Sondag 29 Junie 2014

Steak - T-Been is darem lekker

Vandag gaan ek skryf oor T-Been ... daar is baie manne wat mal is daaroor maar vrouens skram weg want die goed is te groot. Verder is dit so dat as jy die stuk vleis kleiner wil kry dan word hy dunner gesny en dan eindig jy met 'n stuk leer op jou bord.

T-Been in die pan
Ek dink daar is eintlik meer romantiek agter mans se T-Been etery ... dis mos erg "Grotman" om so stuk vleis met been en al op die bord te kry ... aards en primitief ... alles dinge wat rooibloed mans se harte warm laat klop.

Nouja ... ek het my oerdrange baie jare terug al hokgeslaan as dit by die snit kom. Braaivleis vure en T-Bene is maak byna net so min sin as stilletto skoene, sykouse en die bosveld grasvlaktes.

Laat ek meer verduidelik want ek is seker daar is nou 'n paar diepkeep fronse voor 'n klomp rekenaarskerms ... party probeer die stillettos imagine maar ek dink die meeste frons oor die "lekker" T-Been op die laaste braaivleis vuur.

Braai die beenkant goed
T-Been is verseker nie sagste vleis aan 'n beeskarkas nie en dis net daai stukkie fillet aan die eenkant as jy gelukkig en hy is nog daar. Die res is redelik hard en kan maklik baie droog wees. Kokke en braaiers het allerhande slenters met souse en bedruiping om die eienskappe te verberg maar op die einde as alles weggeskraap word is dit maar weer net die stuk vleis.

In die oondpan in
Hierdie renons van my in T-Bene het my nog altyd gepla want ek het gedurig gevoel ek verraai my herkoms deur so antagonisties te wees teenoor hierdie snit. So elke keer as ek daar by my geliefde vleiswinkel inloop dan sien ek die T-Bene in al hulle verskillende verpakkings, staan en kyk vir so rukkie en dan loop ek liewer weg.

So kom dit dan dat ek op laat herfs middag weer by die slaghuis inloop en daar in die vertoonkas lê 'n versameling van die Grotman snitte ... vir 'n wyle talm ek en toe neem ek die besluit ... ek gaan hierdie stuk vleis tem vanaand. Dis net ek en my poppie en vat 'n stuk wat so skrams onder die een kilogram weeg.

Nou moet hy goed rus
Ok, verseker gaan die ding na 'n vuur toe nie want ek weet dis selde of ooit 'n sukses. My kop maal en ek flip deur al die dinge wat ek van vleis kan onthou. Toe besluit ek ...

Pragtig pienk en sappig
Eerste braai ek al die kante in 'n vuurwarm pan ... die rook trek uit die pan uit ... geen speserye of sout nie. Laaste staan hy op die been in die pan en ek laat hom maar goed les opsê want ek wil hê die hitte moet mooi optrek in die been in.

'n Goeie porsie
Nou op 'n oonpannetjie met rooster ... gooi hom lekker met speserye en 'n koppie water onder in die pan. Dis maar net om te keer dat die sousie en vet te erg aanbrand. Twee lourierblare in die pan en toe oond toe ... 180C vir so 15 minute. Toe uit en ek laat hom rus vir 20 minute. Die is baie belangrik want dit gee die vleis kans om te ontspan na die hitte aanslag en dit laat die kookproses ook natuurlik tot stilstand kom.

Toe die tyd om is to begin ek die vleis te sny ... kyk mooi op die foto hoe ek dit gedoen het. Die T-Been is mooi medium gaar en feitlik geen sous loop uit soos ek sny nie.

My vrou was in haar noppies met die resultaat want nou kon sy die vleis regtig geniet en die helfte is nie weggebrand nie. Die hele snit is mooi gaar en niks word gemors nie. Ons het albei geëet en daar was oor vir so lekker Man Kos toebroodjie vir die volgende dag.

Nouja ... ek het die T-Been getem en vandag is dit 'n snit wat ek gereeld gebruik maar verseker nie op 'n oop vuur nie.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.

Saterdag 28 Junie 2014

Yskastert - Peppermint Crisp Kaaskoek

So paar weke terug was nageregte op Kokkedoor aan die orde van die dag en die Peppermint Yskastert was onder die uitgesoektes.

Man Kos Peppermint Crisp Tert
Nou ek het mos reeds gesê dat niks van 'n gebakte kaaskoek hou nie. Gisteraand staan ek voor my kas en kyk na wat ek het ... ek was lus vir iets lekker maar ek soek dit ook nie te soet nie. Toe begin my kop werk, ek beter iets aanmekaar sit wat nie ure vat nie en wat ook nie 'n lang lys bestandele het nie. Meer belangrik, hy moet verseker stol.

Na so bietjie rondkrap en baie dink besluit ek ... Man Kos Pepermint Crisp Tert ... dis wat ek gaan maak.

Nou vir my is dit regtig belangrik dat as ek roomkaas gebruik moet dit regtig roomglad ingemeng word. Ek trek die Kenwood nader en sit die groot bal whisk in ... sommiges gaan nou frons maar dis ok, ek hou van wat die stuk gereedskap kan doen.

Man Kos Peppermint Crisp Kaaskoek

1 Pakkie 250gr Roomkaas by kamer temperatuur. Nie so belangrik as jy die Kenwood gebruik nie want hy sal dit sag kry.
1 Blikkie Caramel Treat (Moenie die blikkie weggooi nie)
1 Blikkie Double Cream Greek Yoghurt
1 Pakkie Tennis Beskuitjies (Jy kan enige krummelkors maak - ek was lui)
1 Pakkie Moirs Heritage Range Peppermint Crisp Tart Flavour of Vanilla Flavour
1 Blok Peppermint Crisp (Sit in vrieskas want dan breek dit makliker op)

My glasbak het 9 koekies gevat, 3 in 'n ry.

Instant Pudding
Eerste gooi ek die roomkaas en Caramel Treat in die mengbak en laat die Kenwood loop op Spoed 1 vir so 5 minute. Nou stop ek die masjien en krap die mengsel mooi los van die kante af en uit die whisk uit en roer dit in die mengbak met a groot lepel. Terug in die masjien op Spoed 1 vir nog 3 minute. Nou is die roomkaas en caramel lekker glad en sag.

Pak solank jou kors in die bak.

