Saterdag 20 Januarie 2018

Konfyt - Appelkoos en meer

As daar nou iets is wat my sommer breed laat glimlag, dan is dit 'n lekker sny vars Brood met goeie botter en lekker Appelkooskonfyt. En dis waar dit deesdae vir die meeste van ons stop ... die gedagte aan lekker Appelkooskonfyt. Dit wat in die blikkies opgedis word is lankal nie meer Appelkoos nie ... dis 'n soet pasta wat die regte kleur het maar weinig smaak het van appelkoos ... dis blykbaar grotendeels pampoen.

Konfyt kook is lekker vir my
Nouja hierdie is mos 'n ManKos blog en nou wonder baie seker wat het konfyt te maak met ManKos ... wel die waarheid is dat vir die meeste mans is Vleis en Brood al wat hulle nodig het maar so lekker blerts ordentlike konfyt maak dit gewoonlik net soveel meer lekker.

Soos ek al menigmaal gesê het, ek is nie groot op resepte skryf nie want daar is miljoene van die goed al geskryf en niks is regtig sommer uniek en nuut nie. So ek vertel gewoonlik maar die storie rondom die maak van iemand se dis met sy of haar resep.

Vanaand is een van die aande wat ek egter 'n resep gaan gee maar die verskil is dat ek gaan vir jou vertel van 'n manier om konfyt kook heelwat makliker te maak ... ja ... dis die ManKos manier van konfyt kook.

So toets ek vir die "SetPoint"
Dis nou die tyd van die jaar wat die meeste vrugte redelik beskikbaar is en soms is grootmaat koop goedkoop of jy is gelukkig om 'n boks vol iets persent te kry. Dis ook die tyd wat ek op baie kos groepe die vraag sien ... Hoe kook ek die of daai konfyt. Wat dan daarop volg is stortvloed van resepte en metodes en natuurlik ook die lyne en lyne se snert oor die of daardie onontbeerlike byvoegings of die of daai eeu oue "spesiale" ietsie wat eenvoudig net gedoen moet word. Ek lewer selde kommentaar en lag net in my mou ... as jy gedink het daar is Tokkelossie stories rondom Suurdeeg Brood bak ... wel, trek vas jou kousbande ... die stories rondom konfyt is nog meer vergesog en skrikwekkend.

Laat ek dit gou duidelik maak ... die metode wat ek vir julle hier gaan beskryf het ek reeds suksesvol gebruik vir Appelkose, Perskes, Tamaties, Suurlemoene, Guava en Lemoene. So, jy gaan die een storie lees en dan gaan jy bykans al die lekker konfyte self maak. Vye konfyt is anders en so ook Waatlemoenkonfyt.

In konfyt kook is daar so paar basiese dinge wat moet gebeur anders is die resultaat nie goed nie. Hier is die "Pressure points" soos die Masterchef mense sou sê ...

1. Jy moet al die water uit die vrugte kry.
2. Moenie dat die mengsel kook voor die suiker nie opgelos is nie.
3. Moenie die konfyt te donker laat word nie.
4. Kry die "set point".

Die 4 punte is waarom konfyt maak draai en ek gaan jou vertel hoe om dit te behaal sonder om mal te word agter die potte.

Bestandele:

1 kg Vrugte - Appelkoos, Perske, Tamaties, Guava, Suurlemoene, Lemoen
750gr tot 850gr Suiker (Jy kan dit kies afhangend van hoe soet jy die konfyt wil hê.)
125ml Vars suurlemoensap
1 tot 3 teelepels growwe sout. (Ek gebruik gewoonlik so 2 teelepels.)

Heel belangrikste is die suiker verhouding tot die vrugte - 75% tot 85% Jy kan self bietjie eksperimenteer met bruinsuiker, dit gee 'n heerlike karamelsmaak wat lekker is met Tamatie en Suurlemoen.

Hierdie is die basiese resep vir al die konfyte en dit is hoe ek die meeste van my konfyt maak.

So werk die lepel vir oorkook
Jy kan nou verder gaan en allerhande speserye byvoeg ... Chili Flakes by die Tamatie, Gemmer by die lemoen en suurlemoen, ster anys by die perske ... eksperienteer na hartelus maar maak eers een pot sonder al die byvoegings.

In die verlede het ek my perskes afgeskil soos my ouma dit gedoen het tot ek op 'n dag die klomp perskeskille afsonderlik gekook het en fyn geklits het met 'n stick blender en besef het dat daar 'n helse klomp smaak in daardie skille is ... toe stop ek om my perskes af te skil.

Deesdae was ek my vrugte mooi in louwarm water en die perskes skuur ek skoon met 'n skottelgoed sponsie ... daai hare is nie lekker of mooi in jou jêmpot nie.

Hierdie skif skep jy af
Appelkose breek ek net in die helfte en dis al. Perskes sny ek van die pit af en sny in repies, nie te dun nie, so dik soos 'n potlood min of meer. Tamaties sny ek in blokkies so min of meer so dik soos my duim. Guavas sny ek in skywe, so 4 of 5 per vrug en dan sny ek die skywe in kwarte. O ja, guavas skil ek af met a groente skiller vir konfyt, vir chutney los ek die skille aan. Lemoene en suurlemoene skil ek af en sny in skywe en dan sny ek die skywe in kwarte.

