Woensdag 30 Maart 2016

Aartappels - Raak so bietjie waaghalsig

Aartappels ... min mense glo 'n ete is volledig sonder aartappels en die meeste mans is lief vir dit. Daar is duisende resepte en maniere van aartappels voorberei en elke kok sweer syne is die beste. Ek het al baie maniere gebruik en baie flops gesien.

Dis nou mos Man Kos
Vanaand gaan ek julle vertel van 'n manier wat ek deesdae baie graag gebruik en die resultaat is gewoonlik iets wat die manne breed laat glimlag. Dis maklik en eenvoudig en verg net so bietjie geduld.

Almal van ons ... of altans die meeste van ons het herrinneringe aan die lekker bros gebakte aartappels wat ons oumas uit die oond uitgetower het. Baie van ons het dit sekerlik al probeer naboots en die meeste het agtergekom dat dit net eenvoudig nie so lekker soos ouma se aartappels is nie.

Na baie pogings en baie oplees het ek uitgevind wat my ouma se groot geheim was ... eerstens het sy nie olie gebruik nie ... nee dit was altyd vet, verkieslik gans of eend vet maar meesal was dit varkvet. Dit is die groot ding. Nou met die hedendaagse lawaai oor alles wat sleg is vir 'n mens kan mens seker nie verwag om dieselfde resultate te kry nie ... wat my meer fasineer is dat my ouma en oupa vet gebruik het en albei oor die 90 jaar oud geword het ... ek sien so om my dat baie van my tydgenote omkap al hier van die middel vyftigs af en hulle eet nie vet nie, gebruik nie botter nie en drink nooit volroom melk nie. Nou wonder ek maar ...

Sny jou gaar aartappels so
In my huis is LAE VET, POLI ONVERSADIG, SUIKER VRY alles skelwoorde en ek duld dit nie in my kos of in my yskas of op my tafel nie. Vir die laaste 3 jaar braai ek alles in varkvet wat ek kry as ek kaiings maak, ek gebruik net egte botter, volroom melk, volroom yoghurt en my dokter is verstom oor my cholesterol tellings en bloeddruk.

Terug by die aartappels. Ek gaan nou maar aanvaar dat die meeste mense nie vet in die huis het nie en gaan die meer "beskaafde" metode beskryf.

Vir elke aartappel het jy 'n teelepel botter nodig en dan genoeg kookolie om jou oondbakkie se bodem mooi te bedek, omtrent so vuurhoutjie dikte diep.

Stoom jou aartappels in die mikrogolf gaar of kook dit heel met skil en al.

Gebruik 'n groot genoeg pan
Kyk mooi na die fotos hoe jy dit sny nadat dit gaar is. Die skil gaan nou onder in die pan lê en gaan die aartappel bymekaar hou.

Strooi jou geliefde braai speserye oor die olie in die pan. Sit nou die botter in 'n bakkie en smelt dit. Met 'n kwassie verf nou die bokant van die aartappels baie mooi met die botter en maak seker alle kante is goed geverf. Dis belangrik dat jy die bak so kies dat die aartappels mooi oop kan lê en soos vingers boontoe wys. As jy teveel in die pan sit gaan daar nie ruimte wees vir die vingers om oop te staan nie en gaan jy minder "crunchie" stukke kry.

Strooi nou jou geliefde braai speserye mildelik oor die aartappel, moenie suinig wees nie.

Heerlik bros en smaaklik
Lekker warm oond van so 190C en sit die bak in. Laat dit gaan vir so 20 minute en haal nou uit, verf die vet in die pan weer oor al die aartappels met a kwassie en sit terug in die oond. Draai die temperatuur nou af na so 170C toe en bak vir nog 20 minute. Hierdie is slegs riglyne want oonde verskil kwaai, hou maar dop en moenie laat die aartappels brand nie.

Draai die oond nou af en los die bak in die oond tot jy moet opskep. Mooi netjiese porsies en liplek lekker.

As jy so gelukkig is om gansvet of varkvet in die yskas te hê, vervang die botter met die vet. Die olie is nodig om te keer dat die aartappels te maklik aanbrand.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.