Sondag 16 Augustus 2015

Steak - 'n Man Kos Feesmaal

Ek het al in die verlede genoem dat my Poppie reken mos dat 'n man eintlik net vleis en brood wil eet. Nouja, sy is nie regtig verkeerd nie ... die Grotman in my is 'n vleisvreter en daar is niks wat ek daaraan wil doen nie.

Man Kos Feesmaal
Soos ek ook voorheen al genoem het, is ek op 'n mission om lekker kos te maak, smaaklik en vullend, sonder om die bank te breek. Kos is besig om baie duur te word en prima kos raak soms onbetaalbaar. Steakhouses ruk jou 'n lelike bedrag vir 'n goeie stuk steak en menigmaal is ek erg bedonnerd as ek by die deur uitloop ... so R450.00 later vir my en Poppie en dan was dit ook nie regtig die geld werd nie. Dis die probleem vir my, ek kan self die meeste goed maak op die spyskaart en gewoonlik nog beter as wat hulle bedien.

Nou vandag gaan ek maak soos Poppie sê en vir ons vleis en brood maak ... maar dit is vleis en brood sos wat jy nie maklik op 'n spyskaart sal sien nie.

Lekker vars brood
Eerste maak ek die brood en botter, ek gebruik a sakkie SPAR Deeg vir die brood ... ek het hom twee dae terug gekoop en in die yskas laat lê ... nou het hy so effe surige reukie aan hom as jy die sak oopskeur ... perfek. Hanteer die deeg nou versigtig en rek hom so effens dat jy so langwerpige deeg kry. Ek smeer 'n bakplaat lekker met so drie eetlepels olyfolie en dan rol ek die deeg versigtig daarin en maak seker die hele bol is goed geolie. Die heletyd werk ek baie sagkens met die deeg sodat ek hom nie te plat laat val nie want die gis is teen die tyd redelik poegaai. Maak jou oond lekker warm, ek sit myne op 210C. Terwyl die oond warm word laat ek die deeg in die pan lê en net voor ek dit insit sprinkel ek fyngemaalde growwe sout oor die deeg ... dis maar hoe ek daarvan hou. Dan gaan die brood in die oond in en ek stel die horlosie vir 20 minute. Na 20 minute draai ek die temperatuur af na 170C vir nog so 15 minute. Die deeg kos so om en by R11.00.

Vars botter
Terwyl die brood bak maak ek gou 'n bolletjie lekker vars botter deur 205ml room af te karring met my elektriese klitser. Jy kan die proses hier gaan lees ... Maak jou eie Botter. As jy Clover se room gebruik gaan jy so in die omgewing van R15.00 betaal ... ek koop ons plaaslike Jersey melkery se room vir R8.50.

Nou vir die vleis ... ek het regtig ultra "rich" gegaan en 'n pragtige stuk verouderde rump gekoop. So net onder die 800gr. Die vleis se prys is R95.00 per kilogram en die stuk wat ek vat is R74.50. Kyk, ek weet dis duur maar dis verseker nie die gehalte wat Steakhouses vir jou gaan aanbied nie ... tensy jy 'n baie spesiale eetplek kry en bereid gaan wees om so in die omgewing van R300.00 per bord te betaal nie.




Pragtige stuk Steak
Dit is 'n pragtige stuk steak en ek bestrooi hom lekker dik met gemaalde swat peper en 'n braai sout mengsel. Dan bietjie olyf olie en ek vryf dit mooi in die vleis in, draai hom om in die bak en doen dieselfde aan die anderkant. Nou laat ek die bakkie met vleis rustig rus op die toonbank. Die beste is dat die vleis nou kamertemperatuur bereik voor jy dit op die vuur sit.

Reg vir die vuur
Die brood is reg en die botter is in die yskas.

Nou gaan die steak vuur toe ... en dit moet a warm vuur wees. Hierdie deel van die proses moet jy maar liewer konsentreer want die steak gaan so om en by tien tot veertien minute op die vuur wees. Hierdie steak vereis jou volle aandag en is nie reg vir die normale braai aande nie want dan gaan jy die vleis oordoen.










Lekker warm vuur
Nou is die vleis reg en ek laat dit nou rus. Ek laat die vleis so sewe minute rus. Dis die tyd wat ek die borde regsit, die brood sny en die botter uit yskas haal.







Uitgerus en opgekerf
Ek vat 'n plank en maak so paar hopies sout, speserye en vars kruie blaartjies. Dan plaas ek die steak op hierdie plank en sny dit in mooi repies. Die is nou plankie steak uit die boonste rakke.

Die vleis was murg sag en daar het so paar repies oorgebly vir 'n lekker toebroodjie later.

Die ete se bestandele het R94.00 gekos ... vir twee mense is dit gladnie sleg nie, veral as jy in gedagte hou dat dit prima bestandele is en daar het vleis oorgebly. Nou na ek die storie geskryf het, is dit vir my meer duidelik as voorheen ... ek sal nie sommer steak bestel by 'n eetplek nie.

Sommige mense kan dalk frons oor die gebruik van SPAR deeg ... wel, ek kan brood van "scratch" af bak maar vir my is die vraag, teen die prys vir die sakkie deeg ... waarom moet ek dit doen ... ek is steeds van opinie dat die manier waarop jy bak die grootste deel vorm van die sukses van die brood.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.