Peppermint Crisp tert in die bak
Volgende gooi ek die Caramel blikkie vol met die Yogurt en gooi dit by die roomkaas mengsel. Weer laat ek die masjien loop vir 5 minute op die stadige spoed en stop. Krap weer die mengsel goed op 'n hoop met my lepel en laat die masjien weer loop vir 3 minute.

Nou het ek 'n lekker gladde mengsel van roomkaas, caramel en yogurt.

Nou gooi ek die pakkie Moirs Instant Pudding by en whisk op medium spoed net vir 2 minute.

Skep dit op die kors en maak mooi gelyk.

Nou verbrokkel ek die Peppermint Crisp en strooi bo-op die tert. Ek gebruik die agterkant van 'n lepel om dit so bietjie in die vulsel in te druk want die vulsel stol baie vinnig.

In die yskas vir sowat een uur en dan kan jy wegval. Die tert is lekker en die yogurt keer dat dit te soet is.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.

Vrydag 27 Junie 2014

Sop - Alet se butternut sop

Ek is baie lief vir lekker sop en my ma se Klipsop was die lekkerste vir my. Lekker ryk en warm saam met vars brood. As jy die sop so op die brood skep dan smelt die botter so af ... jissim dit is lekker.

Roasted Butternut Sop
Gister sien ek 'n skakel op my Facebook bladsy na Alet van Kokkedoor 2014 se "Roasted Butternut" sop en my mond water sommer. Ek moes dit eenvoudig maak.

Sy doen dit in a video vir Pick & Pay en dis nie so maklik om die resep volledig te kry nie, so ek het die video so paar maal gekyk met pen en papier byderhand en baie replays. Op die einde het ek dit min of meer alles gekry wat nodig is.

Onthou, ek doen nie eintlik resepte nie so vat die een soos hy kom. Ek gaan die taal maar lekker mix sodat almal verstaan waarvan ek praat.

Alet se Roasted Butternut Sop.

Nota - Dis nie presies soos sy dit gedoen het nie maar hier is my weergawe wat ek gemaak het.

500 gr Butternut in blokkies gesny.
2 medium Uie in kwarte en dan weer in blokke gesny.
1 Appel in blokke gesny - haal die pitte uit.
1 Lemoen - Rasper die skil af en druk die sap uit.
Vars Koriander - 1 bossie.

2 Teelepels Curry poeier - Ek het Raja Mild en Spicy gebruik
1 Teelepel Cumen
3. Eetlepels Bruismeel - ek het koekmeel en een teelepel bakpoeier gebruik.
Knertsie Nutmeg
Paar takkies Tiemie - Ek het Lemon Thyme uit my tuin gebruik.

1 Chicken Stock Cube - Ek het een sakkie van Ina Paarman se Chicken stock konsentraat gebruik.
250ml water
375ml Melk

Oond op 220C.

Sprei die pampoen, appel en uie uit op a oondpan. Sprinkel sout en peper oor. Spat ook nat met olie. Ek het Druiwepit olie gebruik. Pak so paar takkies van dieTiemie ook op.

Bak nou in die oond vir 30 minute. Op hierdie stadium sal van die uie en pampoen sulke swart punte kry, dis perfek want mens soek daardie geroosterde smaak. Haal uit die uit.

Meng al jou speserye en meel nou en strooi dit oor die pampoen op die oondpan. Ek het dit sommer met 'n lepel goed gemeng en laat rus.

In 'n groot genoeg kastrol, gooi water, melk, lemoenskil, lemoensap en maak dit warm. Gooi nou die groente stukke en meel mengsel in die melk in. Krap maar die pan goed skoon met die lepel en kry alles in die pot.

Laat nou prut vir so 15 minute.

Haal van die stoof af en met "stick blender" kap die groente lekker fyn.

Nou is die tyd om te toets vir jou smaak. My eerste proe het my laat dink dat iets is dalk bitter en toe onthou ek ... sit sout in as iets bitter proe.

Ek het so handvol koriander blare ingegooi en ook versap. Nou het dit goed geproe maar daar het so ietsie kort gekom ... ek het a eetlepel Worcestershire sous ingegooi. Nog 'n blits en toe is dit reg. Ek het weer op die stoof gesit met die gas op sy laagste en nog 10 minute laat prut.

Laaste het ek die plaat afgesit en so 3 eetlepels room bygeroer.

Ek het van gister se brood  baie dun geny en op 'n bakplaat gepak, bietjie olyfolie oor gespat, chili flakes, Robertson's Gemengde Kruie en Texan Braai Rub. 180C oond vir 20 minute. Die broodjies was kraaklekker en spicy.

Wat 'n heerlike sop en ek was aangenaam verras om die appel ook te kon proe. Hierdie is wenresep vir my.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.

Dinsdag 17 Junie 2014

Vark - Kaiings is onweerstaanbaar vir my

Vandag is ek op 'n vreemde plekkie in my kop. Die winter lig, kaal bome, stowwerige strate, warrellende blare ... alles dinge wat my na 'n donker plekkie in my kop laat gaan. Sien die ding het so begin ... dit was in Augustus maand in Johannesburg se Garden City dat ek so deur die dokter se spreekkamer venster gestaar het ... alles buite was dood en kaal takke het soos vingers na die hemel gereik.

Binne in my was dit asof 'n blok lood op my siel gaan lê het ... dertig minute tevore het ek van my bike af geklim en met 'n veerligte stap die paadjie opgekom na die spreekkamer toe ... my vriend en dokter moes die steke in my nek uithaal waar hy tien dae terug 'n ding uitgesny het. Dis mos niks het ek gedink en op my fiets geklim in Pretoria ... die goue gras langs die pad af het liggies gewieg in die wind en die sonlig het geel op die pluime gedans. Die fotograaf in my het duisende prentjies gesien terwyl die swart teer onder my verbygegly het ... dit was lekker om te leef en dit was lekker om in die laat winter bike te ry.

In sy spreekkamer wou ek sommer deur stap na die kamer toe waar hy klein goedjies regmaak ...

"Wag eers ... kom sit hier by die tafel ... ek moet iets met jou bespreek."

Instinktief het sommer dadelik geweet hier is nou 'n ding ...

Woordeloos sit ek luister na sy relaas en verduidelikings en sy stem begin al meer na 'n stem op die radio klink terwyl my oë deur die die venster staar en vashaak op die dooie droë plante in die tuin. Dit was nie wat ek wou hoor nie ... verseker nie.

"Maar moenie nou teveel worry nie ... die was net 'n uitsaaing ... ons moet nou die primêre bron van die kanker kry en dan sal ons weet wat om te doen ..."

