Saterdag 30 April 2016

Koekedoor - Dinge begin kalmeer

Koekedoor Beoordeelaars
Hierdie is nou nie iets oor kos maak nie maar Man Kos hou van lekker TV en kosprogramme is baie aantreklik vir my. Koekedoor is mos Afrikaans en ek hou daarvan.

Tot op hede het ek myself weerhou om enige iets te sê oor Koekedoor. Ek het wel hier daar 'n paar opmerkings gelees en ek het ook 'n paar kwetsende brokkies gesien.

Miskien is dit die biker in my wat my goed geleer het dat jy nie jou bêk rek na die eerste draai in 'n bergpas nie ... nee jy bly stil en fokus want jy weet nie hoe lyk die volgende een nie.

Nou het ek episode 3 klaar gekyk en ek voel gemaklik om my ervaring te deel.

Mens kan duidelik sien dat die deelnemers en die beoordeelaars nou in die swing van die ding ingekom het en almal is meer gemaklik ... sommiges senuweeagtig gemaklik maar gemaklik. Die oordadige gegiggel is weg en die mense fokus ... niks soos 'n slagtery om die gekekkel hok te slaan nie

Ek het nog te min van die deelnemers gesien om regtig 'n gunsteling of twee uit te sonder maar wat wel duidelik is, is dat die ou girls nie die pyp gaan rook nie ... ek dink die fisiese eise van die kompetisie is te erg vir hulle.

Lyk my of die haan onder die henne sy man staan en sy teenwoordigheid goed laat voel. Die ou se hart is in die bakkery en ek kon vanaand sien sy siel gaan in daai Kenwood in ... keer op keer.
Dis seker nodig om waaghalsig te wees in die kompetisie maar as ek gewone wiskunde in die prentjie bring dan is daar geen formule waar dit na 'n goeie plan lyk om 'n roomyskoek te maak nie. 'n Hele paar se skeppinge het voor hulle oë weggesmelt. Die wat hulle roomys in bakkies aangebied het, het goed gedink.

Nou so bietjie oor die program ... hierdie tipe programme se werklike waarde vir die kykers lê in die geleentheid om te kan leer en dis waar ek dink die Engelse se koek storie ons Koekedoor bietjie in die stof laat byt ... met die vorige reeks het ek eenkeer daaroor geskryf en ek gaan dit nou weer doen ... deel julle beoordeelaars se kennis meer met ons. Ja dis sekerlik kykpret om te sien hoe spartel die deelnemers maar sekerlik kan julle so paar minute afknyp dat die beoordeelaars hulle menings met ons deel en ons vertel hoekom goed skeef loop ... daar was vanaand wel a goeie skeet van dit met die perskekoek maar julle is maar suinig.

Nouja ... ek sien uit na volgende week.

Ek wil darem graag dit net noem ... Mari-Louis het vanaand pragtig gelyk. Vir my was haar grimering baie mooi, amper bedeesd maar met so pikante wulpsheid wat in sprankel ontaard het sodra sy begin lag ... man, dit was vir my so opvallend.
Dankie Errieda ... dis lekker om na die program te kyk en te wonder of ek ooit so iets sal kan maak ... vir nou bly ek maar by die brood.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Maandag 11 April 2016

Sampioene - Maklik en lekker

Heerlik en geurig
Die mens wat my ken weet al by die tyd dat ek nie regtig moeilike resepte en metodes ophemel nie. Die basis van my hele kokery is dat dit Man Kos is en by definisie moet Man Kos maklik wees.

Speserye in die olie
Sampioene of Mushrooms is iets wat baie mense van hou maar o genade, die goedjies word gewoonlik verongeluk in die pan of die pot. Mushrooms het oor die algemeen 'n baie subtiele smaak wat baie maklik oordonder kan word en dan eindig jy met so rubberige refleksie van wat eintlik 'n baie lekker dingetjie kon wees.

Vandag gaan ek vertel hoe ek my mushrooms gewoonlik maak ... dis nou waneer ek die mushrooms self op die bord wil sit en nie in 'n sous of bredie wil gebruik nie.

Sit botter by
Vir die gaan jy 'n pakkie van die mushrooms nodig hê wat in die markte beskikbaar is. Kyk vir 'n pakkie waar almal min of meer dieselfde grootte is ... dis belangrik want dan weet jy almal word gelyk gaar.

Moenie jou mushrooms afwas in water nie ... vryf die kompos maar weg met 'n sagte kwassie. As jy dit in water afskoel verongeluk jy alles.

Braai en moenie roer nie
Vir my metode gaan jy 'n lekker warm pan nodig kry, genoeg olie om die pan bodem so vuurhoutjie dikte te bedek en a leker eetlepel botter of varkvet. Sit alles in die pan en gooi dan a goeie klompie van jou gunsteling braaispeserye in die warm olie.

Breek die stamme van die mushrooms versigtig uit, druk hulle liggies tussen jou duim en voor vinger dat hy plat word en bietjie split.

Daar begin die vog uitkom
Gooi nou die stamme in die olie en pak die pak die mushrooms in die pan dat die holtes boontoe wys. Strooi nou nog speserye oor die mushrooms en staan en wag ... moenie die goed roer nie. Spoedig sal jy sen daar vog in die mushrooms begin vorm. Gee so bietjie tyd dat die vogges mooi loop en draai dan die mushrooms vinnig om.

Een kant is nou reg.
Dis regtig belangrik dat jou pan baie warm is want as dit nie is nie gaan jy die mushrooms kook.

Strooi nog speserye nou op die gebraaide kant en braai vir min of meer dieselfde tyd wat jy die anderkant gebraai het. Haal die stammetjies uit en keer die mushrooms om ... so 15 sekondes en haal uit en bedien.

Moenie laat koud word nie.
Perfek vir die bord.
Ek maak my mushrooms sodra al die ander kos reg is om te bedien.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.