baie moet maak en natuurlik jou waaier wil inspan dan moet jy die temperatuur so met 20 C verminder. Jy kan ook ys in plaas van water in die oondpan tussen die element onder ingooi.

Sodra die brode klaar is in die oond, haal dit uit en kry dit op 'n draad rakkie so vinnig as wat jy kan. Nou kan jy terugstaan en jou handewerk bewonder. Ek het sommer dadelik 'n stukkie afgebreek van die TWISTER af ... ai tog, so lekker bros kors is hemels en die sagte brood is soos fluweel op my tong gewees.

Jy kan natuurlik kaas ook op die broodjies gebruik. Pas maar op vir waterige goed soos tamatie of uie in jou brood want dit kan die deeg nat maak en die brood soos 'n kluitjie laat uitkom. Die kors word ook nie sommer hard nie.

Nouja ek glo dat julle nou met ander oë na die sakkies SPAR deeg gaan kyk. Wees so gaaf en kom vertel wat jy gedoen het.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lekker eet tot ek weer 'n storie skryf.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.