Die res gaan ek nou nie oor praat nie want dis geskiedenis ... die belangrikste is dat dit in 1982 was en ek is nog hier. Maar van daardie dag af het die ding van die plante wat so afvrek na die somer my erg omgekrap.

Nouja, vanoggend was ek weer by die dokter ... hierdie keer om steke uit my duim te laat haal en toe ek uit die spreekkamer uitloop toe vang die winter lig my en ek sien die baie dooie bome om my ... darem nou nie so erg soos op die Hoëveld nie ... dis een van die groot redes hoekom ek in 1994 Laeveld to geskuif het ... die doodgaan ding is baie ligter hier.

Kaiings is Man Kos
Beelde van my kinderdae op my ouma se plaas kom by my op. Winter was mos groot slagtyd en ek dink aan die vark slagtery ... die groot ou seeppot wat op die vuur staan waarin die vet uitgebraai word en ek onthou hoe sy die krummels uitgeskep het en in 'n geblomde erde bakkie gesit het ... dit was die beste deel van die hele slagtery vir my ... lekker vars brood en kaiings.

Ek stop by die slaghuis want hulle het my laat weet die skaap harte wat ek bestel het is daar. Binne dwaal ek so tussen die yskaste deur en besluit ... miskien moet ek tog bietjie kaiings maak. Die pers en die radio en die TV bly ons hamer met hoe mens gesond moet eet maar ek onthou my ouma se lagplooitjies en sien hoe sy die vet van haar lippe afvee ... en sy het amper 90 geword ...

Vark lies
"Te moer met dit !" ... brom ek en wink die slagter nader. Ek verduidelik hom mooi presies wat ek soek en hy lag so diep uit sy maag uit ...

"Oom ... jy gaan mos nou koningskos maak ... onthou net 'n lekker potjie pap."

Nouja terug by die kos ... laat jou slagter vir jou 'n lekker stuk varklies in blokkies sny. Maak seker daar is genoeg vet anders moet jy maar so bietjie spek by sit.

Die maak van die kaiings is nie baie moeilik nie maar dit kan nogal morsig raak op en om die stoof want die vet wat so uitbraai kan nogal spat. So ek gebruik maar 'n groot pot.

Begin stadig
Eerste soek ek die geil vet stukkies uit en dit gaan eerste pot toe. Nou braai ek dit uit totdat daar 'n goeie klomplie vet in die pot is. As jy dit nie doen nie is die gevaar daar dat jy jou kaiings gaan aanbrand in die begin.

So 90 minute in
Nou gooi ek die res van die lies in die pot in en dit spoeg en spat soos die koue stukkies in die warm vet beland. Moenie die deksel opsit nie want dan gaan jy die goed kook en dit gaan lank vat om uit te braai. Ek strooi 'n ordentlike klompie braai speserye oor die stukkies vleis want ek is nie lus vir geurloses kaiings nie.

Hou maar die pot dop en roer gereeld. Maak veral seker niks brand vas onder in die pot nie. Ek sit een van daai spatsel siwwe oor die pot om die vet binne te probeer hou.

Nou is dit reg
Na 2 ure is die kaiings reg. Ek skep dit uit met 'n siflepel in 'n bak in waar ek handoek papier onder in het. Nou nie iets wat my ouma gedoen het nie maar ek doen dit maar om my gewete te sus.

Laastens skep ek die uitgbraaide vet af in 'n beker in ... die gaan in die tye wat kom baie lekker werk om aartappels te braai en om maalvleis te geur ... ag man daar is sommer baie gebruike vir dit. Lekker uitgebraaide varkvet.

Ek het met 1.6 kilogram se lies begin en op die einde het ek 'n lekker bak vol kaiings gekry en so 450 ml vet.
Lekker pap ... reg vir die kaiings

Hierdie kaiings kan jy nou op baie maniere gebruik. Jy kan 'n lekker slaai maak en kaiings oorstrooi of jy kan dit op pizza sit. Jy kan dit op brood sit of in 'n omelet insit saam met kaas en sampioene.

Maar die heel beste vir my ... 'n lekker bakkie slappap en kaiings.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... LIKE hom stukkend as jy wil.

Donderdag 12 Junie 2014

Trooskos - slap pap en melk vir my

Trooskos ... 'n woord wat baie gebruik word en ook 'n woord wat honderde verskillende betekenisse vir verskillende mense kan hê.

Warm, romerig en lekker ... trooskos.
Wat is trooskos nou eintlik ... ek dink dis daardie soort kos wat jou emosioneel aanraak ... dis kos wat jou totaal meevoer na 'n plekkie toe waar dit net jy en jou bordjie alleen is ... 'n plekkie waar jy warm en veilig voel.

In my regte lewe is ek bykans elke minuut van die dag omring deur hoë druk en moet soms in 'n oogwink besluite neem wat helse gevolge kan inhou. Gevolge wat 'n hele klomp mense se lewens dramaties kan beinvloed. Ek love dit ... dis vir my soos om bike te ry ... jy kan nie vir 'n oomblik jou aandag laat aflei nie want op twee wiele het jy baie min kanse as dinge skeef loop. Ek dink soms ek is goed met wat ek doen omdat ek 'n biker is.

Maar kom ons gaan terug na die trooskos ding toe.

Maandagaand was 'n slegte aand vir my. Vroeër die oggend is die verband geruil op my hand en vir die eerste keer kon ek mooi sien wat presies daar gebeur het. Ek het toe ook besef dat ek 'n senuwee afgesny het en dat 'n groot deel van my duim sonder gevoel is. Na die besoek aan die dokter is ek terug plaas toe en het maar aangegaan met my werk. Met aandete was ek nie lus vir eet nie.

Laataand sit ek hier in my kantoor, besig met ellelange spreitabelle. Dis doodstil in die huis, almal slaap en skielik voel ek darem sleg jammer vir myself. Ek was nou honger en die duim het geklop. Ek verlang toe ook sommer na my ma en my hond wat in die laat tagtigs dood is.

Ek staan op en loop kombuis toe om vir my koffie te gaan maak en terwyl ek staan en wag vir die ketel om te kook besluit ek ...

"Bogger dit ... ek is honger ... ek is nou lus vir pap ..."

So gesê so gedaan en ek skraap die potjie uit die kas uit ... dis my gunsteling potjie ... kom al jare saam met my ... so klein ysterpotjie met 'n lang steel.