En dis wat ek doen vir die voorbereiding.

Nou benodig jy 'n bak van 5 liter. Dis belangrik dat die bak al die vrugte en die suiker kan hou.

Weeg jou vrugte en gooi dit in die bak. Weeg nou die suiker af en strooi dit bo-oor die vrugte sodat jy al die vrugte bedek. Sprinkel die sout nou oor.

Skil Guavas
As ek perskes kook gooi ek ook die pitte in die bak want daai vleisies om die pit kook lekker saam met die konfyt en is as kind was dit soos lekkergoed vir ons.

Met appelkose tel ek gewoonlik 12 pitte uit en gooi dit in saam met die vrugte. Die rede hoekom ek dit tel is sodat ek weet hoeveel ek moet soek voor ek die konfyt bottel. Die pitte gee smaak aan die konfyt.

Maak nou die bak toe. Ek maak dit gewoonlik toe met kleefplastiek.

Laat staan nou die bak met suiker en vrugte vir 12 tot 18 ure. Hoe langer hoe beter.

Guava konfyt
Ek glo die meeste mense kan onthou hoe die oumense se konfyt kokery 'n lang en irriterende kookproses was, ure en ure op die stoof met die onafwendbare oorkokery of aanbrandery. En dit is wat die meeste mense afsit om konfyt te kook.

Nou die rede vir die helse lang kokery is om die water uit die vrugte uit te kry en as jy nou bytel die water wat in die pot gegooi word in die begin om die kokery aan die gang te sit dan sit jy met 'n moerse klomp water wat uitgekook moet word en dis hoekom dit ure en ure gevat het.

Die vrugte wat jy nou onder die suiker toegegooi het gaan nou deur 'n natuurlike proses van ontwatering. Die suiker gaan elke druppel vog uit daardie vrugte trek en sodoende die basis vorm vir die suikerstroop. Die heel belangrikste is dat daardie vog is vol van die vrugtegeur wat onmiddelik jou stroop 100de maal meer geurig maak as gewone water. Veral die perskes gaan aan die einde van die 18 ure baie dun lyk. Moenie stress nie ... sodra jy begin kook gaan die perske stukkies weer lekker opswel.

Dis hoekom ons konfyt kook
Na 6 ure roer ek gewoonlik die bak vrugte en suiker met 'n houtlepel. Daar is nou baie vog in daai bak en jy begin 'n stroop vorm. Die roer verseker dat daar nie vrugte stukke bo-op die stroop dryf en nie ordentlik ontwater nie.

By 18 ure sal jy vind dat 'n groot klomp van die suiker reeds opgelos het in die onttrekte vog. So die natuur het die grootste deel van die kook werk vir jou gedoen sonder enige kokery en jy het baie minder water om mee te begin.

Nou kom ons by die regte kokery en ek het vir myself 'n ordentlike konfytpot gekoop. Die belangrikste van die konfyt pot is dat dit 'n lekker dik bodem moet hê anders gaan jy jou konfyt maklik aanbrand.

Tweedens moet hy groot genoeg wees anders gaan jou konfyt oorkook. My pot is 8 liter.

Nog 'n "SetPoint" toets
Roer jou suiker vrugte mengsel goed om meer suiker op te los en gooi die mengsel in jou pot. Gooi nou a halwe koppie water, 125ml in die bak en spoel die oorblywende suiker uit in die pot in. En dis jou mengsel waarmee jy begin.

Nou moet jy jouself kalm kry en staan maar en droom daar by die stoof. Jy moenie die pot alleen los en ander dinge doen nie. Pas hom op ... dis ongeveer 30 tot 45 minute wat jy nou insit vir baie lekker konfyt. 'n Klein opoffering om te maak in tyd.

Sit die plaat op medium hitte en roer die mengsel gereeld. Jy moet baie seker maak al die suiker is opgelos VOOR die mengsel begin kook. Dit vat so 5 tot 10 minute. Sodra die suiker opgelos is, dan draai ek die gas vol oop en roer bykans voortdurend. Binne 5 minute begin die mengsle lekker borrel en kook en begin skuim maak. Nou stel ek my horlosie vir 15 minute.

Perske konfyt
Ek lê 'n groot houtlepel oor die pot, klink na 'n ouvrou storie maar glo my vry, dit keer dat die mengsel sommer oorkook.

Jy gaan spoedig sien dat daar baie skuim begin vorm en kwaai opstyg. Roer hom maar plat ... moenie nou die storie volg van "SKEP DIE SKUIM AF NIE" ... daardie skuim bevat die oorgrote meerderheid van jou konfyt se smaak ... hanteer dit ... of skep maar af as jy smaaklose winkel konfyt wil hê. Die skuim word gevorm deur die stoom van die water wat uitkook en is deel van die proses. Aanvanklik sal die skuim baie lig wees maar namate die stroop verdik sal die borrels al groter word.