Ek wil slap mielie pap hê ... dis wat my nou warm sal kan laat voel ... ek het jare terug 'n reseppie ontwikkel vir die slap pap en ek maak dit sonder om eintlik te dink ... ryk, romerig en glad soos sy.

Half uur later sit ek aan ... die botter smelt in die stomende pap in en maak sulke klein riviertjies deur die suiker. Ek wag dat die geel goud teen die rand van die bakkie begin ophoop en die pap omsingel en toe vat ek die eerste skeppie ... daar reg teen die rand want dis waar die pap nou al koud begin raak.

Die roomgladde pap is ryk en soet en ek hou van die growwe tekstuur van die suiker in my mond. My gedagtes gaan nou vêr terug ... hoeveel borde pap het ek al in my lewe geëet ... hoeveel keer in my lewe was dit al wat daar was om te eet ... en ek skep die tweede skeppie.

So nou en dan vat ek 'n slukkie van die yskoue melk en dit bring weer ander gedagtes by my op. Sien, ek gooi nie die melk oor my pap nie ... nee ek eet die pap droog en drink die melk uit die glas uit. So doen ek dit al my lewe lank en vannaand doen ek dit weer so.

Die wind ruk die bome in die tuin en ek hoor hoe die takke skuur en kreun ... dis 'n koue wintersaand maar in my binneste is dit lekker warm ... die bordjie is leeg en ek staan op ...

"Nou kan ek mos weer aangaan. Kom wêreld ... gooi wat jy het !"

Dis wat trooskos doen ... dit stil nie net die honger nie ... nee, dit bring ook 'n kalmte oor jou siel.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad ... Man Kos ... LIKE hom as jy wil.

Woensdag 11 Junie 2014

Maalvleis - frikadelle met 'n kaas hartjie vir die kosblik

Heerlik en geurig
Hierdie week is ek op die happies wat mans van hou ... Man Kos Happies ... daai klein goedjies wat jy maak en in die yskas hou en as pappie verby loop, maak oop, pop een in die kies en gaan verby.

Meng jou vleis baie goed
Mens kannie by dit verby kom nie ... frikadelle is omtrent altyd 'n wenner en al weet ons dat sommiges wat jy so op die snoep bordjies kry is niks meer as sooibrand bomme nie, eet ons dit maar en hoop elke keer dat jy hierdie keer verkeerd is en dat die ding jou nie in die laatnag gaan kom verwyt nie.

Vannaand gaan ek julle vertel hoe ek myne maak en dis baie lekker. Dis baie belangrik dat jy jou vleis goed meng en jy moet probeer om die balle min of meer dieselfde gewig te hou. As hulle so min of meer dieselfde is dan word hulle ook lekker eweredig gaar.

Ek begin met 1kg maalvleis en ek koop die wat so 10% vet is ... My SPAR merk dit deesdae so en ek verkies dit. Soms meng ek die maalvleis en gebruik 500gr vark en 500gr bees.

Ek spice my maalvleis met bruinsuiker, swart peper, braaivleis speserye, worcester sous en chili flakes.

Meng die vleis baie goed en knyp so teelepel stukkie af en braai dit gou in 'n klein pannetjie. Laat so effe afkoel en toets die smaak. Dis nou nog nie die tyd om sout by te gooi nie. Sit in die yskas.

Uie mengsel
Kap nou uie, rooi soet rissies en pietersielie redelik fyn. Gooi so eetlepel of wat olie in 'n braaipan en sprinkel so bietjie braai speserye in die warm olie. Braai nou die uie mengsel totdat die uie sag is. Skep dit uit die pan uit en laat afkoel tot by kamer temperatuur ... jy wil nie die warm mengsel by jou maalvleis ingooi nie want dit kan ongesond raak.

Kaas hartjie
As die uie mengsel afgekoel is, gooi dit by die maalvleis en meng dit nou baie goed. Ek gooi nou ook 'n  koppie beskuit krummels by die mengsel ... jy kan gewone broodkrummels ingooi as jy nie beskuit krummels het nie.

In muffin pannetjie
Sny nou vir jou 12 blokkies lekker kaas so 1cm by 1cm by 1cm.

Vat nou weer so teelepel stukkie en braai gaar in die pan. Dis nou die finale toets en jy moet nou jou sout reg kry.

Ek gebruik my skaal en weeg so om en by 90gr balle af ... ek druk die vleis plat soos 'n hamburger pattie en sit een stukkie kaas in die middel en vou dit toe. Maak 'n mooi balletjie en sit in a muffin pannetjie. Die mengsel behoort vir jou 12 balletjies te gee.

Reg vir die oond.
Nou verf ek die bokante met 'n soet rissie sous en sit in die oond. 180C vir 20 minute en dan draai ek die temperatuur af na 140 toe vir nog 20 minute.

Haal uit die oond en laat afkoel so in die pan tot by kamer temperatuur. Nou kan jy die frikadelle in die yskas sit.

Heerlike happies vir daai hol kol op die maag en lekker om in 'n kosblik te pak. Ek het dit al gemaak met heelpit mielies in of fyn gekerfde groen boontjies.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... LIKE hom stukkend as jy wil.

Dinsdag 10 Junie 2014

Brood - rolletjies vir die manne

Hierdie is 'n Man Kos happie wat baie gewild is in ons huis. Die basiese metode het ook onbeperkte moontlikhede.

Meeste van ons het al gesien of het self die populêre "pinwheels" gemaak deur blaardeeg te neem, mooi oop te rol en dan vol een of ander smaaklike vulsel te strooi ... dan rol jy dit op soos a "swiss roll" en sny in skyfies. In die oond en so 10 tot 15 minute later dan het jy 'n lekker happie.

Nouja ... ek maak dit ook maar dis altyd vir my 'n probleem as ek die hoeveelhede vet sien wat uit daardie deeg kom. Moenie my verkeerd verstaan nie ... ek het niks teen vet nie en is lief vir vet in my kos maar wat te erg is, is darem te erg.

Wat ek deesdae doen is om vir my SPAR se bruinbrood deeg te koop ... die witte werk nie so lekker nie. Los die pakkie deeg in die yskas vir so 2 tot 4 dae en dan begin die pret.

Eerstens moet jy besluit watse vulsel wil jy gebruik en dan alles regkry in bakkies voor jy die deeg begin bewerk.

Kry jou oond op 180C en smeer 'n bakplaat. Ek smeer my plaat lekker dik met olyf olie want dit laat die onderkant lekker bros braai.

Kaas, gekapte bacon, biltong poeier of biltong krummels, russians, frankfurters, uie, pietersielie, gekapte droë vrugte, droë bessies, kaings, wors, braaivleis oorskiet, lamsboud, varkboud, scramble eiers ... enige iets wat jy in die yskas het.

Kies vir jou so 3 of 4 items en kap of kerf dit fyn. Meng goed wat lekker saamwerk ... maak dit soet of maak dit sout.

Onthou net, moenie rou vleis gebruik nie want die bakproses is te vinnig om die vleis gaar te maak.

Strooi jou werk oppervlak goed met meel, dop die deeg daarop uit en druk dit in langwerpige vierkant uit met jou vingers. Strooi nou die bokant goed met meel en vryf die oppervlak met jou handpalm ... strooi nog meel as jou hand nie lekker oor die deeg wil gly nie.

Nou vat jy jou koekroller en rol daai deeg so dun as moontlik ... strooi maar nog meel as jy taai kolle kry wat aan die roller wil vaskleef. Jy kan die deeg so met tussenposes omdop in die rol proses, strooi maar meel om te keer dat die deeg nie vasklou aan die opervlak of die roller nie.

Wat jy soek is dat die deeg omtrent so dik word soos 'n lemoenskil.

Nou moet jy vinnig werk want jy wil nie dat die deeg rys nie ... dit moet so dun bly as moontlik.

Reg vir die oond
As ek besluit dit gaan 'n sout ding wees dan smeer ek nou een of ander sous soos blatjan of sweet chilli sous oor die hele vel deeg ... moenie te dik gaan nie ...as ek a soet ene maak strooi ek kaneelsuiker oor die vel.

Pak nou jou vulsel uit op die vel omtrent soos wanneer jy 'n pizza sou pak.

Jy moet vinnig werk. Rol nou die gedoente op soos jy a swiss roll sou doen en onthou om die deeg in die rol so effens te lig sodat jy nie die bestandele voor die rol uit stoot nie ... jy wil die vulsel mooi vang in die rol.

Sny nou skyfies met 'n lekker skerp mes en pak dit plat op die bakplaat. Ek strooi nou nog kaas oor en kruie en speserye.

Heerlik
In die oond in vir so 15 tot 20 minute. Hou maar dop.

En siedaar ... Man Kos wat vrouens ook like.

Jy kan die in soveel lekker happies omtower as wat jy kan dink. Met soet happies sit ek vrugte en bessies in saam met konfyt en as dit uit die oond uit kom druppel ek sjokolade of versiersuiker pasta oor dit.

Die belangrikste is dat jy die bruin deeg gebruik en dat jy dit so paar dae laat verouder. Hierdie is baie goedkoper as die gekoopte deeg velle en dis baie lekker en verseker so knertsie gesonder.

Moenie die vulsel te dik maak nie.

Lekker vir kosblikke.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... LIKE hom stukkend as jy kan.


Sondag 08 Junie 2014

Hoender - een pakkie met baie moontlikhede

Hoender en koring risotto
Dis Sondagoggend en dis mos winter ... wat nou vir ete. Ons ou boerenasie spring mos vir die groot snitte en baie bykosse op 'n Sondag en teen laataand is die koker gedaan en die eters is in 'n koma ... tot volgende naweek.

Soos die wat my ken weet, het ek so 18 maande terug op 'n avontuur vertrek ... 'n kosmaak avontuur. Ek het die ou Moer By kok in my trommel gegooi en besluit ek wil 'n beter kok wees ... 'n kok wat mense kan betower met eenvoudige maar smaakvolle en interesante kos.


Ontbeen die boudjies
Een van die eerste dinge wat ek besef het dat ek sal moet aan werk, was my tegniese vaardighede. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek ken my pad deur 'n kombuis en ek skrik nie sommer vir tools of resepte nie. Maar ek het besef dat daar fyner tegniese dinge is wat 'n goeie basis is vir enige kok.

Sous potjie
Ek gaan nou nie vertel van al die dinge wat ek geleer het nie maar ek wil vandag fokus op 'n eenvoudige pakkie hoendervleis. Meeste van ons het die pakkies al gesien, vier dytjies en vier boudjies ... ek noem dit sommer 'n Kwart Pakkie ... geen rede nie maar dit val lekker op die tong en Poppie weet presies waarna ek verwys.

As huiskok is dit jou verantwoordelikheid om te sorg dat jou mense gesond eet. Dis ook so dat jy wil hê hulle moet lekker eet.

Ontbeen die dye
Ons tradisies rondom Sondagetes in die besonder maar ook ander maaltye het ons verlei en ons het toegegee. Byna alles word oordoen ... vleis, rys, pampoen, aartappels, boontjies en dan nog ook twee of drie bakke slaai ... en dit vir 'n gesinsete. O ja en moenie die moontlikheid van nagereg gevolg deur koffie en nog ietsie vergeet nie.

Klaar en reg
Terwyl jy so aanploeter en sweet om al die disse gaar of reg te kry ... staan vir 'n oomblik stil en dink bietjie ... skep een lepel van elke dis op 'n bord en siedaar ... 'n vrag kos wat meer is as wat die grootste deel van die wêreldbevolking in 'n week of langer sal eet. Dit is waar die dikgeit onder ons mense vandaan kom. Jy as huiskok kan verseker hier 'n groot rol speel.

Gereed vir speserye en yogurt
Toe ek besluit het om op my avontuur te vertrek het ek ook besef dat as ek gaan begin om al die lekker kos te maak gaan ek verseker 'n nuwe klerekas moet oopmaak ook en dit was gladnie op my lysie van dinge om te doen nie.

Reg vir die yskas
Nou hoe gemaak ... wel ek het na die groot kokke se etes gaan kyk ... nie net gekyk nie ... werklik bestudeer en mooi geluister. Die beste raad wat ek by verskeie van hulle gekry het was ... "Less is more" ... en die eerste stap in die rigting is om die disse te beperk tot drie disse op 'n bord ... soms vier. Jy moet ook duidelik seker maak watter een van die disse moet die ster op die bord wees. Dan fokus jy op die ster en maak twee "supporting" disse.

Ok terug na die hoender stukkies toe ...

Sous kom aan
Eerste stap is om die stukkies te ontbeen. Jy het a lekker skerp messie nodig en baie geduld ... die eerste keer dat jy dit doen gaan jy dalk swoeg en sweet ... my eerste een het 40 minute gevat om die agt stukkies te ontbeen. Nou so dosyn of wat kere later is dit so 10 to 15 minute en dit kan nog vinniger maar ek geniet die taak en dis terapie vir my.