Pasop tydens die wilde kokery ... die onderste laag van die konfyt is baie warmer as die bolaag en sodra jy die lepel insteek om te roer gaan daardie warm laag basies ontplof soos jy die stoom vrylaat en die pot gaan woes borrel en spat. Glo my vry dat daai konfyt spatsels brand kwaai waar dit jou vel tref.

Die resultaat
Na 15 minute gaan die alarm af en nou draai ek die plaat af na medium.  As jy haastig is en nie die plaat afdraai nie kan jou konfyt baie donker word. Tydens die 15 minute het dit 'n paar keer gelyk of die pot gaan oorkook. Nou sal die pot kalmeer.

Roer nou die suurlemoensap by. Op die stadium sal jy nou sien die skuim is baie minder maar daar begin sulke dik duidelike digte skuim kolle en strepe op die konfyt vorm. Ek skep dit versigtig af met 'n grootlepel wat ek 90 grade gebuig het. Hierdie dik "skif", soos my ouma dit genoem het, kan jy gerus afskep want dis meesal onsuiwerhede wat op die vrugte was ... dit is ook soms duidelik olierig ... dis die was wat die verpakkers op die vrugte spuit en jy wil dit nie in jou konfyt hê nie.

Soet Lemoen konfyt
Nou kom ons by die plek waar jy die "set point" moet kry. Nou daar is baie stories oor dit en die mees algemene een is om van die konfyt op 'n koue piering te skep en dan die plassie met jou vinger te stoot om te sien of hy rimpel. Ek het gevind dis te omslagtig en nie baie betroubaar nie.

Vou 'n vel handoekpapier dubbel en sit dit op 'n klein bordjie. Plaas die bordjie op die stoof naby jou pot.

Ek stel nou my horlosie vir 5 minute. Sodra die klokkie afgaan roer ek die pot goed en sit so blertsie van die konfyt op die papier. Jy sal duidelik sien hoe die papier die water opsuig ... solank daardie blertsie 'n duidelike nat rand maak is die konfyt nog nie reg nie. Toets elke 5 minute. So by die 3de of 4de een gaan jy sien die konfyt druppel bly meer droog. Die toets is 10 sekondes ... as die randjie droog bly vir 10 sekondes is jou konfyt reg en jy kan maar die plaat afsit.

Vrugte onder die suiker
As jy pitte ingesit het moet jy dit nou uithaal. As jy wil kan jy nou so eetlepel vol goue stroop bymeng, net so bietjie ekstra versekering teen sandsuiker.

As jou konfyt ooit versandsuiker in die bottel ... moenie stress nie ... skep die bottel uit in 'n glasbakkie ... roer een eetlepel vars suurlemoensap by en blits in die mikrogolf oond vir 1 minuut ... roer mooi en blits weer. Blits dit 5 keer vir een minuut en roer. Bottel weer.

As ek perske konfyt kook laat ek die pot nog 5 minute kook na die laaste toetsie. Dit gee vir jou sulke lekker taai "rek en trek" perske konfyt. Moenie te vêr gaan nie want dan gaan die konfyt tammeletjie maak in jou bottels en jy gaan dit nie maklik uitgeskep kry nie. Ek maak sulke taai perske konfyt om in my beskuit te gebruik.

Suiker doen sy werk
Daar het jy dit ... al die "Pressure Points" gehanteer in niks langer as 40 minute nie. Suiker was opgelos voor jy kook, pot het nie oorgekook of aangebrand nie en jy het die perfekte "SetPoint".

Nou vir die bottel. Spoel jou flesse uit met warm water en sit net so nat in die mikrogolf vir 3 minute. Kook 'n ketel water en sit 'n glas bak by jou op jou werksplek.

Haal die bottels uit die mikrogolf en keer om op 'n vadoek om enige water wat nog in mag wees uit te laat.

Skep nou jou bottels vol ... ek het so lekker wye bek tregter gekoop om te help.

ManKos ... Brood en konfyt
Sit die deksels in die glasbak en gooi die kookwater op dit. Ek haal die deksels uit met 'n vurk en tik die water af op papierhandoek. Draai die deksels op en laat staan nou om af te koel.

En dis hoe maklik konfyt kook is.

Dis ook relatief spotgoedkoop gemeet teen gekoopte konfyt.

Hierdie storie is saamgestel uit dure ondervinding en dinge wat ek by my ouma, my ma, Helena Kruger, Daleen Brits en by Annelien Pienaar geleer het.

Regte ManKos ... Brood en Vleis
Ek glo ook dat omdat mans gewoonlik erg oor konfyt is, is dit niks minder as reg dat hulle die konfyt kook nie. Trek jou man nader en laat hy lees en moedig hom dan aan om dit te doen. Baie van julle gaan frons omdat ek dalk te min suiker gebruik, maar ek doen dit so want ek wil ook die vrugte proe. Meeste mense reken jy moet die suiker netsoveel as die vrugte maak ... ek doen nie.

Daar is mense wat jou vertel jy moet botter ingooi om die skuim te keer ... hmmmm ... ek sê liewer niks want dit sal onbetaamlike woorde wees. Die hele skuim proses is deel van die wiskunde om die water uit te kry. Bestuur dit net behoorlik want dit moet gebeur.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.