Voor ek begin aan die vleis werk sit ek 'n potjie met water op die stoof en soos die beentjies uitkom gooi ek dit in die water. Dis waar ek my sousie brou.

Kaal beentjies vir die honde


Die ontbeende stukkies word mooi afgerond en die snippers gaan ook pot toe. Sodra die hoenderstukke mooi gevlek is sprinkel ek dit met speserye en pak in a bak en gooi toe met gewone yogurt. Moenie sout bysit nie. Die bak gaan nou yskas toe terwyl ek die koring gaarmaak.

Sous is nou reg



Die vleisies word nou afgeskraap van die beentjies af in die pot en gaan terug in die sous in. Ek gooi so twee teelepels Ina Paarman groente stock in die pote en laat hom maar kook ... daar is hopeloos teveel water en dit moet afkook. Die lang kookproses van die sous sit diepte en karakter in die sous. Ek gooi soja en worcestersous by en van my tuisgemaakte blatjan. Ek wil die oorheersende geur van die hoender uiteindelik so half soet suur hê.


Koring is gaar


Sodra die sous begin regkom maak ek die hoender gaar ... lekker warm pan met olie in en getemper met chilli en braaisout. Braai die hoender lekker ... moenie teveel vroetel nie, jy wil lekker gebraaide stukkies op die vel sit.




Vleisies en sous in die koring
Na so 12 minute is die hoender amper reg en ek skep so paar lepels van my sous in die koring in ... so amper soos 'n risotto ... die geur van die sous en die fyn vleisies daarin dra nou die tema oor na die koring toe.

Temper die olie






Nou skep ek die koring in a teekoppie en dop dit om op die bord ... pak die hoender stukkies in sit dan iets groen by ... die regte ding is fyn gesnyde appel stokkies met a suurlemoen mosterd sousie maar dit het ek nie afgeneem die aand toe ek dit gemaak het nie. Ek het die dis vier aande in 'n ry gemaak ... natuurlik tot vermaak en gekerm van die eters maar hulle moes maar eet.

Braai die hoender

In die souspot is daar nou 'n wonderlike hoender sous wat ek vries en later as basis vir 'n lekker sop gebruik.

Net drie goed op die bord en die smaak en geur is heerlik. Die hoender tema is deur na die koring en die twee komplimenteer mekaar sonder dat die hoender oordonder word.

Probeer dit gerus en bly oefen tot jy dit reg doen ... skuif dan aan na die volgende dis toe. Hierdie soort hoender kan warm of koud bedien word en jy kan die bykos regtig baie wissel ... die hoender bly die ster en die bykos komplimenteer dit.

My speserye
Ek het dit al gemaak met chips, met fried rice, met spicey mash en met 'n lekker somerslaai.

Die hoender stukkies is gewoonlik 'n wenner.


Dis belangrik om so bietjie braai stukkies op die vleis te kry.

Hierdie is die speserye wat ek gebruik.

Ek hoop jy het die storie geniet

Lekker eet en kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... LIKE hom stukkend.


Vrydag 06 Junie 2014

Skons - Tannie Poppie Kokkedoor leer my iets anders

Ek het 'n groot voorliefde vir skons ... botterbroodjies het my ma dit genoem maar deesdae praat ons van skons. Dis vinniger en korter om te tik.

Een van my eerste koskenade stories was oor skons ... Botterbroodjies - Skons met 'n kinkel 

So tydjie terug bevriend ek toe vir Anel Potgieter, sy is 'n bekroonde kos blogger en ek geniet haar skrywes. Sy wys my toe op 'n artikel wat in die Rapport verskyn het ... Totsiens aan my renons in skons ... 


Middernag skon en koffie
Na ek die artikel gelees het het ek nogal lekker gevoel om te weet dat daar nog iemand is wat ernstig dink oor skons. In die artikel vertel Anel toe van Tannie Poppie se Sprite Skons. Toe ek dit lees het ek net geweet ... hierdie skons moet ek eenvoudig maak en self proe.

My grootste klagte oor skons is dat die meeste van dit wat as skons aangebied word is eintlik maar wat die Amerikaners "biscuits" noem. Die goedjies is droog en hopeloos te bros.

Ek is een van daai ouens wat geseënd is met helse warm hande en dus is enige pastry wat praat van vryf botter in die meel in net eenvoudig 'n nagmerrie. Gordon Ramsey het my geleer dat ek maar sal moet regkom met my voedselverwerker vir die takie en ek gaan selfs so vêr as om die voedselverwerker se bak en lem, die meel, die botter en die mengbak in die vrieskas te sit. Tannie Poppie se resep haal al die dinge uit die prentjie uit.

So eenvoudig en so ongekompliseerd. Hierdie is nou Man Kos wat vrouens ook like en wat manne self kan maak.

Tannie Poppie se Sprite Skons
500 gr Bruismeel
250 ml Vars Room
330 ml Sprite (Een blikkie)
1 Teelepel Sout (Opsioneel en Anel se kinkel)
Oond 200 C

Dis dit ... net die 4 bestandele.

Kry jou oond op hitte voor jy die Sprite by die meel gooi want ek dink dis belangrik dat jy meng, skep en blitsig oond toe.

Ek klits my meel en sout eers goed in die mengbak met die whisk. Dit sit lug in die meel en doen maar min of meer wat 'n sif doen.

Room en meel
Heel eerste gooi jy die room by die meel en meng dit goed in. Ek het my whisk gebruik. Ek het ook nie genoeg room gehad nie toe vul ek dit aan met lekker dubbelroom Griekse Yogurt. Jy kry nou sulke lekker groot frummels ... ek weet nie of dit 'n woord is nie maar vir my is dit so baster tussen krummels en flenters.





Meel en Sprite
Volgende gooi jy die Sprite in die frummels ... nou gebruik ek 'n groot lepel om die mengsel goed deurmekaar te maak. As jy nou lus is vir kinkels is dit nou die tyd om goed soos gekapte neute, cranberries, biltong krummels of gerasperde kaas in te gooi. Onthou net, as jy dit doen dan begin jy neig na muffins toe. Ek het niks ingegooi nie maar ek gaan verseker dit nog doen.


Nou het jy 'n lekker natterige mengsel. Tannie Poppie stel voor jy gebruik jou groot muffin pan vir die bak. Dis wat ek gedoen het en het ses mooi groot skons gekry.

Groot muffin pan
Deel nou die mengsel op in jou gesmeerde muffin pan. Ek het op twee se koppie kanneel gestrooi. Werk maar vinnig, ek dink net dat dis nie 'n goeie plan om die deeg te laat staan nie.

Mooi gerys
Nou in die oond in 200C ... dis a lekker warm oond ... en ek het die klokkie op 10 minute gestel. Tannie Poppie stel voor 12 to 15 minute ... dit het nie vir my gewerk nie. Na 10 minute het ek die oond afgedraai na 170C toe vir 5 minute en toe getoets ... die pen het nat en taai uitgekom en ek het dit nog 5 minute gelos.

Die skons het pragtig gerys en was mooi ligbruin met die kenmerkende rekmerke van 'n lekker skon.





Pragtig en geurig
Hulle was veer lig en toe hulle op die draadrakkie staan was ek sommer baie trots op my handewerk.

Ses pragtige skons wat ek enige tyd op enige kenner se bord sal sit.





Mooi tekstuur
Maar die ware toets is mos in die tekstuur en smaak. Ek het een oopgebreek en wat ek gesien het was soos musiek ... pragtige bruin korsie met 'n mooi tekstuur. Klammerig en met sulke skilfers hier en daar ... geen krummels nie ... perfek soos 'n goeie skon moet wees.

Nouja ... die rede vir die skon bakkery so laat in die nag was mos juis omdat ek ietsie anders wou hê saam met my laatnag koffie. Lekker dik botter en 'n goeie blêrts aarbei konfyt.

Hemel op 'n bordjie
My gewete het my gemaan om die room maar te skip, in elkgeval het nie room gehad nie want ek het die laaste room in die deeg ingegooi.

Saam met mengery, bakkery en koffie makery was dit so 40 minute en toe eet ek. Die oond se warm makery het my so bietjie opgehou.

Probeer dit gerus ... maak net seker met 'n pen of messie dat die goedjies deur gebak is voor jy die oond afsit. Ek gaan die ook in kleiner pannetjies maak en daar dink ek sal die 12 to 15 minute reg wees ... die groot skons het baie lyf en jy moet kompenseer vir dit.

Lekker eet tot ek weer 'n storie skryf.




Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.

Sondag 01 Junie 2014

SOUSTREIN - kos wat jou na mooi plekkies toe gevat het.

En so gebeur dit toe ... byna twee maande se wag is verby. Vrydagaand 30 Mei 2014 om 19h00 en die SOUSTREIN trek in Nelspruit in. 'n Mens kan die opgewondenheid byna voel en die geure van kos meng met die stemme ... hier gaan geeet word.

Die STOEP ... die SOUSTREIN trek in ...
Die gaste is reg by die peron by die STOEP en die Laeveld het ons geseën met 'n pragtige aand. Nie 'n windjie nie en net lekker.

Die gaste gesels met gedempte stemme en almal wonder wat presies hulle moet verwag. Die is 'n nuwe ding vir die meeste en die rumours oor die geregte laat party nogal frons. "Olyfgrond" op die bord ...

Drankies word bestel en die geselskap begin bietjie meer ontspan ... mense begin oorkruis by tafels gesels en stadigaan begin die groepie aan mekaar gewoond raak en word een.

Verwelkoming en spyskaart bespreking ...
En toe is Renette daar ... 'n klein vroutjie met 'n groot hart. Haar glimlag verhelder die omgewing en die mense hang aan haar lippe terwyl sy die spyskaart met hulle bespreek.

Vreemde dinge word genoem en met "gusto" bekryf en die mense begin hulle lippe aflek. Een ding is verseker ... vanaand gaan daar kos met siel op die borde wees ... Renette se siel want dis duidelik dat sy haar hart in alles insit wat ons gaan eet.

Nou begin ek regtig opgewonde raak ... ek het gehoor van dinge en kombinasies wat ek gladnie ken nie.

Tamatie teksture ...
Amuse Bouche: Tamatie Lollies, Bloody Mary Jellies en Tamatie Macchiato.

As mens na Renette se beskrywing luister dan vorm daar 'n prentjie in jou kop maar jy kan regtig nie die smake voorspel nie want vir die meeste van ons, wel, verseker vir my, is die iets wat ek nie ken nie.

Tamatie teksture kan ek in my gedagte sien maar Roosmaryn karamel suiker ... dit moet ek ervaar ... en dit alles op 'n stokkie.

En die Bloody Mary Jellie ... Worcestersous, Seldery en Tabasco ... dis bekend vir my maar in 'n jellie ?

Dan is daar die Macchiato ... 'n woord wat ek al baie gehoor het maar nog nooit geproe het nie. Roosmaryn, Basil skuim ... vreemd vir my.

So dis met groot afwagting dat ek die tamatie lollie hap. Die krakende karamel en sagte tamatie vermeng en my brein moet in hoogste versnelling ingaan om die smaaksensasie te ontsyfer. WOW !

Volgende is die Jellie en hier gaan dit makliker want die smake is goed bekend vir my ... net sonder die tradisionele Vodka.

Laastens is die klein koppietjie met die groot skop ... jissim dis lekker. Ek kyk rond en orals sien jy net glimlagte ... wel so hier en daar is daar ook 'n frons of twee en dis te verstane ... hierdie was 'n pallet skok vir die meeste van ons ... hierdie is kos verfyning soos wat ons nie aan gewoond is nie ... wel altans die meeste van ons.

Wat verseker is, is dat hierdie eerste gereg die grenslyn getrek het en dis HOOG !

Die plank verdwyn en 'n groot spierwit bord land voor my ...

Bief Carpaccio Pêrel
Bief Carpaccio Pêrel: Beesfillet met Parmesan Vla.

In die middel is 'n mooi helder pienk beesfillet balletjie, lyk mos amper soos 'n tradisonele skilpadjie maar dit is nie ... nee die is dun beesfillet wat styf gespan is oor die mees sensuele Parmesan Vla mengsel.

'n Op en wakker Spesery sous sirkel wat besprinkel is met fyngekapte Seldery hou jou aandag op die pêrel in die middel en heel bo lê 'n Shitake Sampioen ... spierwit en onskuldig.

Maar moenie jouself laat mislei deur die wit dingetjie nie want onder daai kwansuise onskuld lê 'n byna sondige lekkerte.

Vir my wat baie van rou vleis hou was hierdie 'n belewenis ... ek ken carpaccio maar die was soveel meer as net dun skyfies vleis met 'n sousie ... die is nou verseker 'n stasie waar ek weer op die SOUSTREIN sal spring as hy verbykom.

Kosteater ...
Tee Gerookte Geelstert: Geelstert wat gerook is met rooibostee.

Hierdie dis was nou een van die disse wat spesifiek teiken gevat het op die reuk organe van die gaste. Die hele dis is opgedien in 'n glas klokkie. Die klokkie het gewarrel met rook en almal het in verwondering na die bord gestaar.

Reuke en geur sensasie
En toe lig die eerste gas die klokkie op en almal volg haar ... die fantastiese rook geur vul die lug en jy sien net tande soos die gaste glimlag. Hierdie was nou teater ... kosteater.

Die Geelstert is opgedien op swart rys en gebaai in 'n heerlike Sesame Mayonnaise. Die groen blaartjies gee nie net kleur nie maar sit nog so ekstra bietjie smaak by 'n dis wat reeds oorloop van geur en smaak.

Gerookte Geelstert
Ek is nie 'n groot voorstander van gerookte kos nie en sê altyd ek rook liewer 'n Camel. Hier het Renette my egter 'n les geleer wat ek nie gou gaan vergeet nie, indien ooit ... gerookte kos klop 'n Camel enige dag op enige plek.

Die vis was perfek gaar gemaak en die swart rys het geur en tekstuur gehad wat vêr by my verwagting verby geskuif het.

Die mayonnaise was ryk, lekker en net genoeg.

Soos een gas opgemerk het ...

"Die is iets wat ek nie sommer van die spyskaart af sou gekies het nie en dit sou 'n moerse fout gewees het."

En ja ... ek stem honderd persent met hom saam.

Op die stadium het die kombuis laat weet dat daar nou so 15 minute pouse gaan wees voor die hoofgereg opgedien sou word en die regte rokers het almal buitentoe gestroom om so bietjie litte te rek en om die nikotienvlakke net op standaard te kry.

In die rokerskring is daar net kos gepraat en dit was vir my goed om te hoor hoe die gaste baie van die fyn nuanses van die geregte opgetel en ervaar het. Natuurlik was alles nie in almal se smaak nie maar almal was dit eens ... dit was 'n kosavontuur wat hulle vir geen geld sou wou misloop nie.

En toe kom die hoofgereg. Die was deelkos soos Renette dit bekryf en het beteken dat paartjies of groepies saam bedien is met 'n plank waarop die groente uitgepak is.

Trio van vleis ... Man Kos vir my
Hoofgereg: Springbok met Roosmaryn krummel. Eend met Kumkwat Lemoen sous. Earl Grey Varklies. Groentetuin op olyfgrond.

Aanvanklik toe ons die SOUSTREIN ete beplan het was daar 'n paar mense wat gereken het dat ons net moet onthou, hulle is groot eters en toringkies kos gaan hulle verseker dwing om die naaste Takeaway Joint te gaan opsoek.

Wel, een ding is verseker ... na die hoofgereg was daar niemand wat aan Takeaways gedink het nie. Die bord was gepak met drie soorte vleis en die porsies was mildelik of "generous" soos die slim chefs dit sou genoem het. Die was nou Man Kos vir my.

Die Springbok was geurig en die olyfkrummel was bros en krakerig. Ek is nie 'n olyf eter nie maar Renette het my gewys dat olywe lekker kan wees as dit reg opgedien word.

Die eend was vir my die Dish of the Day ... eend kan mos soms aan die geil kant wees maar Renette het daai geilgeit ordentlik getem. Die eend was sag en sappig met 'n lekker bros korsie. Die Kumkwat sous was werklik "stunning" ... lekker geurig en net taai genoeg om die eend mooi te bedek. Elke happie was soos 'n hele partytjie vir my.

Ek hou baie van varklies en Renette het my 'n kishou geslaan met haar voorberiding van die lekkerny. Die tee geur het gehelp om die vleis te geur en vir my my was die eend se onbaatsigtige porsie lemoensous 'n werklike bonus. Ek is mal oor 'n soet sous saam met vark.

Groentetuin op Olyfgrond
Die groente het uitdagend gepronk op die hopie olyfgrond en die soutkors aartappel was 'n pragtige verrassing. 'n Regte aandag trekker wat die mense laat praat het.

Na die stewige bord kos het ek weer saamgetou na die rokerskring toe en die manne kon nie uitgepraat raak oor die bord kos nie.

Een man reken toe mos ...

"Vir so bord kos sal ek 'n Ystervark kaalgat ry om by die eetplek uit te kom."

Ons slenter terug tafel toe want die nagereg word nou bedien.

Nagereg
Nagereg: Lemoenstroop koek. Yogurt hangop kaas. Sjokolade lollie en gestoomde melk. Lemoen Jellie.

Die nagereg was interaktief in die sin dat jy jou sjokolade lollie self in die gestoomde koppietjie melk moes in roer om 'n heerlike ryk drankie te maak wat jy kon drink.

Die nagereg was lig en lekker en 'n goeie afsluiting vir 'n lekker maaltyd.

Wat vir my die beste was, was om te sien hoe die mense na die ete nogsteeds bly sit het en lekker gekuier het. Dit is mos die groot toets van lekker eet ... kan ons na die tyd nog kuier en dan dik vriende uitmekaar gaan.

Moeg maar gelukkig
Renette het ons verseker nie terleurgestel nie en ek voel regtig jammer vir die wat die SOUSTREIN gemis het. Ek is seker almal wat daar was het iets nuuts geleer oor kos en verseker iets ervaar wat hulle nooit geken het nie.

Renette se sprankel geaardheid en haar liefde vir kosmaak het weereens verseker dat die gaste die geleentheid baie lank sal onthou.

Aan die einde van die aand het sy by ons kom sit en die gaste het almal kom gesels. Ek kon aan haar gesig sien dat sy moeg was maar ek kon ook in haar oë sien dat sy gelukkig was. Wat wonderlik vir my was, was om te sien hoe eerlik sy met die gaste gedeel het. 'n Ware mens sonder tierlantyntjies.

Nouja en toe trek die SOUSTREIN uit die stasie uit en die mense staan op die peron en waai ... heimlik hoop hulle almal dat die SOUSTREIN weer eendag in ons kontrei gaan kom stop.

Dankie dat jy hier gelees het.

Hier is my Man Kos Facebook bladsy.

Hier is Renette se Kokkedoor bladsy.